Die Sederbergse Olifantsriviervallei in die Winter

Posted on August 13, 2015 by Cape Rebel

Uit The Valley 
deur C Louis Leipoldt

En met die winter kom die reëns – die gestadige misreën begin in die oggend en hou regdeur die dag aan, deurweek die harde, skalieagtige klei, dring deur die droë, gekraakte Karoo-aarde en die laag los grond op die oppervlakte, afkomstig van die verweerde sandsteen, en bring daarmee saam nuwe lewe aan die saad wat sluimerend daar onder op die warmte van die lente wag om te ontwaak en te ontluik in ’n lewe van bloeisel en blom. En so ook kom die onstuimige oostewind wat in die nag, al loeiende deur die blaarlose bome soos verlore siele wat aandring op verlossing, die lemoen- en suurlemoenboorde skud dat die jong vrugte die rooi grond soos ’n groen tapyt onder die bome bedek – ’n patetiese, treurige gesig vir die boer. En dan uiteindelik, amper wonderbaarlik skielik, in die tydsduur van ’n nag en ’n dag, kom die lente, skitterend vars en grasgroen, keurig geparfumeer met die sagte geure van jong blare en botsels van aromatiese berg- en veldplante, wat alles wat dit aanraak in ’n tuin verander, en só ongenoemde glorie onthul in wat ’n week gelede soos ’n woesteny gelyk het.

Want dit was een van die eienskappe van die vallei – sy skielike natuurlike woelinge, sy merkwaardige spronge wat lewe bring en dan steriliteit. ’n Koue wind, al sleurende deur die bergpoorte, kan die teer en delikate uitspruitsels van die adenandra-boegoebosse laat verwelk, en hulle verdof tot iets triestig en vaal. Maar so ’n effe van ’n warmte na die winterreëns sal ontelbare surings voortbring en die veld vir ’n rukkie vrolik en veelkleurig maak. ’n Hittige windvlaag in die somer egter sal dit so skroei dat die lower hulle onderkant sal wys en die hele heuwelhang bleek en kaal laat lyk, en in die middel van die somer sal die veld dorder voorkom as ’n woestyn. Terwyl dit moeilik sal wees om in die lente ’n vierkantduim te vind wat nie deur ’n nabygeleë blom deurgeur is nie of wat nie ’n aanliggende blaar se skadu benut nie. 

In die winter het die berge hulself versluier, veral in die vroeë oggende, in newels van grys en perlemoen. Slegs so teen die middag se kant wanneer die son intenser geword het, het die mis stadig, onwillig weggedryf in yldun wolkflarde wat om die dale en beboste klowe rondgehang het, waar hulle omlynings skerp afgesteek het teen die lug. Gewoonlik was net die hoogste pieke sneeubedek, maar dit het al gebeur dat sneeu tot in die laagliggende glooiinge neergesak het, en tradisie weet te gesê het dat daar ’n seisoen was dat dit selfs op die walle van die rivier geval het, sodat die lammertjies onberekenbare skade aangedoen was. Dit was egter in die verre verlede en slegs van die oudste inwoners kon dit onthou, en hulle het verkies om te vergeet dat hulle dit daar gesien het. Op die bergpieke egter was sneeu iets anders. Dit was iets wonderliks om te aanskou, hoewel slegs ’n paar mense die moeite gedoen het om op te klim om daaraan te vat om sodoende gesaghebbend te kan sê hoe dit gevoel en gelyk het. Sommige egter, soos die magistraat en die predikant wat al na vreemde plekke heengereis het, waar die sneeu inderdaad op die grond geval het en mense met hulle sleë daaroor gegly het en die kinders mekaar met sneeuballe bestook het, het alles daarvan geweet, en die vallei het dit so aanvaar soos dit met baie ander dinge gedoen het – met ’n filosofiese kalmte wat amper op ’n gebrek aan belangstelling neergekom het, ’n verdraagsame glimlag wat meer hoflik as nuuskierig was.

Posted in Afrikaans


Next

Previous