Woestynvisvanger

Posted on July 31, 2015 by Cape Rebel

Uit Eastern Approaches 
deur Fitzroy Maclean

Op pad na die adjudant-generaal se tak van die algemene hoofkwartier, het ek vir David Stirling raakgeloop. Hy was ’n tweede luitenant in die Scots Guards, en ek en sy broer Peter, daardie tyd die sekretaris by die ambassade in Kaïro, was ou vriende. David was ’n lang, donker, stewig geboude jongman. Wat hy in die mou gevoer het, was gewoonlik onduidelik, maar hy was soms op en wakker en besonder paraat. Hy het my gevra wat my planne was, en voorgestel dat ek by die spesiale lugdiensbrigade (die SAS) aansluit. “Wat is die SAS?” het ek gevra. Hy het verduidelik dat dit nie eintlik ’n brigade was nie, maar meer soos ’n peleton. Hulle het dit slegs ’n brigade genoem om die vyand te verwar. Maar dit was iets goeds om deel van te wees. ’n Maand of twee gelede, na die kommando, waarmee hulle saam na die Midde-Ooste gekom het, ontbind het, het hy en ’n paar vriende die SAS op die been gebring. Daar was toe omtrent ’n halfdosyn offisiere en twintig of dertig ander manskappe. Hy is bevorder tot die kaptein en bevelvoerder van die SAS en moes direk verantwoording doen aan die opperbevelhebber. “Wat beteken ‘spesiale lugdiens’?” wou ek weet. Hy het verduidelik dat dit beteken dat almal valskermopleiding moes ondergaan.

Dit het belowend geklink. Ek het gesê dat dit heel aangenaam sou wees om aan te sluit.

~

Om met ’n valskerm te spring was slegs deel van die opleiding. Tot dusver het die SAS slegs een valskerm-operasie onderneem, en dit was alles behalwe ’n sukses. Hulle is op die verkeerde plek laat spring en het moeite gehad om by hulle doelwit uit te kom. Daar was oneindige probleme en verskeie van die manskappe het omgekom. Hulle aansien by die hoofkwartier het erg gedaal. David het tot die gevolgtrekking gekom dat, om met ’n valskerm in die woestyn te spring, nie juis die beste manier was om jou teiken te bereik nie.

Die oorlewendes van die eerste operasie is deur die langafstand-woestyngroep (die LRDG) opgepik. Dit was ’n spesiaal toegerus en opgeleide eenheid wat die vorige jaar hoofsaaklik vir verkenningsdoeleindes gestig is. Die patrollies, wat bestaan het uit ’n halfdosyn vragmotors wat hulle eie water en petrol saam moes karwei, het ver in die uitgestrekte eindeloosheid van die waterlose woestyn inbeweeg. Die dorre landstreek het vir honderde myle suid van die relatiewe smal kusstrook, waar die woestynoorlog gewoed het, gestrek. Dus het hulle rondom die flanke van die twee weermagte beweeg en weer myle agter die vyandelike linies opgedoem. Daar het hulle weke lank met hulle gekamoefleerde trokke gebly en die vyandelike troepbewegings dopgehou. Só kon hulle lewensbelangrike inligting bekom. Die woestyn, veral daardie deel wat veronderstel was om vyandelike terrein te gewees het, het vir hulle ’n tweede tuiste geword.

Dit was nodig vir die LRDG om ons terug te besorg (die gedagte dat ons “vervangbaar” of ’n “kamakazi-eenheid” was, is deur almal wat daarmee gemoeid was, sterk afgekeur). Waarom, was David se vraag, kon ons nie gebruik maak van hulle trokke om ons na die toneel van die voorgenome operasie te neem nie, of ten minste tot by ’n plek waarvandaan die teiken wat aangeval moes word, te voet bereik kon word? Dit sou veiliger, geriefliker en, bowenal, ’n meer praktiese manier wees om ons bestemming te bereik as om met valskerms te spring. Dit sou verder nie te veel tyd in beslag neem nie, want, indien nodig, kon die LRDG groot afstande baie vinnig aflê.

Na dese het die LRDG deskundige kennis van die woestyn, vaardige navigasie en eersterangse administrasie voorsien – absolute noodsaaklikhede waar jou lewe en die sukses van die operasie daarvan afhang om op die regte tyd op die regte plek te wees, en om genoegsame kosvoorrade, brandstof en water vir die duur van die tog te hê. David se bydrae was die slaankrag wat hy aan dié ondernemings gebring het, en aan die beplanning en uitvoering daarvan – dit wat Lawrence “die irrasionele tiende … soos ’n visvanger wat oor die water flits” genoem het: ’n Roekeloosheid wat nooit misluk het nie, ’n gawe van waaghalsige improvisasie wat die vyand konstant verras het. Die voortspruitende vennootskap was besonder vrugbaar.

Die beste teikens was vliegvelde. Van daar af het die Luftwaffe en hulle Italiaanse bondgenote gereeld ons konvooie aangeval waar hulle hul pad oopgeveg het deur die Middellandse see na Malta, en ook die “Eighth Army” wat teen daardie tyd teruggedryf is tot teenaan die Egiptiese landsgrens. Hierdie woestynlughawens was honderde myle agter die linies geleë en nie sterk bewaak nie: draadversperrings, ’n paar masjiengeweer-wagposte, en net so af en toe ’n patrollie, is beskou as voldoende beskerming. Na deeglike bestudering van die stand van sake, was dit moontlik om onder die dekmantel van die nag deur die draadheining te glip en onopgemerk ladings brisante-springstof aan die vliegtuie, daar waar hulle verspreid op die vliegveld gestaan het, te plak. Dié springstof, wat met brandbomme gemeng was vir beter resultate, is in handige houertjies verpak en voorsien van ’n instrument wat bekend gestaan het as ’n penpotlood. Dit kon gestel word om die lading na ’n tydsverloop van ’n kwartier of ’n halfuur te laat ontplof. Dit het die aanvallers kans gegee om, voor die ontploffing en die alarm gegee is, ’n myl of twee van woestynsand tussen hulle en die vliegveld te plaas. Al wat daarna oorgebly het, was vir hulle om hul weg te vind na waar die LRDG-trokke op hulle gewag het.

Met dié werkswyse het David in die daaropvolgende maande ’n reeks suksesse behaal wat die hoogste verwagtinge van diegene wat die onderneming ondersteun het, oortref het. Die een operasie was skaars afgehandel of hulle was klaar besig met die volgende een. Sodra die vyand bewus geword het van sy teenwoordigheid in een gedeelte van die woestyn en aanstaltes gemaak het met teenmaatreëls, het hy hulle op ’n ander plek aangeval, altyd in ’n gebied waar hulle dit die minste verwag het. Die element van verrassing, die sleutel tot sukses in enige guerrilla-oorlogvoering, was nog nooit briljanter uitgebuit nie. Kort voor lank het die aantal vliegtuie wat op die grond verwoes was, maklik op meer as driesyfers gestaan. Ten einde hulle agterhoede te dek, was die vyand verplig om meer en meer van hulle frontlinietroepe terug te bring. En dit was alles gedoen met ’n handjievol manne, ’n paar pond plofstof en ’n paar honderd patrone.

Posted in Afrikaans


Next

Previous