Uit The Gods of the Morning - A Bird's Eye View of a Highland Year
deur John Lister-Kaye
Terwyl ek van die kraaines af teruggeloop het huis toe, het die onmiskenbare geluid van ’n swerm ganse deur die mistige lug na my toe aangesweef gekom. Ek het gaan stilstaan en met skrefiesoë opgekyk in die metaalvaal toegetrekte lug. Hulle was hoog, net onder die veerwolke so omtrent drieduisend voet; dit het my net ’n oomblik geneem om vas te stel waar hulle was. Daar kon ek hulle sien, in ’n ongelyke V-formasie, gedurig verskuiwend van posisie, fladderend in ’n groot aarselende string van klein silhouette, soos vlieë op ’n hoë plafon.
’n Rilling het deur my gegaan. Nie omdat ek koud gekry het nie – ek was goed toegedraai – maar ’n rilling van ’n diepe bo-sintuiglike eenheidsgevoel. Geen klank in die wêreld, nie eens die rowwe ou musiek van die kraaie nie, ets dieper in my gees in as die amper-histeriese “wienk-wienk”-roepende gansgeluide so almal saam daar hoog bo in die lug. Treurig, stemmingsvol, roerend – en vir my die essensie van die wilde, ongetemde wêreld. ’n Hunkering word in my aangewakker wat voel asof dit trek aan die leiriem van ons langdurige verwydering weg van die natuurlike wêreld af.
Hulle aankoms vroeg in die herfsseisoen, plaas ’n spesiale stempel op die wisseling van die jaargetye, wat weer in die lente herhaal word wanneer die laaste klompie ganse met ratelende vlerke opstyg en noordwaarts wegwentel terug Noordpoolstreke toe na hul broeiplekke. Ek word nooit moeg om te luister na hulle spontane dissonante klanke wat ons gedurende die wintermaande omsluit nie. Dan versamel daar tienduisende wildeganse in die Beauly Firth en daar gaan omtrent nie ’n dag verby dat daar nie ’n swerm oor ons heenvlieg nie. En ook wanneer ons ooswaarts Black Isle toe gaan, is die meeste van die strandvlaktes oorlaai met swerms ganse wat hulle verlustig aan die oesreste en graspluksels.
Dit lyk asof natuurkenners (en miskien nie net dié kenners nie) hierdie geluide nodig het om ons te help om ons hartstogte te eien; om ons te onderrig oor ons opvattings oor die natuur om ons, en om ons te koppel aan ons herkoms.
My ou vriend, Brian Jackman, die gevierde natuurlewe-joernalis wat ’n veertigjarige liefdesverhouding met Oos-Afrika geniet het, vertel my dat, wanneer hy in die nag in die Masai Mara in sy tent wakker lê, dit die gebrul van die leeus is wat dit aan hom doen.
Vir Lennart Arvidsson – van afkoms gedeeltelike Laplander en Fin – die nestor van die Noordpoolse woude, die eerste persoon wat my die lynxes-voetspore in die Sarekse sneeu gewys het, is dit die lang, uitgerekte stygende en dalende gehuil van die gryswolf op ’n maanlignag.
Jane Goodall verseker ons dat dit nog steeds, na hulle haar ’n halwe eeu gelede wêreldberoemd gemaak het, die geroep, geskree en die hygende geluide van ’n trop sjimpansees is, diep die woude in, wat haar bloed laat tintel.
Die natuurlewe-televisiekameraman, John Aitchison, vertel dat, na hy die hele wêreld platgereis het, dit die geroep is van die waadvoëls, groenpootruiters en veral die grootwulp op ’n fris, vroeë lente-oggend op die Skotse soutmoerasse by sy tuiste in Argyllshire, wat sy nekhare laat rys.
En Roy Dennis, my ornitoloog (en in alle opsigte briljante natuurkenner) kollega en vriend van meer as veertig jaar, het my op ’n slag vertel dat die gesamentlike fluitroepe van tienduisende gewone kraanvoëls, wat op die vleiland-steppe van Hortobágy-Halastó in Hongarye saamgetrek het, vir hom ’n oomblik van ware gedaanteverwisseling was.
My ganse en my rilling gaan saam verby. Dit is herfs, laat-herfs, en die winter bekruip ons nie meer so onopgemerk nie. Dit het ons uiteindelik in sy kloue. Ek weet die ryp sal vannag dik lê. …
Met my terugkeer huis toe, merk ek die rook van ’n houtvuur by die skoorsteen uitpluim. Lucy het die kaggel in die sitkamer brandgemaak, wat ’n gloed in my hart en ’n glimlag op my tintelendegesig bring. Soos die nag om ons toevou, gaan ek my ou leunstoel opsoek met ’n boek in die hand. Die Jack Russels sal gaap en sug terwyl hulle hulself uitstrek op die mat by my voete. Die winter bied sy eie seëninge.
Next →
← Previous