Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Valsbaai is ’n gepaste benaming. Anders as Tafelbaai aan die anderkant van die Kaapse skiereiland, is dit ’n verraderlike stuk water – doodkalm een oomblik en dan skielik het woeste suidoosters so reg vanuit die suidpool gestormwaai. Die hemelhoë golwe het gesweepslag en alles aan boord het van reling tot reling met harde slae gekletter en gegalm, en ’n mens moes sonder versuim blitsig skarrel vir skuiling.
Die mond van die baai is dertig myl breed, en van Kaap die Goeie Hoop tot by Hangklip is dit wyd genoeg vir reusagtige golwe om in te rol. Goeie stuurmanskap was noodsaaklik om dié see se stormagtige mag in ’n oop boot te navigeer.
Maar dit was nie altyd sulke onstuimige weer nie, en die dae wat vir my uitstaan, was toe ons met die oggendstond op ’n doodkalm en rustige baai uitgevaar het. Soos die mis stadig gelig het, het ons groot swerms malgasse, seeswaels, seemeeue en kormorante gesien wat agter die sardientjies aan die see ingeduik het. Die duikslae van die voëls het die water laat woel en spat soos ’n bombardement in Frankryk.
Te midde van die rumoer het skole dolfyne, ’n walvis of twee, en robbe, pikkewyne en haaie meegedoen. So ’n skouspel moes seker ongeëwenaard in die wêreld gewees het. Toe het die tyd gekom dat ons ons lyne uitgegooi en pragtige groot visse ingetrek het – geelbek, kabeljou, steenbras en vele ander, hulle gewig enigiets tussen vyftien tot vyf en dertig pond of meer. Lateraan sou ons vingers lam en dom word, met die boot wat laag in die see sou lê met die gewig van ons vangs.
Dit was ons gewoonte om op Lucky Jim uit te gaan. Dit was ’n elftonner wat aan ons vriend mnr. Jim Taylor, wat ook bekend was as die “Grand ou Kêrel van Valsbaai”, behoort het. Hy was ’n ryk man, maar ook besonder goedgeaard en heel liberaal en verdraagsaam wat betref Suid-Afrikaanse aangeleenthede. Sy kennis van die baai was sonder gelyke. Wanneer die wind en die weer dit ookal toegelaat het, het hy ons saam met hom geneem, en baie aangename ure het ons só saam deurgebring.
Die vistermanne van Valsbaai was enig in hul soort, meestal Bruinmense met ’n titseltjie Maleise bloed in hul are, en hul lewenswyse was soos Captains Courageous en die Newfoundland Banks.
Die gierende storms het dit baie maal onmoontlik gemaak om met mekaar te praat, en so het hulle ’n gebaretaal van hulle eie ontwerp. Dit was net vir die uitgesoektes en jy moes eers ’n lid van die losie word, as mens dit so kan noem, dat hulle jou as ’n buitestander sou inlaat in dié verborgenhede. Mnr. Taylor, ek en my seuns, Jan en Michael, is aanvaar as behorende aan die boot, en ons het die kabbala van die baai geken. Soos ons verby ander bote gevaar het, het ons ons voorkoppe aangeraak, óf die linkerwang, óf die regter, óf die lip, óf die ken. Ons kon drie sny-bewegings oor die arm maak, óf ons visgerei omhoog hou óf laag laat sak – die gewrig so buig asof ’n makriel uit die lewe gehelp word, of om met die arm ’n sirkelbeweging uit te voer – en die manne daar aan anderkant van die water sou verstaan watter vis aan die loop was, die nabyheid van die naaste bank, óf ’n rob óf ’n haai met ons lyne gepeuter het, en ook hoe laat dit was.
Die vissers het so gewoond geraak aan hulle alfabet dat selfs as ’n man in die hawe sou vra vir ’n vuurhoutjie vir sy pyp, óf vertel hoe dors hy het, óf verduidelik dat hy van plan was om te gaan inkruip, hy dit sou doen met ’n handbeweging veel eerder as mondelings.
Valsbaai het ’n rustige toevlugsoord vir my geword, weg van die parlement se geredekawelry, en vir my seuns ’n groot bron van belangstelling.
Next →
← Previous