Uit Kommando
deur Deneys Reitz
Ons het in die Oranje Vrystaat gewoon.
My pa was die hoofregter in sir Jan Brand se tyd en vervolgens, in 1887, is hy tot President van die Republiek verkies.
Ons huis was in Bloemfontein, die hoofstad van die Vrystaat, en hier het ek en my broers grootgeword. Daar was vyf van ons, twee jonger en twee ouer as ek, en ons het ’n aangename, Tom-Sawyer-soort van bestaan geniet soos maar min seuns vandag die geleentheid kan hê. Ons het geleer om perd te ry, te skiet, en om te swem amper so gou as wat ons kon loop. Daar was ook ’n klomp geharde Basoeto-ponies in die stalle waarop ons soms vir weke aaneen die wêreld ingevaar het. Bedags het ons oor velde gery waar dit van wild gewemel het en snags het ons onder die sterrehemel geslaap. Ons het na hartelus gejag, visgevang en gekampeer en eers weer teruggekeer huis toe wanneer ons genoeg gehad het.
Soms het my pa ons saam met hom geneem op sy lang toere na afgeleë plekke waar daar nog meer jagtogte en kampering was, en daar was groot wapenskoue wat die Boerekommando’s ter ere van my pa gereël het.
Ons klein landjie was ’n modelstaat. Daar was geen politieke partye nie en, tot na die Jameson inval, geen kwade gevoelens tussen die Afrikaners en die Engelse nie. Daar was nie spoorweë nie, en die rumoer van die wêreld daar buite het ons later maar skrapsgewys bereik. Op ons stil manier was ons volkie tevrede en gelukkig so honderde myle afgesonder van die naaste kus af.
In 1894, toe ek twaalf jaar oud was, is ons Europa toe geneem. Dit was ’n wonderlike ervaring vir ons seuns wat in die binneland gebore en grootgeword het, om kus toe te reis, om oor die oseaan met ’n skip te vaar, en om die baie mense en stede van die ou wêreld te sien. Ons het eerstens Engeland toe gegaan waar ons ’n rukkie in Londen gebly het en ons verstom het aan die dinge wat ons gesien het. Daarna na Amsterdam, waar ons die ouer tak van ons familie besoek het wat in Holland agtergebly het toe ons voorvaders lank gelede Suid-Afrika toe geëmigreer het. Die ou stamvader het in ’n huis aan die Heerengracht gewoon; ’n ryk man oënskynlik, want hy het baie bediendes gehad en daar was pragtige skilderye aan sy huis se mure.
Aangesien ons Republiek sy naam van die Huis van Oranje ontleen het, is my pa goed ontvang deur die klein koningin van die Nederlande en die hof en mense het ’n ophef van ons gemaak. Vervolgens het ons Parys toe gereis om Casimir-Périer, die nuut verkose President van Frankryk te ontmoet. Hy het ons na die graf van Sadi Carnot, sy voorganger, geneem om daar ’n krans te lê. Hy is kort tevore deur ’n anargis by Lyons vermoor. Vandaar het ons Brussels toe gegaan om Monsieur Jesslein, ons konsul, te besoek. Sy huis was in die Rue de la Blanchisserie geleë en hy het ons vertel dat dit die huis was waarin die hertogin van Richmond haar beroemde bal gehad het op die vooraand van Waterloo. Ons is voorgestel aan Koning Leopold, ’n ou man met ’n krom neus en ’n lang wit baard. Hy het net sy pinkie uitgesteek om ons te groet, miskien omdat ons net aan ’n republiekie behoort het.
Van België af het ons Hamburg toe gereis om van daar af per skip oor die Noordsee na Edinburgh toe te vaar, en van daar af het ons die Cathcarts by Auchindrayne op die Doonrivier besoek. My pa het regte in Skotland studeer en my oupa voor hom, weer landbou. Hulle het altwee heelwat tyd op Auchindrayne deurgebring. Dit was my pa se wens dat sy seuns daardie tradisie van vriendskap, wat reeds vir amper ’n honderd jaar die twee families verbind het, sou voortsit.
My oupa het vir die eerste keer in 1816 Skotland toe gegaan. Hy het sir Walter Scott, die groot skrywer, goed leer ken nadat hy vir hom ’n leeuvel gevat het wat die digter Thomas Pringle uit Kaapstad vir hom gestuur het. Op geleenthede later in Suid-Afrika het hy daarvan gehou om te vertel van hulle ontmoetings en van die banket waarop hy teenwoordig was toe Scott vir die eerste keer erken het dat hy die skrywer was van die Waverley-romans. Beide my oupa en my pa het teruggekeer Suid-Afrika toe met ’n ware liefde vir Skotland en die Skotse literatuur. Tuis by ons huis het daar amper nie ’n aand verbygegaan sonder dat daar uit Burns of Scott gelees was nie. Dit was asof ons tussen ons eie mense was.
Van Auchindrayne af het ons Londen toe gegaan om sir George Grey te ontmoet. As vroeëre goewerneur aan die Kaap, was hy vir jare lank al ’n vriend van my pa. My pa het altyd gesê dat, as die Engelse meer mense soos hy Suid-Afrika toe gestuur het, ons geskiedenis ’n baie gelukkiger verloop sou geneem het. Alhoewel ek net ’n seun was en sir George Grey ’n baie ou man, het hy ’n diepgaande indruk op my gemaak. Hy het iets soos ’n innerlike skoonheid gehad – moeilik om te beskryf, maar wat ek nooit vergeet het nie.
Van Londen af het ons teruggevaar Suid-Afrika toe.
Met ons terugkeer is ek en my broers soos pelgrims wat veilig van Mekka af teruggekeer het, ontvang deur ons minder bevoorregte maats. In daardie dae, het ons reis vir hulle na so ’n gewaagde onderneming gelyk.
Ons het ons sorgvrye lewe weereens hervat, totaal onbewus van die storm wat aan die broei was tussen die wit rasse in Transvaal.
Next →
← Previous