Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Aan die begin van 1925 het ek Duits-Suidwes-Afrika om sakeredes besoek. Dit is die grondgebied wat ons in 1915 binnegeval en oorgeneem het.
Dis ’n groot en dorre land. Dit strek van die Oranjerivier in die suide tot by die Kunene-rivier, agthonderd of ’n duisend myl na die noorde, en van die weste na die ooste lê dit tussen die Atlantiese oseaan en die Kalahari-woestyn, vierhonderd myl breed.
Ek moes eers met die trein Windhoek toe ry. Dis die hoofstad, waar ek verskeie sake met die amptenare by die Tinten Palast (regeringsgeboue) bespreek het, en toe het ek teruggery Rehoboth toe om ’n beweerde goudontdekking te ondersoek.
Nege jaar tevore was ek hier onder omstandighede wat heel anders was. Gedurende die 1915 veldtog was ek en ’n groep makkers warm op die hakke van die terugvallende Duitse troepe. Ons het naby die spoorlyn gehou met die hoop dat ons water by die stasies en sylyne kon opspoor, maar die putte, boorgate en tenks is alles deur hulle met dinamiet verwoes.
Teen die middag van die tweede dag was ons in ’n benarde situasie. Ons waterbottels was leeg, en ons het reeds te ver gevorder om om te draai. Ons sou van die dors omkom voor ons die naaste water kon bereik, en vorentoe sou ons verseker niks kry nie, so deeglik was die vernietigingswerk wat ons teengekom het.
In die hitte het ons voortgestrompel met droë en opgeswelde tonge. Die wete dat die vooruitsig op water heel gering was, het ons lyding vererger.
Teen die aand toe ons so te sê geen uithoudingsvermoë oorgehad het nie, het ons op die wrak van ’n stoomlokomotief in ’n rivierbedding, waar die Duitsers dit verwoes het, afgekom. Dit was ’n bestiering dat ons in die hoek van die stoomketel ’n paar gallon ongestorte water gevind het. Dit het ons lewens gered, en ons kon aangaan tot by Rehoboth waar ons die volgende oggend nog water in ’n kleiner stoomlokomotief, wat in ’n loods misgekyk is, ontdek het.
Nou het ek hier met ’n lang glas yskoue bier op die hotelstoep gesit, terwyl ek teruggedink het aan die groot droogte van voorheen op daardie plek.
In die jagterskamplewe is sop een van die gewildste geregte wat saam om die kampvuur opgeslurp word. Nêrens het ek beter kampsop geproe as in die laeveld op ’n bosveldkamp waar die jagters hul werk goed verstaan nie.
Sulke kampsop is eintlik iets meer as gewone sop.
Carême, een van die grootste deskundiges in die geskiedenis van die kookkuns, beweer – en ek dink hy het heeltemal gelyk – dat sop slegs as ’n voorafgaande prikkel vir ’n maaltyd moet gebruik word. Dus behoort dit volgens hom te bestaan as ’n dun, liefs helder, oplossing van die groente- of vleissappe waaruit dit gekook word. Vleis-ekstrak het ’n prikkelende werking op die slymvlies van die maag, net soos ’n kelkie goeie sjerrie. Dit bevorder die eetlus en ook die spysvertering, al het dit op sigself geen groot voedingswaarde nie. Jy kan voedingswaarde daaraan gee deur dit te meng met meel, melk, wyn of enigiets anders wat voedingswaarde het, maar ’n oplossing van vleis- of groente-ekstrak is nie eintlik voedsel nie. En as dit met kos aangevul word, soos in dik sopsoorte, dan word dit ’n gereg wat nie slegs as ’n stimulerende voorbereiding vir die maaltyd moet dien nie, maar as ’n gedeelte van die maaltyd self wat dan gebruik word net so veel vir sy koswaarde as vir sy smaaklikheid.
Hierdie beskouing van sop word nie gedeel deur die Chinese kokke nie, wat soms ’n voedsame sopsoort nie voor die ander geregte nie, maar tussenin of daarna bedien. En hulle sou saamstem met my dat ’n jagterskampsop dan ook die geskikste is vir ’n aandete op die ope veld.
So ’n sop kook stadig maar gedurig die hele liewe lange dag. Vroeg in die môre word die groot ysterpot gevul met water. Daarin kom net watter soort groente daar beskikbaar is, gewoonlik aartappels, uie, droë boontjies, lensies of ertjies, en wat daar van die jagtersbuit oorbly in die gedaante van bene, met nog ’n goeie porsie wildvleis daaraan. Sout en peper kom vroegtydig by; ander spesery is daar gewoonlik nie voorhandig nie, ofskoon iemand wat goed bekend is met die boswêreld die kampsop nog baie geuriger kan maak deur byvoeging van sommige van die blare en kruie wat gewoonlik in die onmiddelike omtrek van die kampeerplek ingesamel kan word. Daar groei ook ’n paar wortels wat kan meedoen.
Die sop kook stadig en word van tyd tot tyd omgeroer met ’n lepel of ’n skoon stuk doringhout. ’n Beskaafde kok sal ook probeer om die skuim en veral die vet wat bo swem, af te neem, maar dit word volgens my ondervinding nooit gedoen nie, en juis daarom is die resultaat, as jy dit in die aand eet, so besonder kragtig en smaaklik.
Dit is ’n dik, brei-agtige sop, wat bedien word met die murgbene en die vleis saam, en dit is ’n maaltyd op sigself. Na ’n kommetjie daarvan is dit skaars nodig om die gebraaide wildvleis, wat gewoonlik daarop volg, aan te raak, want dit is so voedsaam dat niks anders nodig is nie as die gebruiklike “aposteltjie” met die koffie en daarna jou pyp.
5 April 1946
Die Berg spreek nie alleenlik van ewige grootsheid nie. Vir ons het dit aansienlike historiese en geestelike betekenis. Dit staan soos ’n Leer van die Lewe. Nee, eintlik meer as dit, staan dit as die groot leer van die Siel en op ’n manier die bron van aanbidding. Vandaar het die Wet gekom, vandaar het die Bergpredikasie gekom. Ons kan werklik sê die hoogste godsdiens is die Godsdiens van die Berg.
Wat is daardie Godsdiens? Wanneer ons die kruin van die berg bereik, laat ons al die swaarhede daar onder, daardie dinge wat swaar weeg op liggaam en siel. Daarbo ervaar ons ’n nuwe vryheid, groot uitbundigheid, ’n verheerliking van die liggaam so groot soos ons verheerliking van die siel, omdat ons al ons gevoelens van donkerte en vermoeidheid ver onder gelaat het. Ons ervaar vreugde.
Die Godsdiens van die Berg is in werklikheid die godsdiens van vreugde, die siel se bevryding van die dinge wat dit afrem, wat dit vul met ’n gevoel van moegheid, verdriet en verlies.
Die godsdiens van vreugde erken die Vryheid van die siel, die noue verwantskap tussen die siel en die groot skeppende gees, en die oorheersing hiervan oor rede. Net soos die liggaam die swaar gewig en donkerte van die see oorwin het, so moet die siel ook verlos word van alle sin van moegheid, swakheid en vermoeidheid wat onstaan uit die kommer en wroeging van ons daaglikse bestaan.
Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
Ons het aanbeweeg Namaqualand toe.
Dié uitgestrekte landstreek lê suid van die laer Oranje. ’n Groot gedeelte is dor, kaal en reënloos, en word bewoon deur plaasboere wat vir ewig aan die swerwe is op soeke na weiding en water. Hulle is ’n puik, stoere tipe, en ek het my kennis met baie van hulle wat saam met ons teen die Britte in die ou dae geveg het, hervat. Hulle is geheg aan Namaqualand en vir hulle is dit gaaf en pragtig, hoewel nie veel ander so sal dink nie.
Nietemin is hier ’n bekoring wat aan ’n mens vat, en ek het geleer om sy geharde mense te respekteer gedurende die dae van oorlog en avonture wat ek tussen hulle deurgebring het.
Ons het ons reis hervat tot so ver suid as Van Rhynsdorp, die klein dorpie wat in 1902 as ons hoofkwartier gedien het. Ek het die graftes van kamerade wat omgekom het, gesien, en ook die plek waar ek gehelp het om die spioen, Colaine, tereg te stel.
By elke dorp, groot en klein, moes ek ’n toespraak lewer, want politiek is die heersende passie. Vir ons plaasboere neem dit die plek in van teaters, bioskope en sport. Dit is die nasionale tydverdryf, soos bulgevegte in Spanje.
Toe ons uiteindelik weer by die spoorlyn uitkom, was daar ’n stewige bondel korrespondensie wat op my gewag het. Tussen die briewe was daar ’n versoek van generaal Christian de Wet wat gevra het dat ek hom moet besoek. Ek het in die 1914 rebellie teen hom geveg, maar ek het van die ou strydros gehou en hom gerespekteer, en het dus vertrek om hom te gaan sien.
Toe ek ’n seun was, was hy in die republikeinse tyd lid van die Vrystaatse Volksraad. Op ’n keer het hy Bloemfontein aan die voorpunt van ’n gewapende mag binnegery om protes aan te teken teen die bou van ’n spoorlyn van die kus af, want hy het die mening gehuldig – wat later sou blyk nie sonder algehele regverdiging was nie – dat hierdie gevaarlike innovering ’n inval deur die Britte kan fasiliteer.
In 1899, in die eerste maand van die Anglo Boere-oorlog, het hy ’n naam vir homself gemaak deur ’n groot Britse troepemag naby Ladysmith in Natal te omsingel en gevange te neem. Ek was in daardie geveg betrokke en ons het meer as ’n duisend prisoniers aangekeer. Hierdie kordaatstuk het aan hom prominensie verleen en toe, kort voor lank, toe rampspoed ons oorval het, is hy aangestel as kommandant-generaal van die Vrystaat.
Teen daardie tyd is ons uit Natal gedryf, Bloemfontein was beset, en alles het verlore gelyk. Christian de Wet het meesterlik bo teëspoed uitgestyg. Bygestaan deur president Steyn, my pa se opvolger, het hy ons ontmoedigde kommando’s moed ingepraat, en toe die invallende gety noord gerol het, het hy die agterhoede gedek en ’n briljante guerrilla veldtog gevoer. Hy het teen geweldige oormagte uitgehou en sy strooptogte, aanvalle en ontsnappings, sy uithoudingsvermoë en waagmoed, het hom ’n internasionale reputasie besorg. Dit was ruimhartig deur die Britte self bevestig.
In 1912 het daar ’n vete ontstaan tussen die ondersteuners van generaal Botha en generaal Hertzog, en De Wet het laasgenoemde ondersteun. Aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog het hy gerebelleer. Omdat ek ’n Vrystater was en omdat my vader die president van die Vrystaat was, het hy verwag dat ek by sy beweging sou aansluit. Hy was bitter omdat ek die wapen opgeneem het aan die kant van die Botha-regering. Ons het hom by Mushroom Valley verslaan, en na ’n lang jaagtog is hy gevange geneem. Hy is in die tronk gestop, maar generaal Botha het hom op parool losgelaat en teruggestuur na sy plaas toe, en daar het ek hom toe gevind.
Sy voorkoms het my geskok. In plaas van die bonkige forse figuur wat ek geken het, het hier voor my ’n uitgemergelde vervalle man gestaan. Sy baard was onversorgd, sy veters het op die grond gesleep en sy klere het los aan sy uitgeteerde liggaam gehang. Sy hande was geswel van een of ander kwaal en hy het al waggelende na my toe aangestap gekom om te groet. Ek het hom in ’n stoel laat sit en gevra waarom hy my laat roep het, maar hy kon my nie sê nie. Met sy hande teen sy voorkop gedruk, het hy tevergeefs probeer om te onthou, en ek moes vertrek met die vraag onopgelos.
Ek verkies om te dink, wetende sy einde is naby, dat hy in sy verdonkerende gemoed die wens na vore voel kom het om ’n laaste woord van herinnering en vriendskap te uiter voor hy die algemene pad bewandel. Hy is kort daarna oorlede en ons het ’n dekreet vir ’n staatsbegrafnis uitgevaardig. Hy is aan die voet van die nasionale monument in Bloemfontein begrawe.
Uit Leipoldt se Kaapse Kookkuns
deur Dr. C. Louis Leiplodt
My belangstelling in die kookkuns dateer uit die tyd toe ek as ’n seuntjie, aan die einde van die tagtigerjare in die negentiende eeu, in ’n baie geringe en beheersde hoedanigheid, gehelp het in al die kookwerksaamhede van ’n besonder bekwame Bruin dame wat hoog geag is as een van die beste kokke in die Kaapkolonie. Swaarlywig en gewigtig het sy daar in die kombuis geheers. Die netheid dáár kon gedien het as ’n voorbeeld vir ’n operasieteater in ’n moderne hospitaal. Dit was omdat sy só puntenerig daaroor was dat sorgsame netheid gehandhaaf móés word. Dit was ’n onontbeerlike preliminêr in die voorbereiding van kos. Haar inskerping van hierdie elementêre beginsels vir dié jongeling, wat dikwels vergesel was van ’n goedhartige, maar nogtans pynlike streepsuiker op die boud met ’n houtspaan wat haar septer was, het my in my latere lewe gehelp toe ek geleer het om my smaak te verbeter en my ervaring te verbreed. Ek het besef hoe enige skending dáárvan die voortreflikheid van alle kookkuns onvermydelik benadeel.
Ayah se kuns was die gevolg van instruksies en ervaring oor baie jare in die tradisionele metodes van die Maleise kookkuns. Die vernaamste kenmerke is die ongebonde, amper heldhaftige gebruik van speserye en aromatiese geursels; die uitgerekte, egalige maar stadige aanwending van vogtige hitte by al die vleisgeregte, en die vaardige vermenging van baie diverse bestanddele in ’n samesnoering wat steeds die essensiële voortreflikheid van elkeen behou. Haar disse, geniet deur goewerneurs, eerste ministers en baie belangrike persone, is voorberei met behulp van ou resepte wat stewig in haar geheue bewaar is. Sy het nooit enige geskrewe of gedrukte voorskrifte geraadpleeg nie. Omtrent al hierdie resepte kan in kookboeke gevind word en was toe alreeds welbekend – maar egter sonder die geringe modifikasies en eie vindingrykheid en ervaring wat haar met die bevoegdheid toegerus het om by te dra tot hulle veredeling.
* * *
Die Maleiergemeenskap aan die Kaap het altyd ’n hoë aansien vir goeie kookkuns gehad, en selfs deesdae kan van die beste dameskokke by die Bruinmense aangetref word. Hulle is opgelei om alles wat die beste in beide die Westerse en Oosterse kookgewoontes is, te waardeer. In die ou dae was ’n Maleierkok beskou as onmisbaar vir die huishouding wat daarvan gehou het om te onthaal. Slawe wat ’n kennis gehad het van dié soort kookkuns, het ’n baie hoër prys afgedwing as ander huishoudelike besittings. Sodoende het ’n plaaslike advertensie aangedui dat “Malani ’n goeie kok met uitstaande bekwaamhede en wat nie sal vermors in die kombuis nie” was. Sy was een van vyf slawe wat te koop aangebied is in die afgestorwe boedel van die eienaar. Verder was daar ook ’n beskrywing van ’n slaweveiling wat aangedui het dat daar “geesdriftige wedywering vir Emerentia, ’n erkende kunstenaar van die kastrol” was.
Die jong offisier wat lateraan bekend sou word as lord Wellington wat oor Napoleon geseëvier het, is dikwels by die gasvrye huis van die rykste man in Kaapstad, waar hy ’n rustige verblyf geniet het op sy roete na Indië, onthaal. Die kok was ’n Bruinvrou wat baie vaardig was in die voorbereiding van Oosterse disse. Haar man het as butler opgetree en haar op ’n bekwame manier ondersteun.
Die Oosterse invloed was inderdaad baie dominant in die Kaapse kookkuns en die belangrikheid daarvan kan maklik geskat word in die waarde wat aan Oosterse speserye en smaakmiddels in die ouderwetse resepte geheg is.
Uit Polfyntjies vir die Proe
deur Dr. C. Louis Leipoldt
Broer Jan se oudste het matriek in die eerste klas geslaag en is nou ingeskryf as eerstejaar-student in die medisyne. Sou ek asseblief ’n ogie oor hom hou en my nou en dan synerwille ontferme? … so het broer Jan geskryf.
My herinnering aan die outjie – en ek het hom tien jaar laas gesien – was dié van ’n penorent, graat-skraal, kortbroek, kaalvoet-kleutertjie met ondeunde ogies, ’n wipneusie wat danig hemel toe gekant het of dit gedurig iets onplesierigs moes ruik, en voortandjies waarop ’n keffertjie trots kon wees. Nou kry ek voor my ’n kêrel wat anderhalf duim hoër in die lug rek as ek self sou kon doen indien die rugrumatiek my dit sou toelaat – ’n kêrel met gladgepleisterde hare, die voorskaduwing van ’n snor op die bolip, die nog meerseggender blou-swart langs die kaak en daardie halfastrante, halfverleë houding wat sy tydgenote aanslaan wanneer hulle met ou mense die eerste maal in aanraking kom. Die wipneus was nog net so gewip en die tande nog net so wit soos vroeër, maar meneertjie was nou taamlik uitgegroei en het nie meer die indruk van ’n uitgehongerde, verveerde kuiken gemaak nie. En die in die wind swaaiende geel das, oortuigende bewys van eerstejaar-studenterang, en die vaal sportbaadjie het niks met die kort broekie van tien jaar gelede gemeen gehad nie.
Dit het nie lank geduur eer ons afgegly het van die protokolagtige verhouding tussen oom en neef nie, want Kleinjan, op sy stukke, pas hom gou aan. Binne ’n uur het ek alles verneem omtrent die familie, die plaas, en sy eie skoolavonture. Dit was duidelik dat neef hom reeds tuis gevoel het in sy nuwe omgewing, veral na die ontgroeningseremonie wat – dit spyt my om dit te sê – nog gewoonte is aan inrigtings wat ons roekeloos “universiteite” noem. Net so duidelik was dit dat hy hom nie sou laat imponeer deur enigiets wat “Oom” of wie ook al sou sê of wys of raai nie.
Toe dit tyd word om te gaan eet, het ek hom meegeneem na waar ek soms die noenmaal geniet. Daar het die kelner regstreeks op ons afgekom met die berig dat daar die middag oesters in voorraad was. Ek het sonder om na te dink twee dosyn bestel. Kleinjan, nieteenstaande sy traak-nie-agtige, jy-sal-my-nie-imponeer-
“Wat op aarde is dit nou, Oom?” vra hy, en ek verbeel my dat sy wipneus ’n paar sentimeter hoer wip.
“Oesters, man. Die allerbeste sort. Ons is gelukkig dat ons dit vandag kry. Die goed gaan gewoonlik reguit Johannesburg toe, en dis selde dat ons hier geleentheid kry om hulle te eet …”
“Eet, Oom? … Si …” Sy hoflikheid het die woord binnensmonds afgebyt net toe ek my eerste oester, behoorlik met ’n druppel suurlemoensap gedoop, insluk.
“Natuurlik. Kyk, jy neem hulle so,” en ek wys hom. Ongelukkig het sy oester, wat ek besig was om te bedrup, net op daardie oomblik krampagtig ’n stuiptrekking gekry.
“Maar gits, Oom, die ding lewe mos …”
“Ek sou so dink. Dooie oesters eet ’n mens nie, dis te gevaarlik. Kom, wees nou nie so kinderagtig nie. As jy dokter wil word, moet jy jou gewoond maak om alles te probeer, en ek gee jou my woord jy sal hiervan hou. Dé, sluk dit nou in …”
“Ag nee, Oom. Oom moet my verskoon. Dit lyk vir my … dit lyk vir my net soos ’n dermskraapsel.”
“Nou ja, jy het al dermskraapsels geëet, of het jy nooit wors geëet nie? As jy nie wil nie, gee my dan jou oesters; ek sal hulle vir jou opeet, en jy kan vir jou sop bestel. Maar ek moet sê, Kleinjan, ek het gedink dat broer Jan se seun sy man kan staan, selfs as dit op oesters daarop aankom.”
Kleinjan het nie sop bestel nie. Hy het ’n teug van sy bier gedrink en my met sy oë – nou nie ondeund nie, maar regtig bang asof hy ’n mensvretende oom teengekom het – gevolg toe ek een na die ander oester verslind. Eers teen die end en nadat ek hom verskeie keer gesê het om iets vir homself te bestel, het hy amper in ’n fluisterstem gevra: “Oom, is dit werklik lekker?”
Ek beskou dit as ’n beskawingswerk om iemand te leer om oesters te eet, en ofskoon ek van aanleg, soos al die Bonades, ongeduldig is, veral met mense wat eiewys is (dit wil sê, nie met my eens is nie), het ek op vriendelike, omelike wyse my nefie oorgehaal om een oester te probeer eet. En daarna nog een. Daar was toe slegs ’n halfdosyn oor, en ons kon nie meer kry nie. Want oesters is vandag skaars. My belonging was Kleinjan se weloordagte oordel: “Ja, waarlik, Oom, dit is darem nie so sleg nie.”
Ja, nefies en niggies, oesters is darem nie so sleg nie. Mits julle oesters behoorlik eet. Sonder allerhande bybehorighede wat op die ou end die rein, suiwer, onberispelik-onskuldige, puur oestersmaak vervals met geure en bysmake wat vir die oesterkenner ’n sonde is. Bedien hom op sy skulp. Maak hom self oop as jy die minste vrees het dat die kelner sy mespunt in die tere dier se weefsels sal laat glip. Sorg ten minste dat jy hom op tafel kry met sy spier nog bruikbaar sodat hy kan krimp. En praat nou tog nie van wreedheid en barbaarse behandeling van ’n weerlose dier nie. Die ultra-ultra-humanitêre voorwendsels geld nie vir die kok nie. Wie wat daaraan toegee, sal ooit ganslewerpastei of skilpadsop of kreefslaai or gestoofde paling durf eet? Vir hom wat volhou, sal ek vra om my eerlik te waarborg dat die mielie nie pyn voel as jy hom van die stronk afstroop nie of die waatlemoen as jy hom oopsny nie. Was dit nie die dikke oubaas Chesterton wat sy vegetariese vriend op sy plek gesit het deur te vra: “En hoekom moet net die sout en die mosterd ly?”
Sorg dus dat jou oesters lewendig is en eet hulle óf (en liefs) in hul maagdelike onskuldigheid sonder om iets by te sit, óf met ’n druppel suurlemoensap om die souterigheid wat aan hul klewe ’n ietsie te versag. Braai hulle nie – dit is om hulle onreg aan te doen. Maak geen sop van hulle nie – dis om iets wat heerlik en suiwer is te vermeng en te vervals tot iets wat ingewikkeld en kunsmatig is. Eet hulle met ’n stukkie brood en botter. As jy die kans kry, probeer hulle met ’n paar korreltjies kaviaar op die toebroodjie. Maar nooit met rooipeper of uie of enigiets anders wat die fyn smaak van die oester kan beïnvloed nie. Wees dus ook versigtig wat jy met hulle drink. Eintlik hoef jy niks te drink nie, want oesters bevat water genoeg. Maar as dit tog moet, kies dan tussen ’n goeie bier, liefs ’n donker sort, en ’n wit wyn wat nie te sonder suiker is nie en wat natuurlik nie mag skuim nie.
Vir ons ouere Bonades – want soos julle sien, het die jongere geslag nog baie om te leer – is sjampagnje en oesters uit die duiwel en word onder Christenkinders nie genoem nie – inter Christianos non nominanda sunt, soos die ou vader sê. En dink tog nooit dat as jy hierdie wenke in aanmerking neem jy ooit gevaar loop as jy oesters eet nie. Hulle is die onskuldigste, lekkerste diertjies wat uit die see kom.
21 Desember 1945
Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
In Pretoria, ons administratiewe hoofstad, het ek aandag gegee aan amptelike sake en vir die volgende paar maande was ek totaal vasgevang. Toe het ek weggebreek na die verre weste en die laer lope van die Oranjerivier.
Hierdie groot stroom het sy oorsprong in Basoetoland en van daar af loop hy regoor die breedte van Suid-Afrika, en ledig homself agthonderd myl verder in die Atlantiese Oseaan. Dit dreineer die hele Vrystaat en ’n groot deel van Transvaal en die Kaapprovinsie, sodat daar in die somer amper die helfte van die water van die Unie tussen sy walle deurstroom.
Op die eilande nader aan die kus is daar Europese nedersettings, en daar was iets soos ’n burgeroorlog aan die gang tussen die besproeiingsboere as gevolg van die geskille oor die uitkering van water uit die kanale en vore. Ek het bewus geword daarvan dat hulle hul haelgewere en koeëlgewere op hulle skote vertroetel het terwyl hulle mekaar driftig vanuit weerskante van die sluishekke aangegluur het. Dit het dae van moeilike onderhandelinge geverg om die faksies so ver te kry dat hulle tot ’n soort van ooreenkoms kon kom.
Die belangrikste dorp in hierdie omgewing was ’n plek met die naam van Kakamas. Amper twintig jaar vroeër was ek in die omgewing as ’n Boere guerrilla-vegter in militêre aksies betrokke. In daardie tye was dit niks anders nie as ’n buitepos met ’n paar rietdakhuisies. Nou was dit ’n florerende dorpie met kragaangedrewe meulens, elektriese ligte en ander tekens van vooruitgang. Dit sluit in die twyfelagtige seëning van vyandige politieke partye wat ek moes toespreek te midde van toejuigings en uitjouerye wat, sonder uitsondering, ’n kenmerk is van soortgelyke byeenkomste in ons plattelandse distrikte.
Van Kakamas af het ons stadigaan al langs die linkerwal van die rivier afgereis en so by die Augrabies-waterval aangekom. As gevolg van die woestynagtige omgewing waarin dit geleë is, is die waterval redelik onbekend, maar dit is een van die hoogstes in die wêreld.
Na aan die rand van die val vernou die rivier tot ’n granietpoort wat nie meer as vyftien treë wyd is nie, en deur hierdie vernouing stort die sameloop van waters vir vyfhonderd voet in ’n magtige ravyn af, nogal soortgelyk aan die ravyn onder die Victoria-waterval by Livingstone. Daar woon ’n plaasboer wat ’n bestaan maak in daardie afgesonderde omgewing, en een van sy seuns het ons na ’n uitkykpunt begelei van waar af ons nie net die enorme kolom water oor die kant kon sien val nie, maar ook die skuimende kookpot doer onder.
Die jong kêrel het langs die rivier groot geword en hy het gesê dat hy van ’n paadjie weet wat onder na die ravyn toe lei. Die res van my span was nie lus daarvoor nie, en hulle was wyse mense, want die pad ondertoe het vreesaanjaend gelyk. Met groot sorg langs ’n smal skeur in die rotswand het ons afbeweeg. Versigtig het ons elke vastrapplek getoets voordat ons die volgende trapplek uitprobeer het. Uiteindelik het ons ’n uitstaande rotslys bereik wat ons ’n staanplek gegee het. Ons was nou so ongeveer vierhonderd treë weg van die groot deinende katarak onder die boonste val, en met die opkyk boontoe, kon mens die donderende water sien afstort omhul in ’n damp van mis en sproei. Van die valle af het die boosaardige stortvloed na ons toe gestroom terwyl dit groot branders en wilde draaikolke opgejaag het.
Ek het die opdrifsels bekyk en opgemerk dat party van die dryfhout op ’n sekere punt stadiger beweeg het en selfs begin het om teen die stroom op te beweeg. Dit het my tot die gevolgtrekking laat kom dat die water, moontlik as gevolg van rotse onder die oppervlakte, sirkelvormig beweeg het, en alhoewel intimiderend, was die kloof nie so gevaarlik soos dit gelyk het nie. Ek het besluit om dit uit te toets.
Ek het my klere uitgetrek en ingeduik, en dit was soos ek gedink het, want daar was iets soos ’n opwaartse stroming en dit was vir my moontlik om daarmee saam te swem. Ek was rondgesmyt en gestamp en soms was daar die gevoel van afgesonderdheid van die buitewêreld, want aan beide kante van die rotswande het die magtige canyon so hoog uitgestaan dat daar maar slegs ’n strepie blou lug sigbaar was. ’n Mens het soos ’n spikkel in die groot water gevoel.
Ek is ’n goeie swemmer en het die vierhonderd treë al vegtende afgelê en het selfs daarin geslaag om in die groot grot agter die val te kom. Die water het met soveel geweld afgestort dat dit ’n afwaartse lugstroom soos ’n reusagtige ventilator in ’n mynskag tot gevolg gehad het Dit was ’n skitterende ervaring.
Na ek stadig in die kalm water agter die val rondgeswem het, het ek teruggekeer soos ek gekom het, en by my gids wat my eskapades met ’n mate van verbystering dopgehou het, aangesluit. Ons het nou teen die rotse opgeklim en na ’n angstige geklouter, het ons die top veilig bereik. By die plaashuis het die ou boer net sy hande in die lug gesteek toe hy gehoor het wat ek gedoen het, en toe ek hom vra of iemand al tevore in die kloof van die val geswem het, het hy prontuit gesê dat niemand nog ooit so verdomp gek was om dit te probeer nie.
My rekord staan glo nog.