Uit No Outspan
deur Deneys Reitz
In Pretoria, ons administratiewe hoofstad, het ek aandag gegee aan amptelike sake en vir die volgende paar maande was ek totaal vasgevang. Toe het ek weggebreek na die verre weste en die laer lope van die Oranjerivier.
Hierdie groot stroom het sy oorsprong in Basoetoland en van daar af loop hy regoor die breedte van Suid-Afrika, en ledig homself agthonderd myl verder in die Atlantiese Oseaan. Dit dreineer die hele Vrystaat en ’n groot deel van Transvaal en die Kaapprovinsie, sodat daar in die somer amper die helfte van die water van die Unie tussen sy walle deurstroom.
Op die eilande nader aan die kus is daar Europese nedersettings, en daar was iets soos ’n burgeroorlog aan die gang tussen die besproeiingsboere as gevolg van die geskille oor die uitkering van water uit die kanale en vore. Ek het bewus geword daarvan dat hulle hul haelgewere en koeëlgewere op hulle skote vertroetel het terwyl hulle mekaar driftig vanuit weerskante van die sluishekke aangegluur het. Dit het dae van moeilike onderhandelinge geverg om die faksies so ver te kry dat hulle tot ’n soort van ooreenkoms kon kom.
Die belangrikste dorp in hierdie omgewing was ’n plek met die naam van Kakamas. Amper twintig jaar vroeër was ek in die omgewing as ’n Boere guerrilla-vegter in militêre aksies betrokke. In daardie tye was dit niks anders nie as ’n buitepos met ’n paar rietdakhuisies. Nou was dit ’n florerende dorpie met kragaangedrewe meulens, elektriese ligte en ander tekens van vooruitgang. Dit sluit in die twyfelagtige seëning van vyandige politieke partye wat ek moes toespreek te midde van toejuigings en uitjouerye wat, sonder uitsondering, ’n kenmerk is van soortgelyke byeenkomste in ons plattelandse distrikte.
Van Kakamas af het ons stadigaan al langs die linkerwal van die rivier afgereis en so by die Augrabies-waterval aangekom. As gevolg van die woestynagtige omgewing waarin dit geleë is, is die waterval redelik onbekend, maar dit is een van die hoogstes in die wêreld.
Na aan die rand van die val vernou die rivier tot ’n granietpoort wat nie meer as vyftien treë wyd is nie, en deur hierdie vernouing stort die sameloop van waters vir vyfhonderd voet in ’n magtige ravyn af, nogal soortgelyk aan die ravyn onder die Victoria-waterval by Livingstone. Daar woon ’n plaasboer wat ’n bestaan maak in daardie afgesonderde omgewing, en een van sy seuns het ons na ’n uitkykpunt begelei van waar af ons nie net die enorme kolom water oor die kant kon sien val nie, maar ook die skuimende kookpot doer onder.
Die jong kêrel het langs die rivier groot geword en hy het gesê dat hy van ’n paadjie weet wat onder na die ravyn toe lei. Die res van my span was nie lus daarvoor nie, en hulle was wyse mense, want die pad ondertoe het vreesaanjaend gelyk. Met groot sorg langs ’n smal skeur in die rotswand het ons afbeweeg. Versigtig het ons elke vastrapplek getoets voordat ons die volgende trapplek uitprobeer het. Uiteindelik het ons ’n uitstaande rotslys bereik wat ons ’n staanplek gegee het. Ons was nou so ongeveer vierhonderd treë weg van die groot deinende katarak onder die boonste val, en met die opkyk boontoe, kon mens die donderende water sien afstort omhul in ’n damp van mis en sproei. Van die valle af het die boosaardige stortvloed na ons toe gestroom terwyl dit groot branders en wilde draaikolke opgejaag het.
Ek het die opdrifsels bekyk en opgemerk dat party van die dryfhout op ’n sekere punt stadiger beweeg het en selfs begin het om teen die stroom op te beweeg. Dit het my tot die gevolgtrekking laat kom dat die water, moontlik as gevolg van rotse onder die oppervlakte, sirkelvormig beweeg het, en alhoewel intimiderend, was die kloof nie so gevaarlik soos dit gelyk het nie. Ek het besluit om dit uit te toets.
Ek het my klere uitgetrek en ingeduik, en dit was soos ek gedink het, want daar was iets soos ’n opwaartse stroming en dit was vir my moontlik om daarmee saam te swem. Ek was rondgesmyt en gestamp en soms was daar die gevoel van afgesonderdheid van die buitewêreld, want aan beide kante van die rotswande het die magtige canyon so hoog uitgestaan dat daar maar slegs ’n strepie blou lug sigbaar was. ’n Mens het soos ’n spikkel in die groot water gevoel.
Ek is ’n goeie swemmer en het die vierhonderd treë al vegtende afgelê en het selfs daarin geslaag om in die groot grot agter die val te kom. Die water het met soveel geweld afgestort dat dit ’n afwaartse lugstroom soos ’n reusagtige ventilator in ’n mynskag tot gevolg gehad het Dit was ’n skitterende ervaring.
Na ek stadig in die kalm water agter die val rondgeswem het, het ek teruggekeer soos ek gekom het, en by my gids wat my eskapades met ’n mate van verbystering dopgehou het, aangesluit. Ons het nou teen die rotse opgeklim en na ’n angstige geklouter, het ons die top veilig bereik. By die plaashuis het die ou boer net sy hande in die lug gesteek toe hy gehoor het wat ek gedoen het, en toe ek hom vra of iemand al tevore in die kloof van die val geswem het, het hy prontuit gesê dat niemand nog ooit so verdomp gek was om dit te probeer nie.
My rekord staan glo nog.
Next →
← Previous