’n Lang glas yskoue bier en die groot droogte van voorheen

Posted on January 29, 2015 by Cape Rebel

Uit No Outspan
deur Deneys Reitz

Aan die begin van 1925 het ek Duits-Suidwes-Afrika om sakeredes besoek. Dit is die grondgebied wat ons in 1915 binnegeval en oorgeneem het.

Dis ’n groot en dorre land. Dit strek van die Oranjerivier in die suide tot by die Kunene-rivier, agthonderd of ’n duisend myl na die noorde, en van die weste na die ooste lê dit tussen die Atlantiese oseaan en die Kalahari-woestyn, vierhonderd myl breed.

Ek moes eers met die trein Windhoek toe ry. Dis die hoofstad, waar ek verskeie sake met die amptenare by die Tinten Palast (regeringsgeboue) bespreek het, en toe het ek teruggery Rehoboth toe om ’n beweerde goudontdekking te ondersoek.

Nege jaar tevore was ek hier onder omstandighede wat heel anders was. Gedurende die 1915 veldtog was ek en ’n groep makkers warm op die hakke van die terugvallende Duitse troepe. Ons het naby die spoorlyn gehou met die hoop dat ons water by die stasies en sylyne kon opspoor, maar die putte, boorgate en tenks is alles deur hulle met dinamiet verwoes.

Teen die middag van die tweede dag was ons in ’n benarde situasie. Ons waterbottels was leeg, en ons het reeds te ver gevorder om om te draai. Ons sou van die dors omkom voor ons die naaste water kon bereik, en vorentoe sou ons verseker niks kry nie, so deeglik was die vernietigingswerk wat ons teengekom het.

In die hitte het ons voortgestrompel met droë en opgeswelde tonge. Die wete dat die vooruitsig op water heel gering was, het ons lyding vererger.

Teen die aand toe ons so te sê geen uithoudingsvermoë oorgehad het nie, het ons op die wrak van ’n stoomlokomotief in ’n rivierbedding, waar die Duitsers dit verwoes het, afgekom. Dit was ’n bestiering dat ons in die hoek van die stoomketel ’n paar gallon ongestorte water gevind het. Dit het ons lewens gered, en ons kon aangaan tot by Rehoboth waar ons die volgende oggend nog water in ’n kleiner stoomlokomotief, wat in ’n loods misgekyk is, ontdek het.

Nou het ek hier met ’n lang glas yskoue bier op die hotelstoep gesit, terwyl ek teruggedink het aan die groot droogte van voorheen op daardie plek.

Posted in Afrikaans


Next

Previous