In die jagterskamplewe is sop een van die gewildste geregte wat saam om die kampvuur opgeslurp word. Nêrens het ek beter kampsop geproe as in die laeveld op ’n bosveldkamp waar die jagters hul werk goed verstaan nie.
Sulke kampsop is eintlik iets meer as gewone sop.
Carême, een van die grootste deskundiges in die geskiedenis van die kookkuns, beweer – en ek dink hy het heeltemal gelyk – dat sop slegs as ’n voorafgaande prikkel vir ’n maaltyd moet gebruik word. Dus behoort dit volgens hom te bestaan as ’n dun, liefs helder, oplossing van die groente- of vleissappe waaruit dit gekook word. Vleis-ekstrak het ’n prikkelende werking op die slymvlies van die maag, net soos ’n kelkie goeie sjerrie. Dit bevorder die eetlus en ook die spysvertering, al het dit op sigself geen groot voedingswaarde nie. Jy kan voedingswaarde daaraan gee deur dit te meng met meel, melk, wyn of enigiets anders wat voedingswaarde het, maar ’n oplossing van vleis- of groente-ekstrak is nie eintlik voedsel nie. En as dit met kos aangevul word, soos in dik sopsoorte, dan word dit ’n gereg wat nie slegs as ’n stimulerende voorbereiding vir die maaltyd moet dien nie, maar as ’n gedeelte van die maaltyd self wat dan gebruik word net so veel vir sy koswaarde as vir sy smaaklikheid.
Hierdie beskouing van sop word nie gedeel deur die Chinese kokke nie, wat soms ’n voedsame sopsoort nie voor die ander geregte nie, maar tussenin of daarna bedien. En hulle sou saamstem met my dat ’n jagterskampsop dan ook die geskikste is vir ’n aandete op die ope veld.
So ’n sop kook stadig maar gedurig die hele liewe lange dag. Vroeg in die môre word die groot ysterpot gevul met water. Daarin kom net watter soort groente daar beskikbaar is, gewoonlik aartappels, uie, droë boontjies, lensies of ertjies, en wat daar van die jagtersbuit oorbly in die gedaante van bene, met nog ’n goeie porsie wildvleis daaraan. Sout en peper kom vroegtydig by; ander spesery is daar gewoonlik nie voorhandig nie, ofskoon iemand wat goed bekend is met die boswêreld die kampsop nog baie geuriger kan maak deur byvoeging van sommige van die blare en kruie wat gewoonlik in die onmiddelike omtrek van die kampeerplek ingesamel kan word. Daar groei ook ’n paar wortels wat kan meedoen.
Die sop kook stadig en word van tyd tot tyd omgeroer met ’n lepel of ’n skoon stuk doringhout. ’n Beskaafde kok sal ook probeer om die skuim en veral die vet wat bo swem, af te neem, maar dit word volgens my ondervinding nooit gedoen nie, en juis daarom is die resultaat, as jy dit in die aand eet, so besonder kragtig en smaaklik.
Dit is ’n dik, brei-agtige sop, wat bedien word met die murgbene en die vleis saam, en dit is ’n maaltyd op sigself. Na ’n kommetjie daarvan is dit skaars nodig om die gebraaide wildvleis, wat gewoonlik daarop volg, aan te raak, want dit is so voedsaam dat niks anders nodig is nie as die gebruiklike “aposteltjie” met die koffie en daarna jou pyp.
5 April 1946
Next →
← Previous