Generaal De Wet – Van Herinnering en Vriendskap

Posted on December 19, 2014 by Cape Rebel

Uit No Outspan
deur Deneys Reitz

Ons het aanbeweeg Namaqualand toe.

Dié uitgestrekte landstreek lê suid van die laer Oranje. ’n Groot gedeelte is dor, kaal en reënloos, en word bewoon deur plaasboere wat vir ewig aan die swerwe is op soeke na weiding en water. Hulle is ’n puik, stoere tipe, en ek het my kennis met baie van hulle wat saam met ons teen die Britte in die ou dae geveg het, hervat. Hulle is geheg aan Namaqualand en vir hulle is dit gaaf en pragtig, hoewel nie veel ander so sal dink nie.

Nietemin is hier ’n bekoring wat aan ’n mens vat, en ek het geleer om sy geharde mense te respekteer gedurende die dae van oorlog en avonture wat ek tussen hulle deurgebring het.

Ons het ons reis hervat tot so ver suid as Van Rhynsdorp, die klein dorpie wat in 1902 as ons hoofkwartier gedien het. Ek het die graftes van kamerade wat omgekom het, gesien, en ook die plek waar ek gehelp het om die spioen, Colaine, tereg te stel.

By elke dorp, groot en klein, moes ek ’n toespraak lewer, want politiek is die heersende passie. Vir ons plaasboere neem dit die plek in van teaters, bioskope en sport. Dit is die nasionale tydverdryf, soos bulgevegte in Spanje.

Toe ons uiteindelik weer by die spoorlyn uitkom, was daar ’n stewige bondel korrespondensie wat op my gewag het. Tussen die briewe was daar ’n versoek van generaal Christian de Wet wat gevra het dat ek hom moet besoek. Ek het in die 1914 rebellie teen hom geveg, maar ek het van die ou strydros gehou en hom gerespekteer, en het dus vertrek om hom te gaan sien.

Toe ek ’n seun was, was hy in die republikeinse tyd lid van die Vrystaatse Volksraad. Op ’n keer het hy Bloemfontein aan die voorpunt van ’n gewapende mag binnegery om protes aan te teken teen die bou van ’n spoorlyn van die kus af, want hy het die mening gehuldig – wat later sou blyk nie sonder algehele regverdiging was nie – dat hierdie gevaarlike innovering ’n inval deur die Britte kan fasiliteer.

In 1899, in die eerste maand van die Anglo Boere-oorlog, het hy ’n naam vir homself gemaak deur ’n groot Britse troepemag naby Ladysmith in Natal te omsingel en gevange te neem. Ek was in daardie geveg betrokke en ons het meer as ’n duisend prisoniers aangekeer. Hierdie kordaatstuk het aan hom prominensie verleen en toe, kort voor lank, toe rampspoed ons oorval het, is hy aangestel as kommandant-generaal van die Vrystaat.

Teen daardie tyd is ons uit Natal gedryf, Bloemfontein was beset, en alles het verlore gelyk. Christian de Wet het meesterlik bo teëspoed uitgestyg. Bygestaan deur president Steyn, my pa se opvolger, het hy ons ontmoedigde kommando’s moed ingepraat, en toe die invallende gety noord gerol het, het hy die agterhoede gedek en ’n briljante guerrilla veldtog gevoer. Hy het teen geweldige oormagte uitgehou en sy strooptogte, aanvalle en ontsnappings, sy uithoudingsvermoë en waagmoed, het hom ’n internasionale reputasie besorg. Dit was ruimhartig deur die Britte self bevestig.

In 1912 het daar ’n vete ontstaan tussen die ondersteuners van generaal Botha en generaal Hertzog, en De Wet het laasgenoemde ondersteun. Aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog het hy gerebelleer. Omdat ek ’n Vrystater was en omdat my vader die president van die Vrystaat was, het hy verwag dat ek by sy beweging sou aansluit. Hy was bitter omdat ek die wapen opgeneem het aan die kant van die Botha-regering. Ons het hom by Mushroom Valley verslaan, en na ’n lang jaagtog is hy gevange geneem. Hy is in die tronk gestop, maar generaal Botha het hom op parool losgelaat en teruggestuur na sy plaas toe, en daar het ek hom toe gevind.

Sy voorkoms het my geskok. In plaas van die bonkige forse figuur wat ek geken het, het hier voor my ’n uitgemergelde vervalle man gestaan. Sy baard was onversorgd, sy veters het op die grond gesleep en sy klere het los aan sy uitgeteerde liggaam gehang. Sy hande was geswel van een of ander kwaal en hy het al waggelende na my toe aangestap gekom om te groet. Ek het hom in ’n stoel laat sit en gevra waarom hy my laat roep het, maar hy kon my nie sê nie. Met sy hande teen sy voorkop gedruk, het hy tevergeefs probeer om te onthou, en ek moes vertrek met die vraag onopgelos.

Ek verkies om te dink, wetende sy einde is naby, dat hy in sy verdonkerende gemoed die wens na vore voel kom het om ’n laaste woord van herinnering en vriendskap te uiter voor hy die algemene pad bewandel. Hy is kort daarna oorlede en ons het ’n dekreet vir ’n staatsbegrafnis uitgevaardig. Hy is aan die voet van die nasionale monument in Bloemfontein begrawe.

Posted in Afrikaans


Next

Previous