Wat ons voorsate ingestel het

Posted on March 10, 2015 by Cape Rebel

Uit The Mask en Polfyntjies vir die proe
deur Dr. C. Louis Leiplodt

In sy geskiedkundige roman, The Mask, die derde boek in die trilogie wat bekend staan as The Valley, kan Leipoldt nie die geleentheid weerstaan om ’n gesin se aandete by die huis van die plaaslike dorpsprokureur op sy unieke manier te beskryf nie. Hy doen dit breedvoerig in woorde wat sy status onthul as ’n connoisseur van die ou Kaapse kookkuns, ’n voortreflike kok, en een van ons groot digters. 

Ons weet dat die dorp ter sprake Clanwilliam is, waar Leipoldt grootgeword het en waar sy pa die dominee vanaf 1884 tot 1910 was. Miskien is dit waarom Leipoldt as volg, nostalgies en ongebonde, vrye teuels kon gee aan sy poëtiese en kulinêre verbeeldingsvermoë.
 

Aandete in Clanwilliam 

“Ayah Mina, ’n skitterende kok, het ’n ete opgedis wat reg laat geskied het aan haar kookkuns, ’n goed voorbereide aandete wat die oubaas genot verskaf het om te eet, want nie alleen het dit heerlik geproe nie, maar ook sy nasionale smaak behaag. 

Tuisgebakte brood met krakerige kors en bros krummels, gemaak van plaaskoring fyngemaal deur steenrollers, vervaardig deur tuisgemaakte masjinerie, êrens in ’n plaasmeule in die skadu van eikebome waar die water eentonig oor die gleuwe van die groot houtwiel geplons het en die groot tarantula-spinnekoppe hulle diamant-ogies tussen die melerig- gepoeierde spinnerakke geflonker het; witboontjiesop mildelik beroom en bedien met brokkies swartgeroosterde brood; ’n smaaklike bredie gemaak van die ontvouende  botsels van geurige waterblommetjies – die klein wit, met ’n sweempie pienk, waterlelie wat in oorvloed op rivierpoele groei; heerlike gestoomde rys met elke korrel los van sy maters, ten volle uitgeswel en glinsterend in sy hermelynse witheid; soetpatats, goudbruin van kleur, in ’n dun stroop; ’n gesmoorbraaide makou, smelt-in-die-mond-sag, met salie-en-uie-vulsel; ’n slaai van gekookte beet, versier met hardgekookte eiers; en vir nagereg gebakte vla met stoweperskes, songedroog en gegeur met kaneel en nartjieskil.

En met koffie, sterk en subtiel-aromaties, want die boontjies is net daardie middag gemaal en gerooster, ’n kelkie Van Der Hum-likeur of ’n glasie ryk muskadel waarvan die smaak in die mond draal.”
 

Wat ons voorsate ingestel het

“Die ouderwetse atjar, soos ons Bonades dit geken het, is skoon verdwyn. Dit het weggesmelt soos kapok op die Sederberge in Augustusmaand.

Daar is mense wat oor die afsterf en verdwyn van ou gewoontes, ou vriende, ou modes, ou dinge, sonder aandoening kan gesels en wat nie ’n traan durf stort oor die verlies van iets wat ons voorouers bemin en liefgehad het nie. Hulle is, soos die Latynse digter reguit gesê het, ongevoelige stene wat nie eens die stadige verwering van wind en reën besef nie. Dit is hulle wat vandag vir hulle tevrede stel met So-en-So se Ingelegde Dit-en-Dat, Jan Rap se Sous, Potverdorie se Pekel, Ouma se Opwekkertjie en die hemel weet wat al meer wat ons uit bottels en blikkies skraap om op tafel by ons beste skottels te eet.

Ons Bonades is andersgesind. Ons hou van die ou goed. Ons bly getrou aan wat ons voorsate ingestel het. En een van die tannies maak nog egte, ouderwetse atjar.”

[The Mask speel af teen die einde van die 1920’s en is nie lank daarna nie in Engels geskryf. Die rubriek “Atjar” is in Afrikaans geskryf en drie weke voor Leipoldt se dood op 12 April 1947, in Die Huisgenoot gepubliseer, en jare later weer in Polfyntjies vir die proe.]

Posted in Afrikaans


Next

Previous