Mnr. Guest die Onwillige Gasheer

Posted on October 09, 2014 by Cape Rebel

Uit KommandoVan Perde en Manne

deur Deneys Reitz

 

Toe mnr. Guest ons daar sien aankom, met die soldate wat toe net deur sy tuin weggery het, het dit gelyk of hy ’n klomp spoke gadegeslaan het. En toe ons hom vir verdere voorrade gevra het, het dit gelyk of hy ’n beroerte aanval sou kry. Nietemin het hy eers al klaende en brommende aan ons versoek voldoen, maar later tog gelag oor sy teenspoed. Toe ons gekry het wat ons wou hê, het ons ’n entjie in die vallei opgery tot waar daar ’n aantreklike vrugteboord en ’n groot landerye was. Dit was omring deur doringtakke, soos dit die gebruik in daardie omgewing was. Dit was die grootste oordeelsfout wat ons gedurende die hele roete gemaak het – waar ons liewer vir die oper landstreek verder ondertoe moes mik, het ons ’n doodlooppad binnegegaan.

Ons het gedink die Engelse was finaal weg en het toe ’n ete voorberei. Ek het daarop ’n tweede fout begaan. Terwyl die ander hulle perde by hulle gehou het, het ek my klein Arabier, met saal en al, losgelaat om in die veld daar naby te gaan wei. Ek was totaal gedaan na die vorige nag se eskapades, en het toe ’n skadukol in ’n opening in die doringheining gesoek en sonder dat ek die ander vertel het, vas aan die slaap geraak.

Ek het nie geweet hoe lank daarna nie, maar die geklap van geweervuur daar naby het my wakker gemaak. Ek het half deur die slaap opgespring en ’n aantal soldate voor hulle perde sien staan waar hulle besig was om op my sewe makkers te skiet. My vriende het vir so al wat hul werd was in die vallei af weggejaag. Ek kon net myself blameer dat ek agtergelaat was, want hulle het nie geweet waar ek was nie en kon nie op my wag nie. My enigste hoop om te ontsnap was met my perd, maar hy het daar gestaan en wei vir al die Kakies om te sien. Hulle het my nie opgemerk waar ek agter die heining gestaan het nie. Ek het van die takke weggedruk om te kon sien wat my kanse was om my ponie in die hande te kry. Gelukkig het hy aan die ander kant naby my gestaan. Die skote het hom ontstel en hy het sy kop geskud en die lug gesnuif, en ek kon sien dat hy enige oomblik kon wegspring en hardloop. Ek het geroep om hom te kalmeer en myself deur ’n meer begaanbare deel in die heining gewurm. Ek het na hom toe gehardloop waar hy daar gestaan en bewe het van opwinding. Ek het in die saal gespring en na ’n klein deurgang, wat die enigste uitgang was, in die verste hoek gejaag. Die soldate het my dadelik gesien en op my begin skiet, maar ten spyte daarvan het ek daarin geslaag om deur die opening te jaag. Net toe ek buitekant spoed begin optel, het ’n koeël my arme perd neergevel en ek het reg bo-oor sy kop gevlieg. Ek het my geweer opgetel en laat vat na die plaashuis toe waar ek gedink het my makkers dalk besig was om stelling in te neem. Die soldate agter my in die veld het steeds op my gevuur soos ek tussen die bome verskyn en verdwyn het. Ek het egter ongeskonde die plaashuis gehaal. Op die hoek van die skuur het daar ses of sewe manne gestaan wat ek in my haas as my vriende beskou het en ek het reguit na hulle toe gehardloop, maar so ongeveer dertig treë van hulle af, het een vorentoe gestap met sy geweer in sy hand en my beveel om te halt.

Hulle was Engelse soldate en daar het nog meer uit die stalle en die huis gehardloop. Ontsnapping het onmoontlik gelyk, maar ek het ’n kans gevat. Aan my regterkant was daar ’n klein populierbos en ek het weggeswenk daarnatoe voordat daar meer as net ’n koeël of twee op my afgevuur kon word.

Sarsies koeëls het teen die bome om my geklap terwyl ek weggehardloop het, maar ek het dit veilig tot aan die anderkant in ’n heuwelagtige stukkie grond gemaak. Daar kon ek met sukses koes en swenk alhoewel die soldate om gehardloop het om te probeer om my voor te keer. Ek het ’n onegalige stuk aarde bereik met geen ernstiger gevolge nie as ’n koeël wat die sool van my skoen beskadig en wat hardloop moeilik gemaak het.

Toe ek ’n hoër koppie bereik het, het ek teruggekyk. Die soldate nader aan die veld het hulle perde bestyg en in my rigting begin ry. Van die klomp by die huis het party in my rigting begin hardloop. Nog ander het saals op hulle perde gegooi. Die laaste wat ek van mnr. Guest gesien het, was waar hy in sy hemp op die stoep gestaan het en wild met sy arms geswaai het asof hy die soldate aangespoor het om my te vang, of geprotesteer het teen die finale ramp van ’n oorlog op sy voorportaal. Daar was geen tyd om dit verder te oorweeg nie, want ek was lelik in die knyp.

Daar was geen teken van my makkers nie. Die harde skerp grond het my voet gesny en die ruiters was op my spoor. Reeds kon ek die soldate op my hoor skree om te stop en ek het net oorweeg om dit te doen, toe ek by ’n donga uitgekom het wat teen die berg afgeloop het. Dit het my te binne geskiet, dat, as my agtervolgers my oor die wal sien verdwyn het, sou hulle natuurlik dink dat ek òf langs die bodem af na die vallei toe gegaan het òf teen die berg op. Ek het oor my skouer geloer om seker te maak hulle het gesien wat ek besig was om te doen, maar in plaas daarvan dat ek af of op met die watervoor gegaan het soos hulle sou verwag, het ek ’n plek aan die ander kant gekry waar die reën ’n nou tonnel oopgespoel het. Ek het met my gesig plat teen die grond daarin opgekruip en na die bosse aan die ander kant gewurm. Dit was net hoog genoeg om ’n lêende man te verberg. Sonder om opgemerk te word, het ek uit die voor geklim en vir nog omtrent vyftig treë gekruip tot waar die struikgewasse digter was en daar gestop.

Toe die soldate my in die donga sien spring, het hulle presies gedoen wat ek verwag het. Toe hulle die plek bereik waar ek verdwyn het, het hulle in twee groepe verdeel. Die een klomp het teen die berg op gegalop en die ander teen die berg af. Van waar ek gelê het, het ek ’n mooi uitsig op die soektog gehad. Na ’n rukkie kon ek sien op die manier wat hulle rondgery het, dat hulle geen idee gehad het wat van my geword het nie.

Uiteindelik moes hulle besluit het dat ek boontoe moes uitgewyk het, want hulle het soos jagters teen die berghang uitgesprei terwyl hulle al verder en verder van my wegkruipplek beweeg het. Ek het geweet dat ek toe tot ’n mate veilig was, want die son het begin sak en kort voor lank het die hoefslae aangedui dat hulle terug plaas toe beweeg het. ’n Rukkie later het kampvure begin brand wat aangedui het dat mnr. Guest weereens die onwillige gasheer was.

Ek was trots op my suksesvolle krygslis, maar verder was daar nie veel om goed oor te gevoel het nie. Ek het daar in die struike gelê soos ’n dier waarop jag gemaak was, en my voet het pynlik geklop. My kamerade was weg en so ook my kommando, my perd was dood, en my saal en eiendom was in die besit van die vyand.

Omdat denke alleen nie probleme oplos nie, het ek opgestaan en ewe kruppel die donker ingeloop.

Posted in Afrikaans


Next

Previous