Stemwerwery in die Laeveld (1929)

Posted on November 25, 2014 by Cape Rebel

Uit No Outspan
deur Deneys Reitz

Die laeveld, met sy berge, riviere en woude, is pragtig en skilderagtig, maar vir stemwerwery is dit heel moeilik. Die natuur het dit in soveel waterdigte kompartemente opgedeel dat ek te perd en te voet moes reis – na weggesteekte valleie, afgesonderde mynkampe en verafgeleë bosbou-nedersettings. Van die hoogtes van Kamshlobaan, wat neerkyk op die vlaktes van Swaziland, tot by Komatipoort aan die Portugese grens het ek geswerf, en op, al langs die hange van die Drakensberg, tot by Tzaneen in die verre noorde. Ek het plakkers en boere op hulle veeplase besoek, en ook klein gemeenskappies wat tussen riviere verberg was. Daar was plekke met moderne vrugte-kwekerye, en groepe verspreid en weggesteek in die valleie van die berg, wat nog steeds gelewe en gedink het in terme van die ou republikeinse dae van dertig jaar gelede. Dit was uitputtende werk wat ek gedoen het benewens my bedrywighede in ander dele van die land.

Ek het agtergekom dat my lidmaatskap van die Parkeraad eerder ’n las as ’n bate was. Op ’n keer terwyl ek ’n vergadering onder ’n boom op die walle van die Krokodilrivier  toegespreek het, het ’n ou Afrikaanse boer opgestaan en gekla dat die seekoeie vanuit die Kruger-wildtuin sy plaas die vorige nag kom plunder het, en tamaties ter waarde van £200 opgevreet het. Hy het gesê, as ek nie beter kan omsien na die diere onder my beheer nie, sou hy en sy bure teen my stem.

By ’n ander geleentheid, net toe ek op dreef begin kom, het ’n veewagtertjie aangehardloop gekom om te sê dat ’n krokodil sy baas se bul die water ingesleep het; en ook daar het die blaam vierkantig op my skouers geval.

’n Paar dae later het ek saam met die sekretaris van ons party in ’n klein oop motorkar gery. Die pad was slegs spore met gras wat hoog in die middelmannetjie gegroei het. Skielik het ons ’n volgroeide leeumannetjie raakgestamp wat seker voor ons gelê en slaap het. Hy het met ’n woedende gegrom eenkant toe gespring, en dit het gelyk of hy reggemaak het om ons te bestorm. Toe sny die enjin uit en daar staan ons; en vir ’n oomblik was ons in ’n lelike penarie, en dit sonder ’n wapen. Toe het my metgesel die twee-sitplekmotorkar aan die gang gekry en gou het ons ons ry gekry.

Dit was vir my gereël om daardie aand ’n vergadering in Barberton toe te spreek, en ek het ten volle gebruik gemaak van daardie leeu. “Dames en here,” het ek gesê, “dit verloop heel goed met die verkiesing, maar vanoggend het ons ons eerste terugslag gehad.” Die gehoor het hulle ore gespits, en ek het voortgegaan om hulle die storie van ons botsing te vertel. Ek het bygevoeg dat, omdat ek geweet het dat die leeu nie op die kieserslys was nie, ons nie stilgehou het om met hom ’n redekawelry aan te knoop nie. Hulle het die storie geniet, en ek het ’n mosie van volle vertroue ontvang.

Bo in die berge is daar Boere nedersettings wat amper ’n eeu gelede daar gevestig is. Vir hierdie Boere het die tyd aan die einde van die Anglo Boere-oorlog in 1902 stil gaan staan. Die Eerste Wêreldoorlog het hulle van die wêreld daar buite af soos ’n weerklank uit die verte bereik, en hulle politiek het steeds om vergete geskille van die verlede gedraai. ’n Man wat aan die Britse kolonne in 1900 oorgegee het, was ’n uitgeworpene, en slegs daardie bittereinders wat reg tot die einde geveg het, is gerespekteer.

Ek het die berg opgeklim om ’n paar van hierdie stoere bergbewoners te ontmoet – verkramp en primitief, maar voortreflik, dapper en hardkoppig. Toe ek begin praat, het ’n geharde en ervare ou veteraan opgestaan en, terwyl hy na die gehoor gedraai het, in Afrikaans gesê: “Voor ons die kandidaat toelaat om voort te gaan, wil ons weet waar hy in die laaste oorlog was.” Ek was reg om daarop te antwoord dat ek in Oos-Afrika en in Frankryk diens gedoen het, toe hy die volgende by sy vraag gevoeg het: “Wat ek eintlik bedoel is, het hy saam met generaal Botha of met generaal De Wet in die Vrystaat  gedien?” Ek het geantwoord dat ek reg tot aan die einde onder beide van hulle gedien het.

Ek dink ek het die meeste van hulle stemme gekry.

Teen stemdag was ek fisies ’n wrak; maar ek was die parlementslid vir die Laeveld.

Posted in Afrikaans


Next

Previous