'n Klop in die Nag

Posted on June 26, 2014 by Cape Rebel

Uit Kommando – Van Perde En Manne 
deur Deneys Reitz

 

Na omtrent ’n uur het ek die geluid van ’n gesang en ’n huisorrel gehoor. Dit was die soort geluid wat in omtrent elke Boere plaashuis gevind kon word. Ek het geweet ek was naby vriende. Toe ek aan die deur geklop het, was daar eers ’n doodse stilte. In daardie onrustige tye het ’n klop laat in die nag beteken daar was ’n militêre ondersoek aan die gang, maar toe het ek voetegeskuifel gehoor en die deur is oopgemaak. 

Die hele familie het van binne af angstig toegekyk. Toe ek hulle vertel het wie ek was, het hulle my so te sê die huis ingesleep, so gretig was hulle om te help. Ek moes seker sò verwaaid gelyk het, want die vrouens het uit jammerte selfs ’n traan gestort  terwyl die skoen van my seer voet afgehaal is. En ook toe hulle gedurende die meer pynlike proses om ’n doring, amper ’n duim lank, wat in my handpalm gesteek het toe ek daardie middag van die perd afgegooi was, uitgetrek het. Hulle het warm water gaan haal en skoon lakens opgeskeur vir verbande. Ek het ’n bord kos en koffie gekry, en die wonderlike mense het selfs gestry oor wie my gaan bedien. So gretig was hulle om hulle meegevoel te betuig, alhoewel hulle geweet het dat dit boetes en tronkstraf kon beteken. Nadat hulle na my omgesien het, het hulle verder beraadslaag. Almal het saamgestem dat ek nie daar kon bly nie, want selfs as die voortdurende patrollies my nie sou uitsnuffel nie, sou van die gekleurde werkers my teenwoordigheid wel rapporteer, aangesien hulle almal in die Kaap aan die Britte se kant was. Ek het hulle verseker dat ek met gemak kon loop, en dit is toe besluit ek moes aanhou om weswaarts te beweeg met die hoop dat ek generaal Smuts sou raakloop. ... Ek het gereedgemaak om te vertrek en het net gewag vir my stewel om reggemaak te word.

Die hoof van die familie, ’n patriarg van sewentig, het daarop aangedring om op die eerste deel van my reis my gids te wees. Sy seuns het aangebied om dit te doen, maar hy het hulle aanbod van die hand gewys. ’n Streepsak is vol kos gepak en na ’n roerende afskeid het ek en die ou oom vertrek. Vir ure aanmekaar het ons aangestap totdat ek kon sien dat sy kragte hom in die steek begin laat het. Ek wou nie hê hy moes verder stap nie, en met ’n bewoë stem het hy my die Here se bystand toegewens. ... 

Ten einde laaste, toe die dag al gebreek het, het ek die sagte gerunnik van ’n perd gehoor. Ek het versigtig vorentoe beweeg en die sewe manne  vas aan die slaap onder die bome gevind. Hulle was uiters verbaas om my te sien, want hulle het gedink dat ek òf dood òf gevang was.

Posted in Afrikaans


Next

Previous