ABO Spioen – Maria Koopmans-De Wet

Posted on June 10, 2014 by Cape Rebel

deur Marthinus van Bart

 

Maria Koopmans-De Wet (1834-1906) was lid van ’n prominente Afrikaanse gesin in Kaapstad. Haar vader, Johannes de Wet, LL.D., was ’n advokaat en waarnemende voorsitter van die Kaapse Wetgewende Raad. Hierdie gekultiveerde, welbelese en hoogs intelligente vrou het by almal respek afgedwing, maar sy is ook gevrees deur Cecil John Rhodes en sy dampkring: Rhodes het haar die gevaarlikste persoon in die Kaapkolonie genoem, “selfs gevaarliker as Onze Jan Hofmeyr van die Afrikaner Bond”. Vanweë haar skerp intellek en welsprekenheid was sy ’n gedugte opponent van Rhodes.

Toe Rhodes ’n deel van die Kasteel wou sloop om voorsiening te maak vir ’n tremspoor na Seepunt, het sy hom teengestaan. Hy het teengestribbel dat dit net ’n klein puntjie van die vesting was wat afgebreek sou word. Maria het teruggekap: “Mnr. Rhodes se neus is net ’n klein puntjie aan sy gesig. Laat hy dit afsny en dan in die spieël kyk hoe dit lyk.”

Ook het sy gekeer dat ou akkerbome in die Kompanjiestuin afgekap word om plek te maak vir ’n nuwe hooggeregshof tussen die Parlementsgebou en Tuynhuis. Dit is later tussen Keeromstraat en Koningin Victoriastraat opgerig.

Maria was ’n leidinggewende organiseerder van massa-protesvergaderings teen die Anglo-Boereoorlog, die verskroeide-aarde-taktiek  van die Britse leër, die konsentrasiekampe en die verbanning van Boere-krygsgevangenes. Die Britse militêre owerhede het haar gebrandmerk as synde ’n Kaapse Rebel, en die Empire-gesinde koerante het haar die skeldnaam “Koningin van die Rebelle Dames” gegee. Nadat die krygswet in Kaapstad afgekondig is, is sy in huisarres geplaas en haar woning aan Strandstraat 23 is daagliks deur die militêre polisie deursoek.

Hoewel sy dit nooit bevestig het nie, was sy inderdaad een van die hooforganiseerdes van ’n Boere-vrouespioenasienet, met die bynaam die “Kappie Kommando”, wat aan die Boere se geheime diens, Speciale Diensten der Z.A. Republiek, in Pretoria verslag gedoen het. Toe die militêre polisie se speurders op ’n dag onverwags opdaag om Maria se woning te deursoek, was sy juis by haar werkstafel met spioenasiebriewe besig. Sy het haar naaldwerkmandjie, wat ook op die tafel was, geneem en aan die speurders gegee met die sarkastiese opmerking dat hulle dit nog nie deurgesoek het nie. Hulle was toe so verleë, dat hulle die inkriminerende briewe voor haar skoon misgekyk het.

Maria het ook nou met Emily Hobhouse, verskeie bystandkomitees – sommige ook in die buiteland – asook die Rooi Kruis saamgewerk om geld in te samel vir die aankoop van kos, medisyne en klerasie wat na die konsentrasiekampe en die krygsgevangenekampe versprei is. Die proviand is in haar woning verpak en van daar versprei. Sy het gereeld met vooraanstaande Britse pro-Boer intellektuele, soos William Stead, gekorrespondeer.

Die neoklassieke Koopmans-De Wet-woning, ontwerp deur Louis Michel Thibault, is ’n verklaarde gedenkwaardigheid. Na Maria se dood op 2 Augustus 1906 is die huis in ’n 18de-eeuse huismuseum verander en dit bestaan steeds so voort.

Posted in Afrikaans


Next

Previous