Die Rebelle van 1914 en die Voortrekker-lappop

Posted on June 19, 2014 by Cape Rebel

deur Marthinus van Bart

 

In Oktober is dit ’n eeu gelede dat ’n rebellie teen die destydse Suid-Afrikaanse regering uitgebreek het wat die land tot in sy fondamente geskud het. Die gewapende opstand deur meer as 12 000 Afrikaners het einde Oktober 1914 uitgebreek. Teen die Kersfees was dit met groot geweld en lewensverlies onderdruk. Vooraanstaande oud-Boereleiers was betrokke, soos generaals C.R. de Wet, Koos de la Rey, Manie Maritz, J.C.G. Kemp en C.F. Beyers. De la Rey en Beyers is doodgeskiet, terwyl van die ander in die tronk beland het en swaar beboet is. Ander, soos Maritz, het land-uit gevlug.

Duisende rebelle is beboet en boonop moes hulle ’n enorme oorlogskuld weens skade en die opkommandering van voorraad en eiendom delg. Die meeste rebelle was arm, kon nie betaal nie, en eissake het in die howe gevolg. Veilings van huise, huisraad en ander eiendom het landwyd soos ’n swaard oor hul kop gehang.

 Een veiling wat op die dieretuin-terrein van Pretoria gehou is, het egter nie regstreeks met die skuldeisers te doen gehad nie, maar wel met ’n spontane, kragtige helpmekaar om duisende van ondergang te red.

Op Woensdag 4 Augustus 1915 het 6 000 Afrikanervroue na Pretoria opgeruk om ’n petisie, onderteken deur 65 000 vroue vanoor die hele land, aan die goewerneur-generaal, lord Sidney Charles Buxton, by die Uniegebou te oorhandig. Daarin is die vrylating van die rebelle-offisiere en die vermindering van die boetes en eise geëis. Aan die spits van die optog was mev. Hendriena Joubert (85), weduwee van kommandant-generaal Piet Joubert, weermagshoof van die gewese Zuid-Afrikaansche Republiek van president Paul Kruger. Die vroue het in rye van ses by mekaar ingehaak die hoofstraat afgestap, met mans aan die flanke om intimideerders en molesteerders weg te hou. 

Buxton wou nie op die petisie reageer alvorens hy met die eerste minister, generaal Louis Botha, en die minister van justisie en oorlog, generaal Jan Smuts, gekonsulteer het nie. Die vroue het hom ’n dag tyd gegee om te antwoord. 

Die volgende oggend is die vroue by die Dieretuin deur leiers toegespreek om die gemoedere hoog te hou. Die Helpmekaar-fonds, wat kort tevore op Reitz in die Vrystaat gestig is sodat die Afrikaners mekaar geldelik kon bystaan om die boetes en oorlogskuld te betaal, is druk bespreek. Dit is toe dat mev. Joubert, wat die Groot-Trek as kind, die Eerste Vryheidsoorlog van 1980-1881 as jong eggenote van die generaal,  en die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 as bejaarde meegemaak het, die vroue toespreek en ’n Voortrekker-lappop, geklee in die tipiese Voortrekker-kleredrag, ten bate van die Helpmekaar-fonds laat opveil. Die hoogste bod is ingesit deur ’n boerevrou van Victoria-Wes, mev. G.W. van Heerden van die plaas Beestekraal. Sy het 6 pond 5 sjielings aangebied, ’n aardige bedrag vir daardie tye van groot armoede en swaarkry. 

Lord Buxton het die volgende dag geen antwoord vir die vroue gehad nie. Boonop was Botha en Smuts woedend dat hierdie vroue, wat geen stemreg of regstatus in die gemeenskap gehad het nie, dit durf waag het om eise aan die regering te stel. (Stemreg is eers in 1930 deur die toedoen van generaal J.B.M. Hertzog deur wetgewing aan wit vroue toegeken.) 

Die Helpmekaar-fonds was daarna so suksesvol, dat nie net al die skuld betaal kon word nie, maar dat ’n Helpmekaar Studiefonds gestig kon word om Afrikaanse studente geldelik te help om geleerd te kom. Professor Christiaan Barnard, die beroemde hartsjirurg, was een van dié Helpmekaar-studente.

Posted in Afrikaans


Next

Previous