Uit Polfyntjies vir die Proe
deur Dr. C. Louis Leipoldt
Daar is miskien geen enkele ander gereg wat as meer eg-Afrikaans beskou kan word as sosaties nie. En tog is dit hoegenaamd nie enig aan Suid-Afrika nie, maar ’n gereg wat onder verskillende name alom in die wêreld bekend is. In Rusland kry ’n mens bv. stukkies kalfs-, varkvleis, uie of ingelegde komkommer langs mekaar in ’n stokkie geryg en op die rooster gebraai. Die stukkies vleis word eers in suurmelk gelê, daarna in peper en sout gerol, met ’n huisie knoffel gevryf en dan gebraai. Die smaak is natuurlik glad nie soos dié van sosaties nie, maar die manier van doen daarmee is min or meer dieselfde. In die suide van Frankryk in daardie pragtige Adoerdal waarvandaan ons sommige van ons geregte gekry het, vind ’n mens ’n ander soort sosatie. Die vleis word eers gemaal, dan deurspek en in dermpies gestop. Hierdie worsies word dan in ’n pekel gelê, daarna in ’n houtpennetjie aan mekaar geryg en onder die as of ook op ’n rooster gebraai.
Tant Alie sê: “Dis glad nie sosaties nie; dit is sommer een van die soorte Franse gemors wat ’n mens in hul restaurants kry.” Sy weet daarvan, want toe sy nog jonk genoeg was om met haar manlike tydgenote op te sit, het sy Parys besoek. Volgens haar was dit destyds ’n snaakse Parys, sekerlik nie soos dit vandag is of in my tyd was nie. Ek het ten minste nooit ’n gemors daar geëet nie, hoewel ek saamstem dat ek nooit egte sosaties daar teengekom het nie.
“Nee,” sê tant Alie, “om die waarheid te sê, kind, kry ’n mens nou nie meer sosaties soos oorlede ouma Liesbet gemaak het nie. Dit was vir jou sosaties, hoor!”
Sy het my omslagtig vertel watter soort sosaties dit was. En aangesien ek erken dat ouma Liesbet – ek het haar nooit geken nie, want toe ek gebore is, het sy die aardse vir die hemelse verwissel, en al wat oorgebly het, was die herinnering aan haar ongeëwenaarde kookkuns, veral wat betref die maak van pannas, sult, en Spaansriet-karmenaadjies, waaroor ek miskien later iets sal vertel – dat ouma Liesbet dus buitengewoon ortodoks en volgens reël haar sosaties gemaak het, kan ek niks beter doen as om die leser te vertel hoe sy dit geprakseer het nie. …
13 Junie 1945
Next →
← Previous