Ons Brandewyn

Posted on August 30, 2014 by Cape Rebel

Uit Polfyntjies vir die Proe
deur Dr. C. Louis Leipoldt

 

Ek kan my verstout om te sê dat ons beste wynbrandewyn met die allerbeste buitelandse soorte – selfs die befaamde Cognac-soorte, afkomstig uit die Charente-streek van Frankryk – kan wedywer, en daarvoor nie hoef terug te staan nie.

Daar word baie onsin uitgekraam oor “ou brandewyn”. ... In die praktyk is dit egter ondoenlik om brandewyn alte lank in die vat te laat bly; hy verasem, en ’n klein vaatjie brandewyn sal na tien jaar opgedroog wees. Dit is dus duidelik genoeg dat geen brandewyn ’n honderd jaar lank in ’n vat kan bly lê nie. Net so duidelik is dit dat ’n “Napoleon-brandewyn” van 1815 wat in ’n bottel bewaar is vandag nie beter is as wat hy destyds was nie, en ons het vandag brandewyn wat ontsaglik beter is as dié van destyds.

Die waarheid is dat stokou brandewyn byna ondrinkbaar is, omdat dit so deurtrek is met esters en vlugtige sure dat die mond en lippe verbrand. ’n Klein hoeveelheid van so ’n stokou brandewyn word gebruik om goeie, jonger soorte te sny; dit maak die jonger vogte lywiger en gee hulle ’n heerlike geur, nasmaak en olieagtigheid. Sulke byvoegsels moet egter uiters versigtig gebruik word; die “sny” van brandewyn is ’n saak vir die kundige kenner en dit is dus uitsluitend die werk van deskundiges verbonde aan die groot firmas.

Vir die gewone liefhebber is ’n goeie wynbrandewyn, so binne tien en twaalf jaar oud, net so lekker en smaaklik as ’n veel duurder soort wat met ’n stokou vog gesny is, hetsy dit ingevoer of inheems is. Ons het nou baie sulke goeie brandewynsoorte in die handel, en jy kan dit van enige wynhandelaar kry. Probeer die verskillende soorte. Gooi van elkeen ’n paar druppels in ’n droë wynkelkie – dit is glad nie nodig om ’n groot “brandewynbokaal” te gebruik nie – en keur elkeen eers met neus en tong. Verwarm die kelkie tussen jou hande om die vlugtige sure te laat verasem. Gee nie te veel ag aan die kleur nie; mits dit nie te donker is nie; meestal word die kleur gewysig deur byvoeging van gebrande suiker of so iets, wat eintlik nie die smaak veel beïnvloed nie. ’n Alte ligte kleur laat jou vermoed dat die brandewyn nie alte lank in eikevate gelê het nie, maar jou tong en verhemelte is ’n beter gids as jou oog. Proe nou die verwarmde vog; “voel” dit op jou tong en laat dit verder verwarm, sodat die agter-verhemelte die geur daarvan kan smaak. Probeer om te skat in hoeverre die smaak egaal, olieagtig, sonder “byt” maar tog met ’n aangename prikkel is. Sluk dit dan in en proe die nasmaak. Neem daarna ’n slukkie water en probeer die ander monster op dieselfde manier en oordeel na jou eie smaak watter een jy verkies.

Spuit nou ’n paar druppels sodawater in een van die kelkies en probeer weer. Kyk watter een van die verskillende monsters die mengselproef deurstaan. Die eersteklas soort sal dadelik sy goeie hoedanighede aan die mengsel meedeel; sy geurigheid word deur die koolsuurgas as ’t ware ontkiem; sy prikkelende smaak word in sekere mate versterk. Daarenteen sal jy, as jy ’n gevoelige smaak het, dadelik die slegter soort, dié met nog ’n klein bietjie van die vlugtige sure wat ’n goeie brandewyn aan die hout van die vat behoort af te gee, bespeur. ’n Klein veranderinkie in die bysmaak toon die teenwoordigheid van die sekondêre wyngees-soorte; selfs miskien ’n ietsie bitter is daar te bespeur. Vergelyk nou jou waarnemings na die mengselproef met dié wat jy opgedoen het toe jy die suiwer vog gesmaak het en maak jou keuse.

Die brandewyn wat jy die lekkerste vind, is die soort wat met jou die beste sal akkordeer. Moenie geïmponeer word deur etikette of advertensies nie; maak jou eie keuse volgens jou eie smaak. En behandel daarna jou keuse met liefde en verstand. Gebruik hom met matigheid, liefs na ’n goeie middag- of aandete, saam met of na die koffie, as jy hom in sy naakte reinheid wil inslurp. Anders, en weer in matigheid, met skoon bronwater, of, as jy verkies, met spuitwater. En op ’n koue winteraand, as die wind buite huil en jy daarvan oortuig is dat jou lammers veilig beskut in die kraal is, met warm water, ’n stukkie kaneel, ’n klontjie suiker en ’n skilfertjie suurlemoenskil as ’n warm drankie.

10 September 1943


    Posted in Afrikaans


    Next

    Previous