deur Herman Charles Bosman
’n Maand gelede het ek die Marico bosveld weer besoek. Dis ’n distrik in Transvaal waarheen ek ’n lang ruk gelede as ’n onderwyser gestuur was. In die jare wat gevolg het, het ek ’n aantal eenvoudige stories oor dié deel van die land geskryf wat ek glo, na my beskeie mening, nie sonder ’n sekere mate van literêre meriete is nie.
Daardie nag op die trein op pad terug Bosveld toe, het ek langs ’n soldaat gesit wat aan my gesê het: “So gou as ek nie meer hierdie uniform hoef aan te trek nie, gaan ek weer met beeste smokkel.”
Hierdie woorde het my met opwinding vervul. ’n Klomp van my stories het juis gegaan oor die aloue Marico gebruik om beeste oor die grens van die Bechuanalandse Protektoraat te smokkel. Ek het hom dus gevra of die smokkelry steeds plaasgevind het. “Meer as ooit,” het die soldaat my vraag beantwoord. Hy het deur die treinvenster na die donkerte buite gestaar. “En ek sê vir jou, soos ek op hierdie oomblik met jou sit en gesels, is daar iemand daar buite wat beeste deur die grensdraad inbring.”
Ek was baie bly om dit te hoor. Ek was bly dat die enigste gedeeltes van my stories wat verouderd kon geraak het, dit vrygespring het. Dis net dinge wat indirek met die ekonomie te doen het, wat kan verander. Nie so met droogtes en die menslike natuur nie.
Die volgende oggend was ons in Mafeking. Mafeking val buite Transvaal. Dis omtrent twintig myl binne die grense van die Noord-Kaap. En om Ramoutsa, ’n swart dorp in die Betchuanalandse Protektoraat, te besoek, moes ons eers ’n permit van die immigrasie-amptenaar in Mafeking verkry. Ramoutsa is die naaste punt langs die spoorlyn na daardie gedeelte van die Groot Marico waarheen ons van plan was om te gaan. Dit het alles op een of ander manier heel verwarrend gelyk. Ons wou maar net van Johannesburg na ’n area in die Noordwes-Transvaal gereis het, maar om daar te kon kom, moes ons eers die Kaap-provinsie binnegaan, en van daar af moes ons deur die Betchuanalandse Protektoraat, ’n kroonkolonie, reis. En die kroonkolonie kan jy nie binnegaan nie, voordat die immigrasie-beampte nie eers Pretoria gebel het nie.
Ons het Ramoutsa laat daardie middag eers bereik.
Van daar af het ons per motor Marico toe gery. Binne ’n uur het ons die grens oorgesteek en was ons weer in Transvaal. Ons was nou uiteindelik op Transvaalse grond, en natuurlik was ons vol verlange aangesien ons sedert vroeg daardie oggend al op vreemde plekke was. Op daardie oomblik dus, toe ons die doringdraadheining wat die Betchuanalandse Protektoraat van die Marico skei, oorgesteek het, het ons die kar gestop en die veld in gestap. Ons het gesê dit was lekker om jou voete weer op Transvaalse grondgebied te sit. Ons het ook gesê hoewel dit gaaf was om deur die buiteland te reis, wat ons sedert sesuur daardie oggend gedoen het, en dat buitelandse reise ’n verbreding van die gees is, was ons bly dat dié ervarings nie na ons koppe toe gegaan het nie, en dat ons nie toegelaat het dat ons deur uitlandige lewenswyses en filosofieë beïnvloed was nie.
Ons het deur die bos gery op klipperige paadjies wat nie veel meer as spore tussen die bome onder deur die takke was nie. Die dorings het teen die voorruit en die masjienkap gekrap op dieselfde manier as jare gelede toe ek vir die eerste keer die Marico besoek het. Ek was bly om te weet dat niks verander het nie.
Met sononder was ons in die skadu van die Dwarsberge, nie te ver weg van ons bestemming af nie, en ons het op ’n plek in die veld aangekom wat ek herken het. Dit was een van die busstoppe waar die twee-weeklikse regeringslorrie van Zeerust af op sy pad na die Limpopo toe, stilgehou het. Die lorriedrywers het jare gelede al geweet dit was ’n stilhouplek, want daar was ’n groot miershoop en bo-op was daar ’n koedoehoring ingedruk. Die plek het nie verander nie. Die miershoop was nog steeds bekroon met wat gelyk het na dieselfde koedoehorings. Die stilhouplek het deur die jare tussenin nie juis opmerklik ontwikkel nie. Die enigste teken van vooruitgang was, as ’n byvoeging tot die horings bo-op die hoop, die verdere verfraaiing van ’n geroeste melkkan waarvan die bodem uitgestamp was.
En so het teruggekeer na daardie deel van die land waarheen die Transvaalse Onderwysdepartement, in wat hulle goed geag het om te doen, my jare gelede gestuur het. Ek weet van geen ander plek nie waar die atmosfeer so gelade, so vreemd en donker deurdrenk is met daardie stof wat die outentieke stempel van Suid-Afrika dra.
Next →
← Previous