Paysage De La Hoëveld II

Posted on September 18, 2014 by Cape Rebel

 deur Herman Charles Bosman


Al langs die Kaapse strande het ek duisende en nogmaals duisende van hierdie middelmatige skilderye gesien, en hulle was ’n eindelose bron van ellende vir my. Al wat hulle nodig gehad het, was rame. En daarna het dit vir my so geword dat ’n klomp van die skilderstukke werklik rame omgehad het, en sommige van die rame het selfs klein rooi strokies op hulle gehad. En eendag toe ek verby ’n hele klomp van die beplakte goed geloop het, het ek agtergekom dat ek onbewustelik my hand in my sak gesteek het om die katalogus te kry. Toe het ek geweet dat ek nooit weer langs enige deel van die Kaapse Skiereilandse kusfront moet gaan wandel nie.

Maar dis anders om ’n paar myl buitekant Johannesburg op ’n bus of plaaslorrie op die paaie van die Transvaalse hoëveld voort te snel in die doudeurweekte lig van die nuwe dag voor die son uit is. Hierdie is geheel en al ’n ander soort van werk. Een van die dinge is dat dit baie vlugtige waterverfstrepe met ’n volle kwas is – dikwels sommer op enige wyse neergewerp op deurweekte papier, asemloos meesterlik, met die uitnemende agterlosigheid van oortuiging. En dis alles vroeë impressionisme, voor die impressioniste wiskundiges geword het. En net buitekant die Johannesburgse munisipale area is daar ’n manjifieke voorbeeld van byna-fauvisme, ’n buitengewone stukkie werk, ’n opwindende vlek van donker bome met silwer lig wat deur hulle breek, teen ’n agtergrond van verdoeselde heuwels en aardse lug.

Daar is ook ’n interessante skilderstuk, hoër op langs die Muldersdrifpad, met rye bome en ’n paar plaashuise versigtig uitgelê in ooreenstemming met ’n ingewikkelde stelsel van dalende vlakke. Maar terwyl ek die vernuftigheid van die skilwerdoek kan bewonder, lok dit my nie sterk, direk en emosioneel nie. Daarin kan ek die begin van die trompe l’oeil van die verval van die laaste jare van die negentiende eeu aanvoel.

Die laaste deel van die vroeë impressioniste op die pad word sigbaar net op daardie oomblik dat die son opkom. Ek kan nie nou die naam van dié skilderstuk onthou nie. En ek kan ook nie die kunstenaar se handtekening uitmaak nie – dit lyk soos ’n geskrabbelde “G” met ’n paar wriemelinge wat daarop volg (wat my laat dink dat dit moontlik Gauguin mag wees voor hy na die Suidsee gegaan het); andersyds mag dit net sowel ’n “S” wees met ’n gekrap wat volg. Seurat, miskien? Ek het al baie daaroor gewonder.

Ek het die busbestuurder gevra, maar hy sê hy weet nie.

Naskrif

Dit is lente op die plaas. Die amandelbome en die appelbome, die perske en appelkoos en kersiebome, is oortrek van pienk en wit bloeisels. En ek, ’n neurotiese stadsjapie, vir wie die lentetye van die afgelope vier of vyf jaar met bestudeerde ongeërgdheid verbygegaan het – dit bring my nòg bekoring nòg ekstase nòg hartseer – beskou die jaarlikse wonder van ontluikende blomme sonder die ontwaking van herinneringe en sonder verwondering.

Posted in Afrikaans


Next

Previous