Uit Polfyntjies vir die Proe
deur Dr. C. Louis Leipoldt
Dis nou die tyd vir waterblommetjies.
My oorlede tannie Trifosa het my altyd vertel dat die eintlike waterblommetjie-oes in die lente moet wees. Haar grootjie het haar vertel dat in die ou Kompanjiesdae die Hantam-volk gekom het om die regte waterblommetjie-uintjies uit te grawe. Maar dit doen ons nie meer vandag nie. Ons eet net die boonste deel, die blomme. Wat sy vertel het, is ook waar: Thunberg [’n Sweedse botanis, 1943-1828], wat glo ’n soort smous hier rond was [Thunberg het tussen 1772 en 1775 in die Kaap gebly en het 3 000 plantsoorte versamel, waarvan 1 000 nuut was tot die botanie], vertel dat die skepsels dit ook in sy tyd gedoen het, en dat die waterblommetjies die bolle en nie die blomme is nie. Maar die enigste keer wat ons dit probeer opgrawe het, kon ons net potklei en ’n dooie water-muishond vind.
Dus beperk ons die waterblommetjies vandag tot die blomme en die stengels. En selfs daarvan kan ons ’n lekker bredie maak. Dis jammer genoeg dat die goed nou so skaars is. Vroeër was dit moontlik om op die Parade of by elke straathoek ’n klonkie te kry met ’n halfdosyn kooksels, vir trippens die kooksel. Nou moet jy wrintig tot twee sjielings vir ’n kooksel betaal en dan nog dankiebly wees as jy dit kry. Voorverlede week het ek die vlei vol gesien van die blommetjies, maar was daar ’n klonkie te kry wat wou instap om die goed te gaan pluk? Nie een nie. Ek moes self broek oprol, en natuurlik, die eerste ding waarop ek trap, was ’n oorblyfsel van ’n jeropeikbottel waarvan ek nog hink. Maar ons het darem teruggekom met drie, vier kooksels.
Die geheim van ’n goeie waterblommetjieskottel – soos dan ook die geheim van elke loofgroentegereg – is die huwelik van die groen – in hierdie geval wit – groente met vet. Die fondament van elke bredie behoort te wees ’n paar stukkies goeie vet skaapribbetjie, deeglik gesmoor, òf in sy eie vet òf met behulp van ’n bietjie netvet. Tant Trifosa het my eenmaal gewys hoe sy beesmurg gebruik vir haar bredie, maar ek is nie daarvan oortuig dat murgvet so ’n loofbredie smaakliker maak nie. Ek dink die besondere lekker smaak wat tant Trifosa s’n gehad het – en ek gee toe dat niemand ’n beter bredie as sy kon kook nie – te danke was aan die plukseltjie roosmaryn wat sy altyd bygevoeg het.
Smoor die vleis dus goed. Werklik smoor, nie braai nie. Stadig en versigtig, want soos die Suinige Keukenmeid sê: “Dat goed schijnt zeer lightelijck aan te branden en vereijscht dus met voorzicht gehanteerdt te worden”.
Was intussen die waterblommetjies – neem net die blomme en blomblare en die jongste, sagste stengels – in soutwater; droog af, en sit dit op die vuurherd in ’n ysterpot met genoeg water om dit te bedek. Laat dit opkook. Die water trek die bruin, bitter sap uit die stengels, en sodra die water rooibruin is, moet die pot afgehaal word. Gooi deur ’n vergiettesen en gooi die rooi water weg (oorlede tannie Trifosa was eerlik oortuig daarvan dat dit haar jakobregoppe ’n veel beter kleur gegee het). Voeg nou die waterblommetjies by die gesmoorde vleis, en sit ’n klont vet by. Voeg na smaak by ’n lourier- of suurlemoenblaar of ’n plukseltjie van watter ander kruie jy verkies. Ek het reeds al opgemerk dat my ou tannie bra gesteld was op roosmaryn, en dit is die moeite werd om dit te probeer. Sit die deksel op en laat goed smoor, twintig minute lank; skud gereeld en sorg dat dit nie brand nie.
Neem nou twee, drie hande vol suringblare – die geel suring wat in die wingerd groei is die beste. As jy tuinsuring gebruik, sny die dik stengel eers weg en kerf die blare goed. Gooi kokende water op en droog weer goed af. Met die wilde suring, wat veel sagter is, hoef jy nie eens die blare op te kerf nie. Druk dit net goed uit in water om die blare te kneus. Voeg dit dan by die bredie en laat weer smoor. Roer goed sodat die groente mooi in die vet smoor, en deur en deur daarmee geolie word. Sorg dat die hitte van die vuur nie te sterk is nie, anders verloor die bredie sy groen kleur.
Eindelik die speserye: sout na smaak, ’n stukkie groengemmer, ’n flentertjie groenrissie, ’n vingerhoedjievol fyn witpeper. Skep op en bedien met pap rys.
Wat om daarby te drink? ’n Goeie wit wyn, goed afgekoel en nie alte droog nie. ’n Riesling-soort as dit te kry is of anders ’n Sauvignon. Altwee akkordeer eersteklas met die fyn smaak van die waterblommetjieblare, waarmee die vleis dan ook deurtrek is.
24 September 1943
Next →
← Previous