Die Kaapkolonie

Posted on October 02, 2014 by Cape Rebel

Uit Kommando - Van Perde en Manne 
deur Deneys Reitz

 

“Die avonture van hierdie handjievol onverskrokke manne, aangevoer deur generaal Smuts, vorm een van die interessantste episodes in die hele verloop van die guerrilla oorlog.” – The Times History, v, 302.

Die plek waar ons generaal Smuts en sy kommando ontmoet het, was binne sig van die klein dorpie Zastron wat omtrent vyftien myl van die Oranjerivier af is. Sy voorneme was om gedurende die dag nader te beweeg en dan in die donkerte van die nag die rivier oor te steek. Teen die middag het ons begin beweeg en omtrent vyfuur die aand kon ons ’n donker streep voor ons sien. Dit was die kloof en op die bodem daarvan, tussen hoë rotskranse, het die rivier gevloei.

Ongelukkig was dit nie al wat ons gesien het nie. Aan ons kant van die canjon, vir myle aaneen na beide kante toe, was daar ’n kordon van Britse troepe. Hulle is daar gestasioneerd om enige deurgang te verhoed. Waar daar ook al ’n voetpaadjie was wat onder na die rivier toe gelei het, het daar tentkampe gestaan. Die area tussen die kampe is gepatrolleer deur berede soldate wat klaarblyklik geweet het van ons koms.

Toe generaal Smuts dit gesien het, het hy ons teruggelei na ’n reeks koppies waar ons tot die volgende dag gewag het. Intussen is manne uitgestuur na buiteposte in daardie omgewing op soek na verkenners wat vir ons as gidse kon dien.

Teen skemering daardie aand het ’n jong offisier, Louis Wessels, daar aangekom met vyftig manskappe. Dit was ’n geharde span wat alreeds vir meer as ’n jaar saam met hom bedrywig was.

Hy het vir ons vertel dat die Engelse kolonne besig was om van agter nader te beweeg. As ons nie daardie nag daarin slaag om oor die rivier te kom nie, sou ons vasgekeer wees. Hy het verder bygevoeg dat die rivier orals moeilik gaan wees as gevolg van die diepte van die kloof en die loodregte kranse. Maar hy het ’n veteraan van die Basoeto-oorloë saam met hom gebring wat geweet het van ’n paadjie wat moontlik gebruik sou kon word.

Generaal Smuts het besluit om dadelik die taak aan te pak. In die naderende donkerte het ons saam met Wessels en sy manskappe verder gery. Hulle het toegestem om saam met ons die Kolonie binne te gaan. Vir ure aaneen het ons oor ongelyke terrein beweeg en toe teen ongeveer drie-uur die oggend, het ons ’n wit glinstering daar ver onder opgemerk – daar waar die Oranjerivier gekook en gekolk het in sy nou kanaal. Dit was nog steeds pikdonker toe ons die kant van die rivier bereik het, ná ons die laaste steil afdraande waarheen ons gids ons gebring het, aangedurf het. Gewis het geen ander berede mag voorheen daar deurgegaan nie. Op ’n streep het ons begin om die rivier oor te steek. Dit was ’n sterk, onstuimige stortvloed van water – nie breed nie, maar so vinnig-vloeiend dat ons perde skaars hulle balans kon behou. Toe die oggendstond die kranse verhelder, was die laaste man deur, en ek het ten einde laaste in die Kaapkolonie gestaan.

Posted in Afrikaans


Next

Previous