deur Herman Charles Bosman
Daar was kenmerke van die Marico-bosveld wat amper te bont was. Daardie gedeelte van die land was sedert die Anglo-Boereoorlog en die runderpes so te sê vervalle. Baie van die plase noord van die Dwarsberge was vir net ’n bietjie langer as tien jaar bewoon deur plaasboere wat van die Noord-Kaap en Wes-Transvaal die Marico binne getrek het. Dié plaasboere was ware Boere.
Daar word van my gesê dat ek ’n diepe insig het in die karakter van die Afrikaner wat op die platteland woon. Hierdie kennis het ek in die Marico opgedoen, waarnatoe ek gestuur was toe my gees nog die ontvanklikste vir indrukke was.
Dan was daar die bos. Doringbome. Withaak- en kameeldoringbome. Die kremetartboom. Swarthaak en blinkblaar en wag-’n-bietjie. Moepels en maroelas. Die songebakte vlaktes en die doringbome en Suid-Afrika. Bome is meer as plantegroei en meer as simbole en meer as flou sentimentaliteit. Dit nieteenstaande, wat die eikeboom en die esseboom en die sipres vir Europa is, so is die doringboom vir Suid-Afrika. En as lourier en mirt vir snoere en kranse is, so is dorings vir ’n kroon.
Die bos was bewoon deur koedoes en koeie en duikers en steenbokkies en osse en gemsbokke en donkies en af en toe luiperds. Daar was ook ribbokke in die kranse en groen en swart mambas, waaroor daar skrikaanjaende stories vertel is, en muile wat gebruik was om karre te trek, want dit was ’n ongesonde area vir perde. Oor muile is ook bloedstollende stories vertel.
Die sonsondergange in die Marico-bosveld is ongelooflike dinge, swaar gestreep soos tronktralies en flambojant soos Afrikane se komberse.
Dan was daar boorgate, honderde voete diep, waaruit water in droogtetye met die hand in beestrôe gepomp moes word. En daar was ’n Betchuana-hoofman wat eens op ’n slag in Londen was, waar hy in oudiënsie ontvang was deur Sy Majesteit George V, ’n vorige Engelse koning. En toe, onderweg van Buckingham paleis af, op ’n vraag van die Hoë Kommissaris oor watter vorm die gesprek aangeneem het, het hy, die Betchuana-hoofman, eenvoudig geantwoord: “Ons konings weet wat om te bespreek.”
Met geleenthede was daar besoeke van die Nederduitse Gereformeerde predikante. En ’n paar vergaderings van die Dwarsbergse Debatsvereniging. En daar was verskeie plaaslike vetes. Want, hoewel die bos oneindig ver uitgestrek het, en die plase myle ver van mekaar af was, het ek agtergekom dat die paadjies deur die doringbome nou was.
Dit was na hierdie gedeelte van die land, die noordelike omgewing van die Marico-bosveld, waar Transvaal ophou en die Betchuanalandse grens begin, waarheen ek, na die afwesigheid van baie jare, weer vir ’n kort besoekie teruggekeer het. En ek het ontdek wat ek al lankal moes geweet het, dat dit in die huidige is waar spoke ronddwaal, en dat die verlede nie vol spoke is nie. Die spoke is dit wat jy in jou binneste ronddra, in jou kop, soos jy drome onder jou arm dra.
En wanneer jy ou tonele herbesoek, is dit jouself soos jy in die verlede was, wat jy daar ontmoet. En as jy verlief is op jouself – soos almal op hulself verlief behoort te wees, want dit is net op dáárdie manier, soos Christus aangedui het, dat ’n mens sy medemens kan liefhê – dan is daar ’n soete droefheid in ’n ontmoeting van dié aard. Daar is ’n sagte melankolie van die skemerte, donker oë in gesigte wat bleek in vervoering boontoe kyk. En geure. En gedagtes soos sagte reën op ou grafstene.
Toe ek vir die eerste keer Marico toe gegaan het, was die moepels amper ryp. En toe ek jare later weer teruggekeer het, was dit om te vind dat die moepels in die Marico weer aan die ryp word was.
Next →
← Previous