Uit Mafeking Road
deur Herman Charles Bosman
Wanneer mense my vra, wat nogal baie gebeur, hoe dit is dat ek die beste stories van enigeen in die Transvaal kan vertel (het oom Schalk Lourens beskeie gesê), dan verduidelik ek aan hulle dat ek net deur goeie waarneming leer – waarneming van die manier van die wêreld met mans en vrouens. Wanneer ek dit sê, knik hulle heel wys hul koppe, en sê dat hulle verstaan, en ek knik dan my kop ook heel wyslik, en dit lyk of dit hulle tevrede stel. Maar dit wat ek aan hulle sê, is – natuurlik – ’n leuen.
Want dit is nie die storie wat belangrik is nie. Wat saak maak is die manier waarop jy dit vertel. Die belangrike ding is om presies te weet op watter oomblik jy jou pyp op jou velskoen moet uitklop, en op watter tydstip in die storie jy oor die skoolkomitee op Drogevlei moet begin praat. Die ander noodsaaklike ding is om te weet watter deel van die storie uitgelaat moet word.
En dié dinge kan jy nooit aanleer nie.
Kyk na Floris, die laaste van die Van Barnevelts. Daar is geen twyfel daaraan nie dat hy ’n goeie storie gehad het, en dit moes vir hom moontlik gewees het om hierdie mense te kry om daarna te luister. En tog het niemand juis op hom, óf die dinge wat hy te sê gehad het, ag geslaan nie. Net omdat hy nie die storie ordentlik kon vertel nie.
Daarom het dit my treurig gemaak wanneer ek ookal na hom geluister het. Want ek kon presies sê waar hy verkeerd gegaan het. Hy het nooit geweet watter oomblik hy die as uit sy pyp moes klop nie. Hy het altyd sy mening oor die Drogevlei Skoolkomitee op die verkeerde plek gegee. En, wat nog erger was, hy het nooit geweet watter deel van die storie uitgelaat moes word nie.
En dit was nutteloos om te probeer om hom te leer want, soos ek gesê het, dis die ding wat jy nooit kan aanleer nie. En daarom, elke keer nadat hy sy storie klaar vertel het, kon ek hom sien wegdraai van my af, ’n uitdrukking van wanhoop op sy gesig, en stadig met die pad afstap, met geboë skouers, die laaste van die Van Barnevelts.
~
Teen die muur van Floris se voorkamer is ’n lang stamboom van die Van Barnevelts. Jy kan self daarna gaan kyk. Dit gaan vir oor die tweehonderd jaar terug tot by die Van Barnevelts van Amsterdam. Daar was ’n tyd toe dit selfs verder teruggegaan het, maar dit was voor die rysmiere aan die bokant begin en ’n hele klomp Van Barnevelts opgevreet het. Ewenwel, as jy na die lys kyk, sal jy aan die onderkant onder Floris se naam opmerk, dat daar ’n laaste inskrywing is, “Stephanus”. En na die naam “Stephanus”, tussen twee skewe strepe, sal jy die woorde: “ObiitMafeking”, lees.
Met die uitbreek van die Tweede Boereoorlog, was Floris van Barnevelt ’n wewenaar, met een seun, Stephanus, wat sewentien jaar oud was. Die kommando wat van ons kant van die Transvaal af gekom het, het opgeruimd en vrolik die pad gevat. Ons was iets besonders om gade te slaan met ons perde, ons breërandhoede en ons bandeliers, en met die son wat op die lope van ons Mausers geskyn het.
Die jong Stephanus van Barnevelt was die opgeruimdste van ons almal. Maar hy het gesê dat daar een ding van die oorlog was waarvan hy nie gehou het nie, en dit was dat ons aan die einde oor die see sou moes gaan. Hy het gesê dat, na ons die hele Kaap ingeneem het, ons kommando op ’n skip sou moes gaan om Engeland ook binne te val.
Maar ons het nie oorsee gegaan nie, nie op daardie stadium nie. In plaas daarvan het ons veldkornet ons vertel dat die burgers van ons kontrei beveel is om by die groot kommando wat by Mafeking gelê het, aan te sluit. Ons moes daar ’n man met die naam van Baden-Powell gaan skiet.
Op ’n egalige pas het ons weswaarts gery. Na ’n ruk het ons opgemerk dat ons veldkornet heel dikwels van sy perd afgeklim het om met verbygaande swartes ’n geselskap aan te knoop. Na hy hulle so ’n entjie van die pad af geneem het, het hy ernstig met hulle gepraat. Natuurlik was dit reg dat ons veldkornet aan die swartes moes verduidelik dat daar toe ’n oorlog aan die gang was, en dat die Republiek van elke swartmens verwag het om op te hou om so baie dagga te rook en om ernstig daaraan te dink wat aan die gang was. Maar ons het opgemerk dat elke keer, aan die einde van die gesprek, die swartman na iets gewys het, en dat ons veldkornet groot moeite gedoen het om die rigting van die swarte se vinger te volg.
Natuurlik het ons verstaan waaroor dit alles gegaan het. Ons veldkornet was ’n jong kêrel en hy was skaam om ons te laat sien dat hy nie die pad na Mafeking geken het nie.
Daarna, om een of ander rede, het ons nie meer soveel vertroue in ons veldkornet gehad nie.
Next →
← Previous