Uit Unto Dust
deur Herman Charles Bosman
Die manier waarop Ben Myburg sy geheue verloor het (het oom Schalk Lourens gesê), het nogal ’n diepe indruk op ons almal gemaak. Ons het gereken dat dit dié soort ding was wat ’n onverwagse skok aan ’n mens kon doen. Daar was van die manne in ons klein seksie in generaal Du Toit se kommando wat soortgelyke stories kon onthou; stories van hoe mense in ’n oogwink alles van die verlede kon vergeet, net as gevolg van ’n enkele afgryslike gebeurtenis.
Al is jy daarop voorbereid, kan só ’n skok dieselfde uitwerking op jou hê. Miskien kan dit selfs erger wees. En in dié verband dink ek dikwels aan wat in die Goeie Boek geskryf staan: dat dit wat jy die meeste gevrees het, jou nou uiteindelik ingehaal het.
~
Ons kommando het per trein tot sover as die grens gegaan. En toe die lokomotief op ’n kaal stuk veld tot stilstand gekom het, was dit hierdie keer nie vir water nie, en die masjinis en stoker het nie afgeklim met hulle moersleutels en gekruide taal gebruik nie. Toe het ons geweet dat, met die trein wat daar gestop het, dit die begin van die Tweede Boereoorlog was.
Ons het nuwe klere gedra en ons het nuwe toerustings gehad, en die son het op die lope van ons Mausers geskyn. Ons nuwe klere is deur ons veldkornette vir ons by die winkels langs die pad gekommandeer. Al wat die veldkornet moes doen, was om sy naam op ’n stukkie papier te teken vir al die goed wat sy manne gekoop het.
In die meeste van die gevalle, na ons by die winkel op hierdie manier gekoop het, het die winkeleienaar sy hortjies vir die dag toegemaak. En drie jaar sou verbygaan, en die Boereoorlog sou al iets van die verlede wees, voordat die winkelier enige neiging sou toon om sy hortjies weer oop te maak.
Miskien moes hy hulle toegemaak het voordat ons daar aangekom het.
Net een seksie van generaal Du Toit se kommando wat Natal binnegeval het, het nogal redelik gehawend daar uitgesien. Hierdie seksie het gelyk asof dit alreeds die einde van die oorlog was, en nie net die begin nie. Agterna het ons uitgevind dat hulle veldkornet nooit geleer het hoe om sy naam te skryf nie.
~
“Dit lyk nie of jy my kan onthou nie, Schalk,” het ’n jong kêrel wat na my toe aangestap gekom het, gesê. Ek het dadelik erken dat ek hom nie as Ben Myburg geëien het nie. Hy het anders gelyk in daardie deftige ligte groen rybroek en die nuwe hoed met die volstruisveer wat daarin gesteek was. Jy kon sien dat hy ’n klant by die een of ander mynkonsessie-winkel was voordat die eienaar sy hortjies kon toemaak.
“Maar ek sal jou enige plek herken, Schalk,” het Ben Myburg voortgegaan. “Net met die sien van die vinnige manier wat jy ’n paar minute gelede die seep onder jou saal weggesteek het. Ek onthou waar ek laas iets so vinnig sien gebeur het. Dit was twee jaar gelede by die nagmaal op Nylstroom.
Ek het aan Ben Myburg gesê, as hy bedoel dit was oor daardie fles brandewyn, dan moet hy besef dat daar ’n hele groot misverstand daaroor was. Buitendien was die fles nie eers vol nie, het ek gesê.
Maar ek het hom gelukgewens met sy vermoë om te kan onthou, want dit sou verseker van waarde vir die Republiek wees.
En ek was reg. Want later, toe die oorlog van die groot kommando’s verby was, en ons aanmekaar aan die terugval was, was dit Ben Myburg wat ons die volgende dag sou teruglei na die donga toe waar ons van die mieliemeel en ’n blikkie kookvet weggesteek het. En as die blikkie kookvet leeg was, sou hy ons daar en dan kon vertel of dit mense of bobbejane was. ’n Mens het ’n ander manier om kookvet uit ’n blikkie te eet as ’n bobbejaan, het Ben Myburg gesê.
Ben Myburg het onlangs met Mimi van Blerk getrou. Sy het van Schweitzer-Reneke af gekom, ’n distrik wat so ver weg as tot by die Limpopo bekend was vir sy pragtige meisies. Ek kan Mimi van Blerk goed onthou. Sy het vol rooi lippe en dik geel hare gehad. Ben Myburg het gretiglik daarna uitgesien om briewe van sy pragtige mooi vrou te ontvang. Hy het ook vir ons stukkies uit die briewe voorgelees, waarin sy ons aangemoedig het om die Engelse in die blou gras in te jaag – dit was die naam wat ons daardie dae aan die see gegee het. Vir die Engelse het ons ander name gehad.
~
Agtien maande later het ons die gewapende magte van die Republiek in veel slegter omstandighede gesien as wat ek my dit ooit sou kon voorstel, met daardie kommando’s tog nog steeds besig om te veg. Ons was in klein groepies dwarsoor die land uitgesprei – en in toiings.
Baie burgers het krygsgevangenes geword. Ander weer het hulself oorgegee aan die Britse magistrate, nie met hulle gewere in hulle hande nie, maar met hulle hoede. Daar was ook ’n klompie Joiners wat by die Engelse gaan aansluit het.
Daar waar jy op ’n koue nag om die warm vuur in die kombuis sit, is die storie wat jy vertel oor die Transvaalse Republiek, na aan die einde. Die storie van die Transvaalse Republiek was op daardie plek waar jy jou keel skoongemaak het, voordat jy gesê het met watter een van die twee kêrels die meisie uiteindelik getrou het. Was dit die beessmokkelaar of die Sondagskool superintendent wat die geld gesteel het? Óf was dit regtig ’n spook óf was dit maar net haar oom met ’n laken om hom wat Lettie van Zyl by die drif gesien het?
~
Die volgende aand het ons die rant oorgesteek en by Ben Myburg se plaas aangekom. Ons het tussen die swart berookte mure van sy eertydse plaashuis gekampeer. Met ’n paar nog bruikbare sinkplate het ons ’n ruwe skerm opgerig. En hoewel hy verseker moes geweet het wat om te verwag, was dit wat Ben Myburg dáár gesien het, so ’n skok vir sy gestel, dat hy van daardie oomblik af, alles wat hy kon onthou van die verlede, vir altyd vergeet het.
Dit was jammerlik om die verandering wat oor hom gekom het, gade te slaan. Sy plaas is in puin gelê, maar die verwoesting wat in Ben Myburg se gees plaasgevind het, was net so verskriklik.
Inderwaarheid was daar miskien niks meer in die verlede oor om te onthou nie.
Ons het ook agtergekom dat, op ’n sonderlike wyse, sekere brokstukkies van die heengegane tye weer in Ben Myburg se gees opgeduik het, en dat hy amper, maar nie heeltemal nie, dit reggekry het om van die stukkies weer saam te flans.
Ons het dit omtrent dadelik opgemerk. As voorbeeld – ons het vir ’n hele paar dae op die plaas gekampeer. Een oggend terwyl die takkies in die vuur onder ons mieliepap geknetter het, het Ben Myburg onder een van die oorblywende vrugtebome, waar voorheen ’n boord was, sy arm uitgesteek om ’n perske, wat voor die seisoen ryp en geel was, te pluk.
“Dis snaaks,” het Ben Myburg gesê, “dis asof ek kan onthou, dat ek lank gelede ook my arm uitgesteek het om ’n geel perske net soos hierdie een af te pluk. Ek kan net nie mooi onthou waar nie.”
Ons het hom niks vertel nie.
’n Ruk later is ons seksie in ’n nagaanval gevange geneem.
Vir ons was die Boereoorlog iets van die verlede. Ons was onderweg St. Helena toe. Ons is in ’n muilwa na Nylstroom toe vervoer. Dit was die naaste spoorwegstasie. Dit was ’n vreemde ervaring vir ons om helder oordag in die hoofpad af ry vir die hele wêreld om te sien. Na jare van oorlogvoering, was die gewoonte steeds daar om na die horison te kyk. ’n Bitterslegte ding van ons gevangenskap was dat daar onder die wagte van ons eie mense was.
Buite Nylstroom het ons van die muilwaens afgeklim en ’n sersant in beheer van die eskort, het ons langs die pad in vierstuks langs mekaar laat aantree. Dit was vreemd dat ons aan die einde van die oorlog moes leer om soldate te wees, in plaas van aan die begin.
Uiteindelik het ons ’n soort van formasie gevorm met die veldkornet, Jurie Bekker, Ben Myburg en ek as die eerste vier. Dit was alreeds aand. Van ’n afstand af kon ons die ligte in die dorp sien. Die pad na die hoofstraat van Nylstroom het langs die begraafplaas verby geloop. Hoewel dit reeds donker was, kon ons ’n hele paar rye nuutgevormde grondhopies sien. Dit was nie nodig om ons te vertel dat hulle konsentrasiekampgraftes was nie. Ons het ons verslete hoede afgehaal en in stilte voortgestrompel.
Gou was ons in die hoofstraat. Toe het ons gesien wat daardie ligte was. Daar was ’n dans aan die gang in die hotel. Paraffienlampe het in die lae, wye veranda gehang. Daar is heelwat gelag. Ons het meisies en Engelse offisiere gesien. In ons ongewone viere het ons in die donker verby geslofgang.
Verskeie van die meisies was toe binne in die hotel. Maar ’n paar van die dames het op die veranda gebly, maar nie in ons rigting gekyk nie. Tussen hulle het ek in besonder een meisie raakgesien waar sy daar op die skouer van ’n Engelse offisier geleun het. Sy het baie mooi gelyk soos die paraffienlamp op haar vol lippe en geel hare geskyn het.
Toe ons om die draai geloop het, en die donker ons weer omvou het, het ek Ben Myburg hoor praat.
“Dis snaaks,” het ek hom hoor sê, “dis asof ek, van lankal af al, ’n meisie met geel hare net soos daardie een, kan onthou. Maar waar ek haar gesien het, kan ek nie onthou nie.”
Hierdie keer ook, het ons hom niks vertel nie.
Next →
← Previous