deur Trevor Emslie
Op 16 Oktober 2015 het die Erfenisvereniging van Suid-Afrika ’n indrukwekkende Leipoldt-dinee vir omtrent 150 gaste in ’n kersverligte Blommekerk in Clanwilliam aangebied. Dit was in hierdie historiese kerk, met sy imposante preekstoel, waar pastoor Christian Frederick Leipoldt vir meer as vyf en twintig jaar, vanaf 1884 tot 1910, gepreek het.
Miskien was die aangrypendste oomblik van die aand, die soloviooluitvoering reg voor die Blommekerkpreekstoel (foto hierbo) deur Anele Mhlahlo van die Kaapse Philharmoniese Orkes. Dit is in die Erfenisprogram beskryf as “om die Meisiekind Predikant te onthou”.
In Clanwilliam, soos dit tot vandag toe in ander plattelandse gebiede is, was (en is) die gebruik van byname algemeen. Daar was (en is) ’n praktiese sowel as ’n humoristiese aspek hieraan verbonde: dit het gedien om familielede wat, getrou aan tradisie dieselfde name gehad het, te onderskei. Soos byvoorbeeld pastoor Christian Frederick Leipoldt en sy seun, die skrywer en digter, dr. Christian Frederick Louis Leipoldt, wat beide “Christian Leipoldt” was. Volgens laasgenoemde se biograaf, J. C. Kannemeyer, was dit omdat hy ’n besonder sagte vel gehad het en nie in staat was om ’n baard te groei nie, dat pastoor Leipoldt bekend geraak het as die “meisiekind-predikant”. Jakob (“’n gladde man”) eerder as Esau (“’n harige man”), hy het ’n sagte en innemende geaardheid gehad. Hy was bekend vir sy deeglikheid en sy buitengewone werkkrag, en was baie gewild in Clanwilliam – waar sy gemeente opgesien het na hom amper as ’n soort heilige (soos Kannemeyer dit beskryf).
Tog was pastoor Leipoldt se lewe nie sonder swaarkry en opofferinge nie, wat ons terugvoer na die soloviooluitvoering op 16 Oktober 2015.
Die storie agter die viooluitvoering is nie aan die gehoor verduidelik nie, wat dalk maar ’n variasie was op oom Schalk Lourens se tema dat die belangrikste deel van enige storie die deel is wat jy uitlaat. Maar ek het na die afloop van die uitvoering die aangeleentheid met Anele bespreek en vasgestel dat hy heeltemal bewus was van die volle betekenis van sy uitvoering.
Lees die volgende storie uit The Mask, die derde boek in die Leipoldt-trilogie, The Valley, en vervang Uhlmann se naam met Leipoldt s’n, en jy het die skrywer en digter C. Louis Leipoldt se weergawe van hoe sy pa die viool, waarvoor hy so lief was, prysgegee het in die belang van ’n duidelik baie onmusikale harmonie tussen die lede van sy kerkraad.
~
“Arme mnr. Uhlmann – hy was die dominee, soos jy weet, my kind, voor jou tyd. Hy het die viool so pragtig gespeel, my kind, want hy was baie goed in Europa opgelei. Daar was selfs ’n tyd toe hy ’n professionele musikus wou word, maar sy pa was vasbeslote dat hy ’n sendeling moes word. In Sumatra het sy vrou siek geword en hulle het toe hiernatoe gekom want hulle moes uit die Ooste vertrek weens gesondheidsredes. Hy het by ons kerk aangesluit en is daarna na ons gemeente toe beroep. Vir die eerste maand het hy gewoonlik met sononder sy viool op die stoep gespeel, en ek het dikwels na hom geluister, want hy was ’n meesterlike kunstenaar op die viool. Hy het meestal Mozart en Beethoven gespeel, maar soms ook Italiaanse goed met ’n opgewekte deuntjie. Die kerkraad het nie daarvan gehou nie, en ’n afvaardiging is gestuur om hom te vra om op te hou om goddelose musiek op die viool te speel. Ek onthou dat daar ’n dwarstrekkery was en dat daar harde woorde geval het. Ou mnr. Nolte het gesê dat dit ’n groot jammerte was, en hy het so opgewerk geraak oor die saak dat dit tot ’n beroerte-aanval gelei het, en ’n dag na die besoek van die raad het hy gesterf.”
“En wat het mnr. Uhlmann gedoen?”
“Hy het hulle koek en koffie gegee, geluister na wat hulle te sê gehad het, en toe sy vioolkis gesluit en dit nooit weer oopgemaak tot die dag van sy dood nie. Op sy sterfbed het hy gevra om die sleutel te kry, die kissie laat oopsluit, en hy het gesterf met sy strykstok in sy hand.”
~
Amper presies 104 jaar na sy afsterwe op 11 November 1911, is die onreg wat pastoor Leipoldt deur sy eie kerkraad aangedoen is, erken op ’n manier wat hy ongetwyfeld die meeste sou waardeer het: ’n meesterlike viooluitvoering. Hierdie simboliese gebaar deur die Erfenisvereniging het daartoe bygedra om berou te toon en om boete te doen vir eertydse “onmenslikheid” – “Vergeef hulle, Vader, want hulle weet nie wat hulle doen nie” – veelseggender as enige woorde dit sou kon gedoen het.
Natuurlik kon pastoor Leipoldt se pyn en lyding nie ongedaan gemaak word nie. Sy droom was om voltyds die loopbaan van ’n violis na te streef, maar hy het sy pa se begeerte eerbiedig, en in plaas daarvan ’n sendeling geword. Daarna het hy op die wreedaardige aandrang van sy kudde toegelaat dat sy viool geheel en al die swye opgelê is. En hy het gesterf met die strykstok van sy geliefde instrument vir die eerste keer in vyf en twintig jaar wéér in sy hand.
Tog was daar op 16 Oktober 2015, subtiel en met waardigheid, ’n simboliese boetedoening vir die onreg wat pastoor Leipoldt aangedoen is. Dit het in die pragtige Blommekerk in Clanwilliam plaasgevind, daar voor die preekstoel waar “die Meisiekind Predikant” vir meer as ’n kwarteeu gepreek het.
Vir dié wat die bostaande verhaal van C. Louis Leipoldt se pa geken het, was dit ’n diepgaande oomblik van herinnering, wat ’n deeltjie van ons geskiedenis uit vergange tye gered en vir die toekoms gedelg het.
Next →
← Previous