Swakkerige Engels

Posted on March 13, 2017 by Cape Rebel

Uit No Outspan
deur Deneys Reitz

 

Die Britse Ryk se Parlementêre Vereniging is ’n liggaam waarby enige Parlementslid binne die statebond geregtig is om aan te sluit. Dit borg welwillendheidsreise na verskeie dele van die empire, en vir 1935 was Groot Brittanje die plek van byeenkoms. Al die dominiums en Indië is gevra om afgevaardigdes te stuur. Elke parlement het sy eie verteenwoordigers verkies en ons parlement het ses genomineer. Ek is aangewys om hulle as leier te vergesel, en ek was glad nie onwillig nie, want sedert die Groot Oorlog was ek nog nie weer oorsee nie.

~

In Londen is ek luuksueus as ’n gas van die staat by Grosvenor House geïnstalleer. Ek is ’n luukse suite, met die Unie se wapenskild in kleur bokant my deur, aangewys.

Een van my eerste besoekers was ’n militêre man met grys hare wat Lord Vivian blyk te gewees het. Ek het hom laas in 1901 in ons geveg teen die 17de Lansiers gesien, toe hy gewond tussen die rotse gelê het. Na aanleiding hiervan het hy my as ’n erelid by Brooks geregistreer. Dit was die oudste klub in Londen en hy het gereeld daar ingeloer om te gesels.

’n Week later het die res van die Suid-Afrikaners en die Dominiumlede daar aangekom, en toe het afsprake om besienswaardighede te besoek, en toesprake en funksies wat gevolg het daartoe bygedra dat die gawe gasvryheid ons amper oorrompel het. Antieke gildes het ons in hulle gildehuise onthaal en ons het uit  goud en silwer borde wat uit die Cromwelliaanse oorloë gedateer het, ons aandete geniet.

Ons het die House of Commons bygewoon en is na ’n honderd en een ander interessante plekke geneem. Ek was twee keer na Buckingham Paleis ontbied en twee keer moes ek ’n pluiskeil opsit en ’n manel aantrek, en in hierdie ongewone gewaad het ek ’n oudiënsie met sy majesteit koning George V gehad.

Hy het my vertel dat hy my boeke, Commando en Trekking On, langs sy bed in Windsor Castle gehou het, en hy het aangebied om die Distinguished Service Order aan my toe te ken. Dit was nie vir my moontlik om dit te aanvaar nie, want die Nasionale regering het in 1926 ’n wet bekragtig wat burgers van die Unie verbied het om eretekens te ontvang. Ek het die Prins van Wallis een of twee keer by St James se paleis gesien. Hy het  gespannender as ooit voorgekom, en nooit kon ek dink dat ek eendag, op ’n manier, in oordeel oor hom sou sit nie.

Daar was ’n Suid-Afrikaanse krieketspan in Engeland wat op daardie stadium reeds ’n toetswedstryd gewen het. Tydens ’n noenmaal by Claridge’s het ek op ’n heildronk beantwoord deur te sê dat ek daardie oggend in die straat ’n koerantplakaat gesien het met die woorde: “Engeland staar ’n ramp in die gesig”. Verhoudinge met Mussolini was gespanne as gevolg van die Abessiniese avontuur en ’n opgewonde Fransman het uitgeroep: “Liewe hemel, dit beteken oorlog met Italië!” Dit was egter maar net die stand van die kriekettelling.

Op ’n ander geleentheid het so omtrent dertig van ons voor Grosvenor House gestaan en wag op karre wat ons moes optel om na verskeie plekke geneem te word. ’n Hele paar seuns en meisies het daar rondgestaan elkeen gewapen met ’n handtekeningboek en ’n vulpen. 

Ons het gedink dat die kinders besef het dat die Ouere Staatsmanne van die Empire hulle in die stad bevind het, en ons het heel selfbewus vir die jongspan gewag om genoeg moed bymekaar te skraap om ons vir ons handtekeninge te vra. Na ’n rukkie het die handtekeningjagters nog steeds daar eenkant gestaan totdat daar ten einde laaste ’n pragtige jongedame haar verskyning uit die hotel gemaak het. Sy was ’n filmster en onmiddellik was sy omring deur haar bewonderaars met hulle boeke en penne in gereedheid. Ons het ietwat bedremmeld en skaapagtig in ons karre geklim.

Ons het deur baie dele van Engeland en Skotland getoer. In Glasgow het die vrugteverspreidingsindustrie my met ’n banket onthaal, uit hoofde van my amp as minister van Landbou in beheer van die uitvoer van produkte uit Suid-Afrika. Ek het die gewone toespraak afgesteek en onder andere melding gemaak van verkoeling, bemarking, verpakking en ander verwante onderwerpe. Ek het verder aangegaan en hulle vertel hoe my pa sy jeug in Skotland deurgebring het, en omtrent sy groot bewondering vir Robert Burns. Ek het hulle vertel dat hy baie van Burns se gedigte in Afrikaans vertaal het, en ek het hulle ook vertel dat, as ’n klein seuntjie, ek onder die indruk was dat die gedigte deur my pa in Afrikaans geskrywe was, en dat ’n kêrel met die naam van Burns, dit in swakkerige Engels vertaal het.

Hulle het dié storie baie geniet. Dit het daartoe gelei dat ek per motor na Ayr toe geneem is om daardie middag die Burns Cottage en die Burns museum te besigtig. Die eerste ding wat ek met die inloopslag gesien het, was ’n verbleikte manuskrip agter glas. Ek kon my oë nie glo nie, want die dokument was in my pa se handskrif. Dit was my pa se vertaling van Tam O’ Shanter. Die kurator kon nie verklaar hoe dit daar beland het nie, behalwe vir die feit dat ’n dame uit Kaapstad dit jare gelede daarheen aangestuur het.

Ek het omgedraai en aan die vriend wat my van Glasgow gebring het, gesê: “Jy sien, het ek jou nie vertel dat my pa daardie strofes in Afrikaans geskryf het nie? en hier is dit nou.”

Dit was ’n reuse sukses.

Posted in Afrikaans


Next

Previous