In Daardie Dae

Posted on March 23, 2018 by Cape Rebel

Uit Border Bad-Man
deur Herman Charles Bosman

 

Oupa Bekker het van ’n ander geleentheid gepraat en genoem van hoe ’n grenspatrollieman daar aangekom het om vir die eerste keer diens in die Marico te kom doen.

“Natuurlik praat ek nou van ’n baie lang tyd gelede,” het oupa Bekker gesê. “Die patrollieman se naam was Duvenhage, en ons kon sien dat hulle vir hom in Pretoria verduidelik het dat sy belangrikste werk sou wees om die verskriklike smokkelary van beeste, wat in daardie dae hier aan die gang was, hok te slaan.”

“O, natuurlik ja, in daardie dae,” het Gysbert van Tonder vinnig gesê.

Jurie Steyn het dadelik vir Gysbert van Tonder uitgedaag.

“Wat bedoel jy as jy op dié manier ‘in daardie dae’ sê?” het Jurie Steyn gevra. “Wat van die klomp beeste met die wye horings en die bont kleure wat jy nou op die oomblik in die kamp by die kloof aanhou? Ek veronderstel jy gaan ons nou vertel dat jy hulle op die Johannesburgse mark gekoop het.”

“En ek vermoed jy hou die trop in die kloof,” het Chris Welman heel sarkasties teenoor Gysbert van Tonder opgemerk, “omdat hulle die soort koeie en beeste is wat nie daarvan hou dat mense hulle neuse in hulle affêres kom steek nie.”

“Veral wanneer hulle nog steeds Betsjoeanalandse klei tussen hulle hoewe het,” het Jurie Steyn opgemerk. “Turfklei.”

Toe het Gysbert van Tonder gesê hulle moes dit bewys. En so het Jurie Steyn ons vertel wat hy sou gedoen het as hy ’n patrolliepolisieman op die grens was, in plaas van ’n posmeester. Gysbert het gesê as Jurie Steyn hoefspore in die stof moes uitsorteer soos hy met briewe in die poskantoor gedoen het, dan kon jy Betsjoeanalandse beeste helder oordag oor die konvensielyn bring.

Oupa Bekker het daarop gesê dat dit ’n snaakse ding was dat daar soveel afguns tussen die Marico-boere bestaan het.

“Wat ek bedoel is dat daar nie een van ons is wat nie ’n paar beeste sal smokkel as hy die kans kry nie,” het oupa Bekker gesê, “en tog wanneer jy hoor dat jou buurman dit doen – en jy op daardie oomblik dit nie self doen nie – en jy kan jouself ’n trop van allerhande soorte beeste voorstel, saamgedronge teen die doringdraadheining aan die een kant van jou buurman se plaas, besig om die wind vanuit die protektoraat te snuif, en hulle bulk – nou ja, dit sal jou liederlik kwaad maak. Dit is amper asof jy ook die polgras met jou hoewe kap-’n-krap, en die wind wat vanuit Betsjoeanaland af waai, snuif.”

Ons kon nie help om te erken dat daar baie waarheid in oupa Bekker se woorde gesteek het nie. Terselfdertyd – soos Chris Welman toe uitgewys het – was dit moontlik om die beessmokkelary te oordryf. En dit was daardie mense wat te vêr gegaan het, wat die Marico-boere ’n slegte naam gegee het, het hy gesê.

Gysbert van Tonder het gesnuif. Dit was ’n ander soort snuif as die snuif waarvan oupa Bekker gepraat het.

“’n Slegte naam!” het Gysbert van Tonder gesê met sy lip smalend opgetrek. “Nou ja, daar is party mense wat nou hier in hierdie voorkamer sit, wat enige distrik waarin hulle sou bly, ’n slegte naam sou gee, deur net daar te bly. Selfs al het hulle in die Kaapse skiereiland gebly, sou dit ’n slegte naam kry – en jy kan my nie vertel dat daar in die Kaapse skiereiland beesmokkelary aan die gang is nie. Tensy jy beeste van die skepe af kan smokkel.”

Ná daardie opmerking het Gysbert van Tonder ingedagte geraak. Dit was asof hy die moontlikhede oorweeg het.

~

“Was Duvenhage nie die patrollieman wat gevang is toe hy ’n redelike groot trop oor die grens gesmokkel het nie?” het Chris Welman gevra. “Met sy polisiewerkers om hom te help? Ek kan so half iets daarvan onthou. Die polisiewerkers het Betsjoeana-beesliedere gesing met die patrollieman wat ingeval en saamgesing het.”

“Ja, presies,” het oupa Bekker terug geantwoord, “en ek kan nog my eerste ontmoeting met hom onthou. Hy het my gevra waar hulle uithangplek was. En toe ek gesê het ek weet nie wat hy bedoel het nie, het hy gesê die beesmokkelkonings. Die hoofspelers in die spel, het hy verduidelik. Hy wou weet waar hulle gesit, gepraat en gedrink het.”

Oupa Bekker het gesê dat hy daaruit kon sien dat patrollieman Duvenhage se opleiding deur die onwettige diamandpersoneel van so ’n aard was, dat hy ietwat uit voeling laat bly is met omstandighede in die bosveld van die Groot Marico.

“Wat ek sê is dit – ek kon hom nie gaan staan en vertel dat daar nie so iets soos ’n bende beessmokkelaars was wat in die omgewing geopereer het nie,” het oupa Bekker gesê. “Per slot van rekening, ons weet almal dat daar so iets is soos ’n paar beeste wat in die nag, wanneer daar nie veel van ’n maan is nie, oor die grens gebring word. Nou ja, dan weet ons dat dit omtrent enige boer kan wees wat probeer om so bietjie na sy eie belang om te sien.

“En ons weet dat daar nie juis ’n besonderse plek bestaan waarheen die Marico-boere sal gaan om te gaan sit en drink, en daarna daaroor te praat nie.

“Die enigste plek waar ’n Marico boer dalk ’n drankie sal maak, sou in die kroeg in Zeerust tydens Nagmaal wees. En dan sal hy net oor die oeste praat, of oor die dominee se preek, of oor hoe hy die luiste bywoner aan hierdie kant van Dwarsberge het, en hoe daardie bywoner die vermetelheid het om vir sy dogter ogies te maak.”

Oupa Bekker het voortgegaan om ’n stukkie strategie te verduidelik oor hoe hy en sy vennoot, Japie Krige, ’n plan bedink het om, op ’n nag wanneer hulle beeste na Transvaal toe wou smokkel, die patrollieman Duvenhage uit die pad te kry.

~

“Maar daardie aand,” het oupa Bekker gesê, “toe dit nie ’n Betsjoeana van Japie Krige was wat na die deur toe gekom het nie, maar patrollieman Duvenhage, het ek geweet dat daar iets verkeerd was.”

Ewenwel, het oupa Bekker gesê, hy kon aan patrollieman Duvenhage se houding sien dat hy nie gekom het om hom te arresteer nie.

“Duvenhage het reguit by my voorkamer ingeloop en nie eens sy helm afgehaal nie,” het oupa Bekker gesê. “En toe my klein jong hondjie na hom gehap het, het hy hom met sy stewel bygekom dat die geelbrakkie dáár deur die deuropening getrek het, en vir ’n honderd tree in die pad af laat vat het en met ’n gekef eers daar omgedraai het. Hierdie tekens het my laat verstaan dat patrollieman Duvenhage nie ’n saak teen my gehad het nie.”

Daarop het Gysbert van Tonder gesê, ja, hy het geweet. Dit was wanneer ’n patrollieman na jou huis toe gekom het, ewe beleefd, dat jy versigtig moes wees. Dit was wanneer die patrollieman jou jongste seuntjie oor die kop gestryk het en hom gevra het in watter klas hy was – en voorgegee het dat hy heel verras was dat hy al so ver in sy skoolopleiding gevorder het – die volgende ding wat die patrollieman vir jou sou sê, sou wees, om jou baadjie te gaan haal.

Oupa Bekker het gesê dat patrollieman Duvenhage reguit tot die punt gekom het, maar dit was eers toe patrollieman Duvenhage begin praat het oor hoeveel daar vir homself in sou wees, dat daar iets onaangenaams in die gesprek ingekruip het. Want patrollieman Duvenhage het baie nadruklik gepraat oor wat hy ’n “winsaandeel” genoem het, ’n woord wat oupa Bekker tot nog toe nog nie van gehoor het nie.

“Toe Japie Krige teen omtrent middernag met die trop gesmokkelde beeste opgedaag het, en die drywers in ’n koor ’n Betsjoeana-beeslied gesing het,” het oupa Bester verder vertel, “het hy by my voorkamer ingekom, oorgehaal om baie verontwaardig te wees omdat ek hom nie by die grens bygestaan het nie.

“Maar toe hy sien wie oorkant my by die tafel gesit het, het Japie Krige bleek geword. En ek het nog nooit ’n man gesien wat ’n draadknipper vinniger agter sy rug weggesteek het, as wat Japie Krige toe gedoen het nie. Maar patrollieman Duvenhage het nie eens die moeite gedoen om op te kyk, daar waar hy met sy syfers op ’n stukkie papier besig was nie.

“Een ding wat ek wil sê is dat ek en Japie Krige nooit weer beeste oor die grens gebring het terwyl Duvenhage die patrollieman was nie. Ek bedoel ons kón net nie. Patrollieman Duvenhage se persentasie winsneming wat hy vir ons op papier uitgewerk het, was te hoog. Op die ou end was patrollieman Duvenhage die enigste een wat in die besigheid oorgebly het.

“Ek het al heelwat gewonder hoe dit gebeur het dat hy van sy pos in Kimberley oorgeplaas is.”


Next

Previous