Wat In Haar Hart Was

Posted on March 23, 2018 by Cape Rebel

Uit Splendours From Ramoutsa 
deur Herman Charles Bosman

Nee – het oom Schalk Lourens gesê – ek weet nie hoekom dit so is dat mense my altyd vra om aan hulle stories te vertel nie. Al weet hulle almal dat ek beter stories as enigiemand anders kan vertel. Baie beter. Wat ek bedoel is, ek wonder hoekom mense na stories luister. Natuurlik is dit maklik om te verstaan hoekom ’n man my sou vra om hom ’n storie te vertel wanneer daar ’n droogte in die Marico is. Want dan kan hy op die stoep sit, sy pyp rook en koffie drink, terwyl ek die praatwerk doen, sodat my storie hom weghou van die boorgat af, in die warm son, om water vir sy beeste te pomp.

Op die ernstige manier waarop die plaasboere van Marico my somtyds vir stories vra, is dit vir my altyd moontlik om te sien dat daar nie ’n bries is om die windpomp te laat draai nie, en dat die pompslinger te swaar is, en dat die water daar te diep onder in is. En met sulke tye het ek dikwels die bedroefde kyk wat in ’n man se oë kom, waargeneem wanneer hy weet dat ek na aan die einde van my storie is en dat hy binnekort sy hoed sal moet optel.

En wanneer ek my storie klaar vertel het, sê hy: “Ja, oom Schalk. Dit is hoe dit gaan in die wêreld. Ja, die storie is baie diep.”

Maar ek weet dat hy die hele tyd eintlik gedink het oor hoe diep die water in die boorgat is.

Soos ek gesê het, dit is wanneer mense ander redes het om my te vra om vir hulle ’n storie te vertel, dat ek, soos ek nou doen, begin wonder. Met sulke tye wat daar nie geploeg kan word nie en daar geen doringdraadheinings is wat in die hitte van die dag gespan moet word nie. En ek dink hierdie redes is dieper as al my stories en dieper as die water in die boorgate wanneer daar ’n droogte is.

Daar was byvoorbeeld die jonge Krisjan Geel. Op ’n slag het hy na ’n storie geluister. Dit was natuurlik dom van hom om te luister veral omdat ek dit nie vir hom vertel het nie. Hy het dit by die Indiër agter die toonbank in die winkel in Ramoutsa gehoor. Krisjan Geel het die storie aan my vertel, en ek het hom reguit gesê dat ek nie veel daarvan gedink het nie. Ek het gesê enigeen kon raai, reg van die begin af, hoekom die prinses langs die put gesit het. Enigeen kon sien dat sy nie daarheen gekom het omdat sy dors was nie. Ek het ook gesê dat die storie te lank was, en dat selfs al het ek aan iets anders gedink, sou ek dit nog op so ’n manier vertel het dat die mense dit tot aan die einde sou wou hoor. Ek het ook ’n hele klomp ander besonderhede aan hom uitgewys.

Krisjan Geel het gesê dat hy nie daaraan getwyfel het dat ek reg was nie, maar dat die man wat hom die storie vertel het tog maar net ’n Indiër was, en dat dit miskien vir ’n Indiër nie te sleg was nie. Hy het ook gesë dat daar nogal baie klante in die plek was, en dat dit dit vir die Indiër nog moeiliker gemaak het om die storie ordentlik te vertel, want hy moes die hele tyd op so ’n ongemaklike hoek met sy voet op die skaal staan, om dinge te weeg.

Aan sy stemtoon het dit geklink of Krisjan Geel nogal heel jammer gevoel het vir die Indiër.

Dus het ek ernstig met hom gepraat.

“Die Indiër by die winkel op Ramoutsa,” het ek gesê, “ het my al voor vandag baie beter stories as dié een vertel. Hy het my eenmaal vertel dat daar geen gebrande mielies met die koffiebone gemeng was nie – so het hy vertel. ’n Ander een wat amper net so goed was, was toe hy gesê het …”

“En om te dink dat die prinses by die put gaan staan en wag het,” het Krisjan Geel my in die rede geval, “net omdat sy eenkeer die jongman daar gesien het.”

“’n Ander goeie een,” het ek op aangedring, “was toe hy gesê het dat daar geen Kalahari-sand in die sak geelsuiker was wat ek by hom gekoop het nie.”

“En dat sy hom slegs net een keer gesien het,” het Krisjan verder vertel, “en sy was ’n prinses.”

“En ek moes die meeste van daardie suiker vir die varke gee,” het ek gesê. “Dit het nie gesmelt of die koffie soet gemaak nie. Dit het net soos modder op die bodem van die koppie bly lê.”

“Sy het by die put gewag, want sy was verlief op hom,” het Krisjan Geel sy storie ietwat halfhartig beëindig.

“Ek het dit toe maar met die varke se mieliemeel gemeng,” het ek gesê. “Hulle het dit baie vinnig geëet. Dis snaaks hoe vinnig ’n vark kan eet.”

Krisjan Geel het daarna niks meer gesê nie. Hy het sonder twyfel besef dat ek hom nie gaan toelaat om my te beïndruk met ’n storie wat deur ’n Indiër vertel is nie, en wat ook nie juis baie goed vertel was nie. Ek kon sien wat die Indiër se idee was. Net omdat ek opgehou koop het by sy winkel ná daardie onaangenaamheid met die koffieboontjies en die suiker – wat maar net gebrande mielies en Kalahari-sand was, soos ek aan ’n paar van my bure verduidelik het – het hy op hierdie ongevraagde manier my terug betaal. Hy wou nou as my mededinger wedywer. Hy wou nou ook stories vertel.

As gevolg van die feit dat ek lank voor hom begin het, het hy allerhande onregverdige metodes gebruik. Soos om prinsesse in sy stories te sit. En paleise. En olifante deftig versier met geel en rooi behangsels en wat opgelei is om, op ’n bevel, die koning se vyande te vertrap. Terwyl die enigste olifante waarvan ek kon praat, daardie was wat nie rooi behangsels of goue bande gedra het nie, en wat nie bekommerd was of jy die koning se vyand was of nie: hulle het sommerso op jou getrap sonder enige soort van opleiding.

Aan die begin het ek gevoel dat dit baie onregverdig van die Indiër was om met sulke stories voor die dag te kom. Ek kon nie wedywer nie. Maar toe ek baie mooi daaroor gedink het, het ek geweet dit maak nie saak nie. Die Indiër kon maar al die stories waarvan hy gehou het oor ’n prinses wat op ’n olifant rondry, vertel. Maar daar was een ding waarvan ek geweet het wat ek altyd beter as die Indiër sou kon doen. Met net ’n paar woorde, en selfs sonder om van die prinses te praat, was dit vir my moontlik om die mense te laat weet, heel onopvallend, wat in haar hart was. En dit was belangriker as al die paleise en tempels en olifante met goue ornamente om hulle pote.

Miskien het die Indiër die waarheid van wat ek nou hier gesê het, ingesien. In elk geval, ná ’n rukkie het hy opgehou om sy klante se tyd te mors met stories oor keisers. So tussendeur vertel hy hulle dat die prys van skaapdip en asghries gestyg het. Of miskien het sy klante moeg geword om na hom te luister.

~

Die dae het verbygegaan, en die droogte het gekom, en die boere van die Marico het baie van hul tyd by die boorgate deurgebring, besig om die swaar pompslingers om en om te draai. Die kort tydjie wat die Indiër stories vertel het, was amper vergete. Selfs Krisjan Geel het kom erken dat hierdie stories van manjifiekgeit oordoen was.

“Al hierdie dinge, waarvan hy praat oor tempels, ensovoorts,” het Krisjan Geel gesê, “met wit vloere en skitterende rooi juweelstene daarin. En radjas. Weet jy wat ’n radja is, oom Schalk? Nee, ek weet ook nie. Jy kan te veel daarvan kry. Dit was net daardie een storie wat iets goeds ingehad het. Die een oor die prinses. Sy het ryk juwele in haar hare gehad, en pêrels aan haar rok vasgewerk. En tog het die jongman nooit agtergekom waarom sy daarnatoe gekom het nie. Hy kon nie raai dat sy hom liefgehad het nie. Maar miskien het ek die eerste keer die storie nie ordentlik aan Oom vertel nie, oom Schalk. Miskien moet ek dit weer aan Oom vertel. Ek het dit alreeds aan baie mense vertel.”

Maar ek het haastig die aanbod van die hand gewys. Ek het geantwoord dat daar geen nodigheid was om weer daaroor te gaan nie. Ek het gesê dat ek die storie baie goed onthou, en as dit vir hom aanvaarbaar was, sou ek verkies om dit nie vir ’n tweede keer te hoor nie. Hy mag dit net bederf om alles weer oor te vertel.

“Hoekom jy so in daardie storie belangstel,” het ek gesê, “is omdat jy jouself in daardie jongman sien.”

Krisjan Geel het met my saamgestem dat dit die rede was waarom hy so baie van die Indiër se storie gehou het. En hy het verder gesê dat ’n jongman regtig nie ’n kans in die Marico gehad het nie. Met die droogtes, en die beeste wat miltsiekte kry, en die muskiete wat so rondzoem dat jy nie in die nag kon slaap nie.

En toe Krisjan Geel van my af weggegaan het, kon ek sien – baie duidelik – hoe baie hy die jongman in die Indiër se storie beny het.

Soos ek voorheen gesê het, daar is vreemde dinge aangaande stories, en oor die mense wat na hulle luister. Ek het veral ’n paar weke later so gedink, so op ’n warm middag, toe ek Lettie Viljoen gesien het. Die son het op haar gesig wat opgekyk het, geskyn, en op haar sonnige blonde hare. Sy het daar gesit met haar een hand wat op die droë gras van verlede somer druk, en ek het gedink hoe ’n bekoorlike figuur sy gehad het, en hoe slank haar gewrigte was.

En omdat Lettie Viljoen nie daar aangery gekom het op ’n olifant met oranje tierlantyntjies en goue ringe nie, en omdat sy nie ’n string rooi edelstene om haar nek gedra het nie, het Krisjan Geel natuurlik geweet dat sy nie ’n prinses was nie.

En ek veronderstel dat dit die rede was hoekom, gedurende die hele tyd wat hy met haar gepraat het en haar die storie van die prinses en die put vertel het, Krisjan Geel nooi

 


Next

Previous