Mnr. Churchill se Antwoord het my in Geen Twyfel Gelaat Nie 

Posted on October 09, 2015 by Cape Rebel

Uit Eastern Approaches 
deur Fitzroy Mclean

 

Ek moes sonder versuim Londen toe vlieg en by die eerste minister aanmeld, wat my sou vertel wat van my verwag word.

~

Met my aankoms in Londen, is ek gou op hoogte gebring van hoe sake gestaan het. Inligting wat die Britse regering uit ’n verskeidenheid bronne ingewin het, het hulle rede tot twyfel gegee of die weerstand van generaal Mihajlović en sy Ćetniks teen die vyand, alles was wat dit voorgegee was om te wees. Daar was aanduidings dat ten minste net soveel gedoen is deur gewapende krygsbendes, guerrillastryders wat die naam gedra het van Partisans en wat deur ’n skimagtige figuur wat bekend gestaan het as Tito, gelei is. Tot dusver het die ondersteuning wat ons in staat was om te gee, uitsluitlik na Mihajlović toe gegaan. Maar nou het twyfel oor die wysheid van dié beleid kop begin uitsteek, en die taak wat aan my toegewys is, was om ’n raming ter plaatse te doen van die relatiewe waarde van die guerrillastryders se bydrae tot die geallieerdes se saak, en die beste manier om bystand te lewer om sodoende dit bevorder. Om dié rede was die plan om my in Jugoslavië met ’n valskerm neer te laat, as hoof van ’n militêre sending ter ondersteuning van Tito, of wie ek ookal aan die hoof van die Partisans sou aantref.

My navrae het aan die lig gebring dat daar baie min of niks oor die Partisans in Whitehall bekend was nie. ’n Paar weke gelede het drie of vier Britse offisiere met hulle valskerms daar by hulle geland, maar sedert hulle aankoms, was daar hewige gevegte in Jugoslavië en, hoewel dit nie hulle fout was nie, het geen volledige verslag van die situasie Londen bereik nie. Daar is egter aangeneem dat die Partisans onder kommunistiese leierskap was en dat hulle die Duitsers aansienlike ongerief aangedoen het (’n indruk wat hoofsaaklik vanuit Duitse bronne afkomstig was). Die gedagte was dat hulle hoofsaaklik in die omgewing van Bosnië aktief was, en dat dit daar was waar ek met my valskerm sou land.

Wat Tito betref, was daar verskeie teorieë aangaande sy identiteit. Een gedagtegang het selfs sy bestaan betwyfel. Sy naam – so het hulle gesê – het gestaan vir Tajna Internacionalna Teroristička Organizacija, of Geheime Internasionale Terroriste Organisasie, en nie vir enige individuele leier nie. ’n Ander teorie was dat dit eenvoudig ’n aanstelling was, en dat ’n nuwe Tito by herhaalde tussenposes genomineer is. Laastens, dié wat meer romanties gestemd was, het beweer dat Tito nie ’n man was nie, maar ’n jong dame met verstommende skoonheid en ’n besonder sterk karakter.

’n Dag of twee na my aankoms in Engeland, het ek ’n oproep van Downingstraat nr. 10 ontvang wat aangedui het dat mnr. Churchill versoek het dat ek Chequers vir die naweek moes besoek, sodat hy aan my kon verduidelik wat hy in gedagte gehad het.

~

Om en by middernag, in die middel van ’n Mickey Mouse-strokiesprent, het ’n gedenkwaardige onderbreking plaasgevind. ’n Boodskap is aan mnr. Churchill oorhandig wat hom laat uitroep het van verbasing. Daar was toe ietwat van ’n geharwar en die rolprent is gestop. Soos die gekwaak van Donald Duck en die geblaf van Pluto afgeneem het, het die eerste minister opgestaan. “Ek het nou net,” het hy gesê, “baie belangrike nuus ontvang. Signor Mussolini het bedank.” Toe is die speelfilm weer aangeskakel.

Toe ons met die trappe afgestap het, het ek daaraan gedink dat, in die lig van dié nuwe verrassende verwikkeling, die kans maar min was dat die eerste minister die geleentheid sou kry om aandag aan my saak te skenk. Maar ek het my misgis. “Dit,” het hy gesê terwyl hy na my toe gedraai het, “maak jou taak belangriker as ooit. Die Duitse posisie in Italië is aan die verbrokkel. Ons moet nou soveel druk as wat ons kan, aan die anderkant van die Adriatiese see, op hulle toepas. Jy moet nou sonder versuim daar ingaan.” Mnr. Churchill het toe voortgegaan en aan my ’n uitstekende, maklik verstaanbare en terselfdertyd ’n helder weergawe gegee van die strategiese situasie, en wat hy wou hê ek in Jugoslavië moes probeer doen. Ek was verstom, soos dikwels daarna die geval sou wees, deur sy buitengewone begrip van detail in verband met dié saak. Alles in ag genome, was dit maar net een van die tallose probleme wat hom toe gekonfronteer het.

Ná hy klaar was, was daar nog een punt – so het dit vir my gelyk – wat nog opgeklaar moes word. Die jare wat ek in die Sowjet-unie deurgebring het, het my deeglik en blywend bewus gemaak van die ekspansionistiese neigings van internasionale kommunisme en van sy direkte koppeling met die Sowjet se buitelandse beleid … As, soos daar vir my aangedui is, die Partisans onder kommunistiese leierskap gestaan het, mog hulle maklik baie goed vir die geallieerdes se saak geveg het, maar hulle uiteindelike doelwit sou ongetwyfeld wees om in Jugoslawië ’n kommunistiese regime daar te stel wat ten nouste aan Moskou verbonde sou wees. Hoe sou die Britse regering so ’n ontwikkeling beskou? Was dit op hierdie stadium hulle beleid om die Sowjet-uitbreiding in die Balkans te versper? As dit só sou wees, het my taak baie netelig daar uitgesien.

Mnr. Churchill se antwoord het my in geen twyfel gelaat oor wat die antwoord op my probleem was nie. Solank as wat die hele Westerse beskawing deur die Nazi-gevaar bedreig is, het hy gesê, kon ons dit nie bekostig dat ons aandag afgelei moes word van die onmiddellike doelwit deur langtermyn beleidsprobleme nie. Ons was net so lojaal teenoor ons Sowjet-bondgenote as wat ons gehoop het hulle teenoor ons sou wees. My taak was eenvoudig om te help om uit te vind wie die meeste Duitsers doodgemaak het, en om dan voorstelle te maak hoe om hulle by te staan sodat daar nog meer doodgemaak kon word. Politiek moes ’n sekondêre oorweging wees.

Hieroor was ek verlig. Hoewel ek, as ’n lid van die Konserwatiewe Party, geen tyd gehad het vir kommuniste en kommunisme nie, het ek nie van die idee gehou om agteraf polities te knoei teen mense met wie ek op militêre gebied moes saamwerk nie. Nou, in die lig van die eerste minister se opdrag, was my posisie duidelik.


Next

Previous