Deur die sterre gelei

Deur die sterre gelei is die trilogie van Deneys Reitz se drie boeiende boeke wat die gebeure van sy merkwaardige, aksiebelaaide lewe beskryf.

Kommando, wat net ná afloop van die Anglo-Boereoorlog in ballingskap geskryf is, is ’n verslag van sy bykans ongelooflike ervarings deur die hele verloop van die oorlog (1899 tot 1902) nadat hy as ’n 17-jarige vir diens aangemeld het, sonder enige idee van die gevare en ontberings wat op hom wag. Kommando, wat in 1929 uitgegee is toe die depressie op sy ergste was, was onmiddellik ’n blitsverkoper, en sedertdien was dit nooit uit druk nie.

Trek Voort is die verhaal van Reitz se stryd as banneling-bittereinder in Madagaskar, waar hy vele onberings ervaar het. Hy het op aandrang van generaal Smuts se vrou na Suid-Afrika teruggekeer en by die Smuts-gesin gewoon terwyl hy van malaria herstel en in Pretoria as ’n prokureur gekwalifiseer het. Trek Voortbeskryf Reitz se aktiewe rol in die onderdrukking van die 1914-rebellie in die Vrystaat, oorlogvoering onder Botha en Smuts in Duitswes en Oos-Afrika, en gevegte in die loopgrawe in Frankryk tot aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog, toe hy in bevel van ’n Skotse bataljon was.

Geen Uitspan is die verhaal van Reitz se terugkeer na Suid-Afrika ná die Eerste Wêreldoorlog, sy toetrede tot die politiek, en die voortsetting van sy vreeslose en avontuurlustige lewenstyl terwyl hy as minister in die kabinet oor die lengte en breedte van Suid-Afrika gereis en avonture beleef het in die land wat hy so liefgehad het. Hy was ’n passievolle natuurbewaarder en het die grondslag gelê vir die totstandkoming van die Nasionale Krugerwildtuin waarvan hy een van die stigterstrusteelede was. Hy het ook ’n leidende rol gespeel in die dramatiese kabinetsvergadering wat die Hertzog-regering omver gewerp het en tot Suid-Afrika se toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog gelei het.

Saam gee Kommando, Trek Voort en Geen Uitspean vir die leser ’n wonderlike insig in die gebeure in Suid-Afrika tussen 1899 en 1943 – gesien deur die oë van ’n vreeslose Suid-Afrikaanse avonturier wat ook ’n besonder talentvolle skrywer was.



Pin It Fancy

Next