Ons het by Willem Prinsloo se huis aangekom. Buitekant op die veld was daar soveel ossewaens saamgetrek dat dit soos ’n laer gelyk het. Prinsloo het ons by die deur ontmoet.
“Gaan sommer regdeur, kêrels,” het hy gesê, “die dansery is in die voorhuis. Die perskebrandewyn is in die kombuis.”
Hoewel die voorhuis groot was, was dit so stampvol dat dit amper onmoontlik was om te dans. Maar dit was nie so vol soos die kombuis nie. Ook was die musiek – wat deur ’n klompie manne met kitaars en konsertinas voorsien is – in die voorhuis, nie so hard soos die musiek in die kombuis nie. Dáár was geen orkes nie, maar elke man het vir homself gesing.
Aan hierdie tekens het ons geweet dat die partytjie ’n sukses was.
Ná ek vir omtrent ’n halfuur in die kombuis was, het ek besluit om voorhuis toe te gaan. Dit het toe na ’n ver ent gelyk, van die kombuis af na die voorhuis toe, en ek moes ’n hele paar keer teen die muur leun om te dink. Ek het verby ’n ander klomp mans geloop wat ook net so teen die muur geleun het om te dink. Daar was selfs een ou wat gevind het dat hy beter kon dink deur op die vloer te sit met sy kop op sy arms.
Jy kon sien dat Willem Prinsloo goeie perskebrandewyn gemaak het.
Toe het ek Fritz Pretorius gesien, en om hom te bekyk, het my dadelik tot besinning gebring. Vrolik en opgeruimd het hy met sy wit sakdoek tyd gehou met die musiek. Hy het met ’n meisie gepraat. Sy het helder oë en rooi lippe en fyn wit tande gehad, en sy het opgekyk en vir hom geglimlag.
Ek het dadelik geweet dat dit Grieta was.
Sy was lank en slank en baie mooi, en haar donker hare was gevleg met ’n krans van wit rose. Jy kon sien dat dit nog dieselfde oggend in Zeerust gepluk was. En sy het ook glad nie voorgekom as daardie soort meisie in wie se teenwoordigheid jy moes lyk asof jy slim en geleerd was nie. Ek het gevoel dat ek nie regtig die twaalfmaaltafel, wat ek agter uit ’n skooloefeningboek geskeur en in my baadjiesak gesteek het voordat ek by die huis weg was, nodig gehad het nie.
Jy kan jou voorstel dat dit nie te maklik was om ’n woordjie by Grieta in te kry terwyl Fritz daar rondgehang het nie. Maar ek het dit uiteindelik reggekry, en terwyl ek met haar gepraat het, het ek die bevrediging gehad om uit die hoek van my oog te sien in watter rigting Fritz geloop het. Hy het by die kombuis ingeloop terwyl hy sy sakdoek agter hom gewaai het – binne in die kombuis, waar die gelag was, en die singery, en Willem Prinsloo se perskebrandewyn.
Ek het aan Grieta gesê dat ek Schalk Lourens was.
“O ja, ek het van jou gehoor,” het sy gesê, “by Fritz Pretorius.”
Ek het geweet wat dit beteken. Daarom het ek haar vertel dat Fritz regoor die hele Marico bekend was vir sy leuens. En ek het haar ander dinge van Fritz vertel. Tien minute later, toe ek nog steeds oor hom gepraat het, het Grieta geglimlag en gesê dat ek haar die res op ’n ander aand kon vertel.
“Maar daar is nog een ding wat ek jou nou moet vertel,” het ek aangedring. “Toe hy geweet het dat hy jou hier by die dans sou ontmoet, het hy sy huiswerk begin doen.”
Ek het haar vertel van die lei en die somme, en Grieta het saggies gelag. Dit het my weer getref hoe pragtig sy was. Haar oë was stralendmooi in die kerslig. En die rose het baie wit gelyk teen haar donker hare. En die hele tyd lank het die dansers om ons gedwarrel, en die orkes in die voorhuis het lewendige dansliedjies gespeel, en van die kombuis af het vreemdsoortige, vreugdekreet-geluide gekom.
Die res het baie gou gebeur.
Ek kan nie eers onthou hoe dit alles plaasgevind het nie. Maar wat ek wel onthou is dat, toe ons buite was, onder die hoë bome, met die sterre bokant ons, ek maklik kon geglo het dat Grieta glad nie ’n meisie was nie, maar een van daardie hekse van Abjaterskop wat vreemde betoweringe geweef het.
Maar deur te luister na hoe ek gepraat het, sou niemand vermoed het dat daar wilde, opwindende dinge in my hart was nie.
Ek het Grieta van verlede jaar se droogte vertel, en die swarigheid om te verhoed dat die rysmiere die deur en die vensterrame opvreet, en van die manier wat my nuwe stewels die velle van my tone afgeskuur het as ek vinnig geloop het.
Toe het ek nader aan haar geskuiwe.
“Grieta,” het ek gesê, en haar hand gevat, “Grieta, daar is iets wat ek jou wil vertel.”
Sy het haar hand weggeruk. Sy het dit egter sagkens gedoen. So amper treurig.
“Ek weet wat jy wil sê,” het sy geantwoord.
Dit het my verras.
“Hoe weet jy Grieta?” het ek gevra.
“O, ek weet baie dinge,” het sy geantwoord, en weer gelag. “Dit was nie verniet dat ek na die afrondingskool toe gegaan het nie.”
“Dis nie dit wat ek bedoel nie,” het ek dadelik geantwoord. “Ek was nie van plan om oor spelling of rekenkunde te praat nie. Ek was van plan om jou te vertel dat …”
“Moet dit asseblief nie sê nie, Schalk,” het Grieta my in die rede geval. “Ek – ek weet nie of ek waardig genoeg is om dit aan te hoor nie. Ek weet selfs nie …”
“Maar jy is so lieflik,” het ek uitgeroep. “Ek moet jou vertel hoe pragtig jy is.”
Maar op daardie oomblik dat ek vorentoe gestap het, het sy rats geretireer, en my ontwyk. Ek kon nie verstaan hoe haar tydsberekening so goed kon wees nie. Want, hoe ek ook al probeer het, ek kon haar nie vang nie. Sy het ligvoetig en bekoorlik tussen die bome gesnel, en ek het haar na die beste van my vermoë probeer volg.
Dit was nie net my gebrek aan geleerdheid wat tot my nadeel was nie. Daar was ook my nuwe skoene. En Willem Prinsloo se perskebrandewyn. En die disselboom van ’n muilwaentjie – die onderent van die skag, daar waar dit in die gras gelê het.
Ek het darem nie te hard geval nie. Die gras was daar lank en dik. Maar selfs terwyl ek geval het, het daar ’n groot geluk in my hart gekom. Ek het my oor niks anders in die wêreld bekommer nie.
Grieta het opgehou hardloop. Sy het omgedraai. Vir ’n oomblik het haar liggaam, slank en mistig in die skadu’s, na my kant toe geswaai. En toe het haar hand vlugtig na haar hare toe gereik. Haar vingers het aan die krans getrek. En die volgende ding waarvan ek geweet het, was dat daar, binne die bereik van my hand, ’n klein wit rosie gelê het.
Ek sal altyd die opwinding onthou waarmee ek die roos opgetel het, en hoe ek gebewe het toe ek dit aan my hoed vasgesteek het. Ek sal altyd die beroering onthou toe ek die kombuis binnegeloop het. Almal het opgehou drink en na die roos in my hoed gekyk. Die jong kêrels het grappe daaroor gemaak. Die ouer mans het onderlangs geknipoog en my op die rug geklop.
Hoewel Fritz Pretorius nie meer in die kombuis was om my oorwinning gade te slaan nie, het ek geweet dat hy op een of ander manier daarvan te wete sou kom. Dit sou hom laat besef het dat, vir iemand soos hy, dit domastrant was om homself te beskou as ’n mededinger vir Schalk Lourens.
Vir die res van die aand was ek ’n held.
Die manne in die kombuis het my op die tafel laat sit. Hulle het gereeld vir my brandewyn geskink, en op my gesondheid gedrink. Daarná, toe ’n dosyn van hulle my buitekant toe gedra het, na ’n ossewa toe, vir vars lug, het hulle net eenkeer met my geval.
Teen dagbreek was ek nog steeds op die wa.
Ek het baie siek wakker geword – totdat ek Grieta se roos onthou het. Daardie roos was nog steeds vas aan my hoed, vir die hele wêreld om te weet dat Grieta Prinsloo my bo al die ander kêrels verkies het.
Maar wat ek nie mense wou laat weet nie, was dat ek nog vas aan die slaap op die ossewa gelê het lank nadat al die ander gaste vertrek het. Dus het ek so stil-stil daar weggery, heel bly dat daar nog niemand op die been was om my te sien gaan nie.
Ek was nog bietjie dronk in die kop toe ek teruggery het, maar my hart het fleurig geklop; en hoewel dit nou in die dag was, was dit dieselfde sagte windjie wat in die gras gewaai het, net soos toe Grieta die roos na my toe gegooi het – daar onder die sterre.
Ek het stadig tussen die bome aan die hang van Abjaterskop aangery, en die plek bereik waar die pad suid gedraai het, toe ek iets gesien het wat my laat wonder het of, by daardie modieuse skole, hulle nie miskien die meisies te veel geleer het nie.
Die eerste wat ek gesien het, was Fritz Pretorius se perd daar langs die pad.
Toe het ek Fritz gesien. Hy het regop teen ’n doringboom gesit, met sy ken rustende op sy knieë. Hy het baie bleek en baie siek gelyk. Maar wat my heelwat oor daardie afrondingskole laat wonder het, was Fritz se hoed wat ’n entjie van hom af op die grond geval het. ’n Klein wit rosie was daaraan vasgesteek.
Next →
← Previous