Wat meer is, jy sal ook hier vrek

Posted on March 30, 2020 by Cape Rebel

Klik op die beeld om na die podgooi te luister

Uit Met die Boere in die veld 
deur Sarah Raal

 

Ná die jong weg is met die brief, sê die kommandant vir my ek moet klaarmaak om saam te gaan – vroeg die olgende môre sou die laer vertrek. Toe vra ek vir hom wat dan sal word van al die goed.

“O, ons vat dit,” sê hy.

“Ja, maar dan moet jy my ’n bewys gee daarvoor.”

Hy stem toe in en gee my ’n bewys vir £1,090, en die spaider verbrand hulle. Ek is hoog in my skik en dink by myself: “Toe maar, Kakies, sukkel julle nou maar om die skape uit die berg te kry; my bewys het ek.” Dié versteek ek in die soom van ’n groot sakdoek. Gelukkig weet hulle niks van die ander geld wat ek aan my het nie. Ek is nou ook klaar ingepak, want daar was ook byna niks om te pak nie. Die huisraad behoort nie aan my nie, en verder maak my besittings maar net ’n paar kleinighede uit.

Hulle vra my wanneer die broer nou eindelik sal kom, maar ek verstaan ook nie waarom hy nog nie opgedaag het nie. Dit is later al skemer, en ons wag nog op die broer wat nooit sou kom nie.

Meteens kom die kommandant die huis ingestap, en aan sy stap kon ek hoor dat daar iets verkeerd is. Hy kom ook die sitkamer in, briesend kwaad, en met twee oë wat vlam van woede, soek hy my. Sodra hy my sien, kom hy tot vlak voor my en steek amper my oë uit soos hy sy vinger in my gesig druk, met die woorde: “You traitor. I’m going to send you to prison with a severe punishment.”

Ek hou my ewe onskuldig en wil weet wat nou gebeur het. Hy steur hom egter nie aan my nie en gaan voort om my uit te skel vir al wat hy kan. Ek is ’n leuenaar, ’n verraaier, ’n bedrieër, en hy gaan my in die tronk stop, ensovoorts. Hy wil ook die bewys wat hy my gegee het, terug hê, en sê dat ek geen pennie sal kry nie. Ek wis dat mooipraat nou niks sal baat nie, en het toe al begin warm word vir al sy skeltaal. Ek sê toe aan hom dat ek geen waarde aan die bewys geheg het nie en dit al klaar verbrand het.

Ek is egter baie nuuskierig om te weet wat gebeur het. Ek roep vir ou Tryn en vind by haar uit dat my broers weer ’n brief terug geskryf het. Hoe hulle so iets kon doen, kan ek nou nog nie begryp nie. In elk geval, in die brief sê hulle dat hulle die Kakies dié aand sal kom opdons. Met die terugkom het die Kakies die brief by die jong gekry, en toe was die gort gaar. Ek wis toe my lot was beslis, ek kon maar die ergste verwag en my klaarmaak vir Springfontein se tronk en ryswater.

Dieselfde aand trek ons nog daarvandaan weg tot op die buurplaas Vlakfontein. Die volgende dag raak die Kakies daar slaags met die patrollie Boere waaronder my broers is. Ek kon nie sien nie, maar kon goed hoor hoe hulle skiet en veg. Ek sit met die vrees dat my broers miskien in die geveg sal omkom; hulle is maar ’n klein klompie, maar het darem ’n goeie rant waarin hulle kon skuil. Laat die agtermiddag bring hulle drie gewonde Kakies die laer binne. Van die verloop van die geveg weet ek nog niks. Ek wag toe maar en vra naderhand aan ’n offisier wat betrokke was by die geveg. Ewe bitsig sê hy: “Jy vra nog asof jy nie weet nie. Dis deur jou helse werk, en jy sal daarvoor boet, maar ons het jou mense almal doodgeskiet.”

“Waar het jy hulle begrawe?” vra ek weer.

“Begrawe? Ons het hulle daar laat lê vir die ongediertes en aasvoëls!” antwoord hy.

By die hoor van dié skokkende tyding het ek maar stil omgedraai en weer in die tentwa geklim. Donker skaduwees kruip al oor die vlaktes, en ’n gevoel van eensaamheid, heimwee en verlange maak hom nou stadig van my meester. Wanneer dit donker word, kan ek tog in trane ongehinderd uiting gee aan my gevoel. Later in die nag steek ek my lampie aan, om maar so te sit en peins oor wie weet wat alles nog met my mag gebeur. Elke keer lig een van die soldate die seil op en vra waarom ek nie slaap nie. Dan sit ek maar net so en gee geen antwoord nie.

Dit was ’n nag van kommer en angs. Alleen in die groot laer, en hier in die nabyheid lê my broers miskien dood of swaar gewond, en ek kan nie eens by hulle wees om hulle ’n bietjie water te gee of hulle wonde te verbind nie. Wat sou my ou moeder sê as sy moes weet? En dan weer, waar is sy en my vader? Miskien ook al dood in die kamp, waar ons mense so doodgaan, soos ons hoor. Daarby nog my eie toestand, met die treurige vooruitsig van tronklewe wat op my wag. So het ek die nag deur gesit en my bekommer, totdat die lig van ’n nuwe dag oor my gebreek het.

Vroeg die volgende môre hoor ek vrouestemme langs my wa. Ek loer uit om te sien wie dit kan wees, en raak byna stom van verbasing. Daar staan niemand anders nie as mev Metz en mev Jacobs met hul kinders. Die vorige dag is hulle op Touwfontein, ook ’n plaas daar in die buurt, gevang. Hulle is die nag te voet hier na die laer toe aangejaag. In my hart het ek met hulle gesimpatiseer – hulle het so uitgehonger en gedaan gelyk van die ver loop.

Die volgende dag stuur hulle ons na Jagersfontein se stasie toe, en daar, sonder water of kos, sit hulle ons in ’n oop trok, en by dit in die kokende, warm son daarby, en so is ons na Springfontein. Toe ons daar aankom, is ons sonder versuim sommer reguit kamp-toe. Hulle sit my toe by mev Jacobs in die tent. Dit sal seker nie vir lank wees nie, dink ek, want ek moet mos nog tronk-toe en ek verwag net elke oomblik dat hulle my sal kom haal. ’n Paar dae gaan egter so verby, en daar gebeur niks. Ek begin moed skep en dink dat hulle van my vergeet het. Intussen het ek die lewe in die kamp goed gadegeslaan, maar dit was vir my te oorweldigend. Ek besef dat ek dit nooit sal uithou nie; die ellende is onbeskryflik. Die sterfte en siekte onder die mense, sou my mal of dood maak.

Nieteenstaande die treurige toestande in die kampe, was daar nogtans ’n deel van ons volk wat, onbesorg oor die lotgevalle van hulle mede-Afrikaners, gelukkig en plesierig bly leef het. Dit het my verbaas om te sien dat Afrikanermeisies, nie van diegene in die kampe nie, maar wat in die omgewing gebly het, wat ewe plesierig met die offisiere rondgery het, met blykbaar nie die minste besorgdheid oor wat in hul onmiddellike omgewing aangaan nie.

Nog ’n paar dae gaan so verby, en daar gebeur niks wat lyk of hulle nog ’n tronkplan met my het nie. Ek besluit toe om dit maar na die kommandant toe te waag. Ek het gehoor my moeder is in Bloemfontein se kamp, en my plan is nou daarheen. Ek is egter maar skrikkerig, want ek is reeds op die swart lys en moet dus net in my spoor trap. Ek vra toe om die kampkommandant te spreek, en iemand neem my na sy kantoor toe. Toe ek my storie klaar vertel het, wys die ou na ’n brief op sy tafel en sê: “O nee, vir jou is daar geen verlof nie. Jy het ons verraai en ons mense laat doodskiet. Ek weet alles van jou af. Hier in die kamp sal jy bly, nie eens ’n voet van jou oor die lyn nie; en wat meer is, jy sal ook hier vrek!”

Ek dog by myself: “Dis wat jy dink, maar ons sal sien.”

Hy vra my toe hoeveel broers ek nog op kommando het. Ek sê toe vier, en toe begin hy op die burgers skel. “Die wilde Boere, hulle veg nie; hulle gaan net rond om te plunder, te roof en te steel.”

By elke skelwoord het my bloed ook warmer geword, en ek dink toe by myself: “Waarom kan ek ook nie uiting gee aan my gevoelens nie?”

Toe sê ek: “Nee! Hulle is dapper manne, maar wat is jy – ’n vrouekommandant, en dit is ’n skandaal. Dit is nie ’n kuns of eer om ’n vrouekommandant te wees nie!”

Dit was vir hom te erg. Hy spring op en gryp my aan die bors, skud my so ’n paar maal en sê: “Jy beledig my, en ek sal jou in die tronk laat stop … jou verraaier!”

Meteens draai hy hom om toe iemand van agter hom aan die arm vat. Dit was ’n mnr X, die kommandant se sekretaris. Ek was meer as verstom toe ek hom herken as een van my onderwysers gedurende my eerste skooljare. Die sogenaamde sekretaris vra toe die kommandant om kalm te bly en sagter te werk te gaan. Of dié woorde enige uitwerking gehad het, kan ek nie juis sê nie, want dadelik volg my straf.

Ek kon kies of ek veertien dae in die tronk op ryswater wou lewe, of om vir veertien dae die kampwagte se wasgoed te doen. Ek dink so ’n rukkie.

“Toe, wat sê jy?” skreeu die vrouewagter.

“Ek sal die wasgoed doen,” sê ek ewe kalm.

Want ek het toe al klaar begin planne beraam om ’n ander uitweg te kry.

 


Next

Previous