In elk geval, toe was daar dié vreemdeling, ’n middeljarige man met die naam Losper, met sy tas. Hy het in die poskantoor gesit en Jurie Steyn gevra of hy nie dalk vir hom huisvesting vir ’n paar dae kon gee nie, terwyl hy ’n bietjie daar rondkyk.
“Ek sal dieselfde tariewe betaal as wat ek in die losieshuis in Zeerust betaal het,” het meneer Losper gesê. “Natuurlik nie dat ek dink jy my te veel sal vra nie, maar ek word slegs ’n vasgestelde bedrag deur die Departement toegelaat vir akkommodasie en reisuitgawes.
“Nou luister hier, neef Losper,” het Jurie Steyn gesê. “Jy het my nie vertel wat jou eerste naam is nie, daarom noem ek jou maar neef Losper.”
“My eerste naam is Org,” het die vreemdeling gesê.
“Nou maar dan, neef Org,” het Jurie Steyn hervat. “Op die manier wat jy praat, kan ek sien dat die gewoontes van die Groot Marico vir jou iets onbekends is. In die eerste plek is ek ’n posmeester en ’n plaasboer. So tussen die rekeninge en die bloutong, weet ek nie watter een van die twee die ergste joppie is nie. Ek moet asghries op die muilwa sit en seëlwas op die possak. En soms raak ek deurmekaar. Dit sou met enige man in my posisie gebeur. Op ’n dag sal dit gebeur dat ek dan ’n belastingseël op my haarmuil plak en ’n halfmaan met ’n balk op die Bekkersdalse possak brand. Dan sal daar moeilikheid wees. Ek bedoel eintlik probleme met my haarmuil. Die poskantoor sal nie enige verskil agterkom nie. Maar my haarmuil kan op sy manier nogal snaaks raak. Hy sal nou wel die muilwa trek, maar dan moet alles wees soos hy dit graag wil hê. Hy sal nie daarvan hou dat mense vir hom lag omdat hy ’n belastingseël op sy agterstewe het nie. Soms dink ek dat my haarmuil weet dat ’n sjieling-belastingseël daai ding is wat jy op ’n stukkie papier plak na jy die vrederegter ’n klomp leuens vertel het …”
“Nee, nie leuens nie,” het Gysbert van Tonder hom in die rede geval.
“’n Hele klomp leuens,” het Jurie Steyn verder bygevoeg, “oor ’n ander man se beeste wat gaan staan en losloop het in sy lusernlande terwyl daardie ander man sy siek kind na Zeerust geneem het …”
Gysbert van Tonder, wat Jurie Steyn se buurman was, het so half uit sy riempiestoel uit opgestaan, en toe ’n paar snedige opmerkings oor Jurie Steyn en sy haarmuil gemaak. Hy het gesê dat hy nie veel tyd vir beide van hulle gehad het nie. En hy het gesê dat hy verkies het om liewer nie te beskryf hoe sy lusernlande gelyk het na Jurie Steyn se beeste daarmee klaargespeel het nie. Hy het gesê dat hy nie daardie beskrywing in die teenwoordigheid van ’n vreemdeling wou gebruik nie.
Dit het gelyk of meneer Losper wel belanggestel het, en hy het vorentoe gesit om te luister. Dit het ook gelyk of Gysbert van Tonder die woorde wel sou gebruik het, maar At Naudé – wat ’n draadloos gehad het waarna hy gereeld geluister het – het egter ’n einde aan die argument gemaak deur te sê dat dit ’n respektabele voorkamer was met familieportrette wat aan die mure gehang het.
“En daar is ook Jurie Steyn se vrou in die kombuis,” het At Naudé gesê. “Hiér kan jy nie dieselfde soort taal gebruik as wat in die Volksraad – waar daar net mans is – aanvaarbaar is nie.”
Eintlik was Jurie Steyn se vrou toe nie meer in die kombuis nie. Sedert die jong skoolonderwyser, wat sy hare met ’n middelpaadjie gekam het, hier by Bekkersdal opgedaag het, het Jurie Steyn se vrou baie belang in opvoedkundige sake begin stel. Gevolglik, toe die vreemdeling, Org Losper, gesê het dat hy van die Departement afkomstig was, het Jurie Steyn se vrou dadelik gedink – te oordeel aan sy geveinsde voorkoms – dat hy ’n inspekteur van skole moet wees. En so het sy dus daar en dan ’n boodskap aan die onderwyser gestuur om hom betyds te waarsku, sodat hy sy sae en hamers wat hy gebruik het vir sy eie private figuursaagwerk wat hy voor in die klaskamer gedoen het terwyl die kinders opstelle geskryf het, kon wegbêre.
Intussen het Jurie Steyn sy gevoelens mooi verduidelik.
“Jy sien, jy kan nie van my verwag om ’n losieshuis te bestuur en ook al die ander dinge te doen wat ek moet doen nie, neef Org,” het hy gesê. “Nietemin is jy baie welkom om hier te bly. En jy kan bly so lank as wat jy wil. Maar net dit – jy moenie aanbied om te betaal nie. As jy beter bekend was met hierdie wêreld hier rond, sou jy geweet het dat die Groot Marico ’n besondere reputasie vir gasvryheid het. Wanneer jy by iemand kom bly, sal hy in sy eer gekrenk voel as jy hom geld aanbied. Maar dit sal my baie gelukkig maak om jou uit te nooi om in my huis te bly asof jy lid van my eie familie is.”
Toe het Org Losper gesê dat dit presies was wat hy nie wou hê nie. En daaroor het hy ernstig gevoel.
“Wanneer jy deel is van ’n familie, kan jy vir niks nee sê nie,” het hy verduidelik. “Ek het my beste broek by Pilansberg aan ’n draad geskeur. As ’n lid van ’n familie het ek gehelp om die donkies na die waterkar toe te keer. By Nietverdiend het ’n grootwitvark ’n stuk uit my tweede beste broek en my been gebyt. Dit was toe ek ’n lid van die familie was en gehelp het om emmers vol varkkos na die trôe toe aan te dra. Die boer het gesê dat die grootwitte daardie dag net ’n bietjie baldadig was. Wel, miskien het die grootwitte gedink dat ek ook lid van die familie was – sy familie, dis wat ek bedoel. Op ’n plaas by Abjaterskop het ek amper by ’n mynskag wat in onbruik geraak het, ingeval. Ek het gehelp om ’n dooie bul in die skag af te gooi toe ek ’n lid van die familie was. Die bul het van miltsiekte gevrek en ek het gehelp om hom aan die een poot te trek. Terwyl ek agteruit geloop het, het ek net betyds van die opening van die mynskag af weggespring – dit was amper te laat.
Ek kan jou ook vertel wat met my in die Dwarsberge gebeur het toe ek daar ’n lid van die familie was. En ook wat met my gebeur het toe ek ’n lid van die familie by Derdepoort was. Ek het nie geweet dat daardie familie ’n groot skil oor waterregte met die familie langs hulle gehad het nie. En dit was toe ek ’n watervoor met ’n graaf oopgemaak het, dat ’n skoot bokhael deur my hoed getrek het. As lid van die familie het ek juis toe kniediep in die modder gestaan, dus kon ek nie te vinnig weghardloop nie.
So sal jy kan verstaan dat, as ek sê dat ek liewer wil betaal, is dit nie dat ek onkundig is oor die pragtige tradisie van die Marico vir die vriendelike en oorvloedige ontvangs wat hy aan vreemdelinge verleen nie. Maar ek wil nie julle vriendelikheid verder misbruik nie. As ek enige verdere bosveldse gasvryheid kry, mag ek dalk nooit weer my vrou en kinders sien nie. Dis alles goed en wel om ’n lid van iemand se familie te wees, maar ek het ’n plig teenoor my eie familie. Ek wil graag in lewende lywe na hulle toe terugkeer.”
Johnny Coen het opgemerk dat, wanneer Gysbert van Tonder weer ’n volgende keer ’n Amerikaanse toeris moes rondwys, hy hom nie na die Limpopo toe hoef te neem nie. Hy kon hom maar net na sommige plase in die Marico neem.
Dit was toe dat Gysbert van Tonder sommer reguit vir Org Losper gevra het wat sy besigheid was. En, tot ons verbasing, was die vreemdeling baie eerlik met sy antwoord.
“Dis ’n nuwe werk wat die Departement van Verdediging vir my geskep het,” het Org Losper gesê. Dié pos het nie voorheen bestaan nie. Jy sien, met die jongste verkiesing het ek baie hard gewerk deur mense se name van die kieserslys te verwyder. Jy het geen idee hoeveel name ek laat afhaal het nie. Ek het selfs die name van party van ons kandidaat se ondersteuners laat skrap. Maar jy weet hoe dit gaan, ons maak almal maar foute. Dis ’n hoogs vertroulike pos. Dis ’n belangrike verdedigingsgeheim. Ek is onder eed om niks daarvan te onthul nie. Maar ek kan julle egter wel vertel dat ek besig is om ’n bepaalde ondersoek namens die Departement van Verdediging in te stel. Ek probeer vasstel of iets hier rond gesien is. Maar die pos is natuurlik vir my geskep, as julle verstaan wat ek bedoel.”
Ons het gesê dat ons dit baie goed verstaan. Ons het ook geweet, aangesien hy daaroor onder eed was, dat die aard van Org Losper se navorsing in die Groot Marico vroeër of later sou uitlek.
En soos dit toe gebeur het, het ons binne die volgende paar dae wel uitgevind. ’n Mahalapi wat vir Adriaan Geel gewerk het, het ons vertel. En toe het ons begryp hoe moeilik Org Losper se werk was. En ons was nie langer afgunstig oor sy werk vir die regering nie – selfs al was dit spesiaal vir hom geskep.
As jy die Mtosas ken, sal jy verstaan waarom Org Losper se werk so moeilik was. Daar was byvoorbeeld net een lid van die Mtosa-stam wat al ooit in enige noue kontak met witmense was. Hy het ongelukkig grootgeword tussen die Trekboere, wie se laaste stukkie breekware, wat hulle saam uit die Kaap gebring het, amper ’n generasie vroeër gebreek het.
Ons het gevoel dat die Departement van Verdediging darem ’n makliker taak vir Org Losper kon gevind het eerder as om hom rond te stuur om sulke vrae aan die Mtosas te vra – hulle wat nie eers geweet het wat ’n alledaagse kombuispiering was nie, wat nog ’n vlieënde een.
Next →
← Previous