Voorspoed en teenspoed, fout, ongeluk en beplanning

Posted on March 30, 2020 by Cape Rebel

Klik op die beeld om na die podgooi te luister

Uit SAS: Rogue Heroes, The Authorised Wartime History
deur Ben MacIntyre

 

Teen die middel van Julie het Stirling die omlyning van sy voorstel geskryf, erkenning aan Lewes gegee, en daarin genoem dat die plan “in ’n groot mate gebaseer was op Jock se idees”.

Stirling se oorspronklike memo was met ’n potlood geskryf, en dit het nie in die argief van die SAS oorleef nie. Die algemene trekke daarvan was duidelik: Rommel se ooswaartse oprukking langs die Noord-Afrikaanse kus, het die stryd in die guns van die vermaarde Duitse bevelvoerder geswaai, maar dit het ook ’n geleentheid geskep: Die vyandelike toevoerlinies is verleng en lughawens aan die kus is kwesbaar vir aanvalle gelaat. Dáár was die meeste van hulle verdediging maar redelik swak. By sommige was daar geen heining om die grens nie. Op ’n nag met donkermaan kon ’n klein groep goed opgeleide kommando’s met valskerms, so na as moontlik aan die vyandelike lughawens neergelaat word. Hulle kon dan in klein groepies onderverdeel word, elkeen nie meer as vyf-man sterk nie. Hulle kon die lughawens in die donker binnedring, op soveel vliegtuie as moontlik bomme plant, en dan terugval woestyn toe waar hulle deur die Long Range Desert Group opgepik sou word – dit was die Britse Verkenningseenheid vir wie dit moontlik was, so het Stirling gehoor, om tot diep in die woestyn te beweeg. Tot omtrent dertig afsonderlike aanvalle kon op een enkele nag uitgevoer word. Om sekuriteit en geheimhouding te verseker, sou so ’n operasie deur die opperbevelvoerder in die Midde-Ooste goedgekeur moes word. Die nuwe eenheid sou spesiale status benodig, toegang tot militêre inligting en sy eie afgesonderde opleidingsterrein. Stirling het “’n nuwe soort van mag, om die maksimum voordeel uit verrassing en slimheid te verkry”, voorgestel.

Van agterna beskou, lyk die plan voor die hand liggend. Destyds was dit rewolusionêr.

Baie offisiere in die Britse weermag, in die middelrangorde, het in die Eerste Wêreldoorlog geveg, en het vasgehou aan die ouderwetse, klassieke beskouing van oorlogvoering: soldate in uniform wat bots op die slagveld, en dan veg totdat een van hulle seëvier. Tot dusver, hoewel die gevegsfront vorentoe en agtertoe beweeg het, het die oorlog in Noord-Afrika daardie patroon gevolg. Wat Stirling voorgestel het sou die frontlinie bo-oor spring en die geveg reg in die kamp van die vyand laat plaasvind. Sommige het dit as nie net ongehoord beskou nie, maar ook onsportief, soos om ’n kêrel by te kom wanneer hy anderpad kyk. Sommige het gevoel dat dit ’n taak vir saboteurs, huursoldate en sluipmoordenaars was om vliegtuie in die middel van die nag op te blaas en dan weg te hardloop, en nie vir soldate van Sy Majesteit se gewapende magte nie. Dit was nie ’n oorlog soos wat hulle geken het nie, en dit was nie krieket nie. Nog erger, Stirling se idee het ’n bedreiging aan die blote konsep van rang verteenwoordig. Die bevelsorde in elke weermag is hoogheilig, maar Stirling het voorgestel dat daarvan ook weggeskram moes word, en slegs aan die mees senior bevelvoerder gerapporteer moes word – in hierdie geval generaal Sir Claude Auchinleck, die nuutaangestelde opperbevelvoerder van die kommandement van die Midde-Ooste. Stirling was maar slegs ’n luitenant, en ’n onbeduidende een daarby, wat voorgestel het dat eeue van militêre tradisie omvêrgegooi moes word deur direk met die hoëkoppe te praat, om sodoende ’n kommandement te stig wat heel verdag na ’n private weermag lyk. Vir die tradisionaliste onder sy hoër offisiere, was dit meer as net voorbarig, dit was bepaald oproerigheid.

Stirling het geen illusies gehad oor hoe sy plan deur die stafoffisiere by die hoofkwartier van die Midde-Ooste ontvang sou word nie. Hy was openlik minagtend teenoor die middelste vlak van die militêre burokrasie, waarna hy verskeie kere verwys het as “’n vrymesselary van niks besonders nie” en “laag na laag van versteende stront”. As sy idee enigsins ’n geleentheid sou kry, sou dit vir hom nodig wees om die voorstel direk in die hande van die seniorste offisiere te kry, voordat iemand laer in die hiërargie ’n kans sou geniet om dit te laat sneuwel. As dit deur die normale kanale sou gaan, kon die plan op die lessenaar van die eerste staffofisier wat dit lees, op die rotse loop. Stirling se radikale benadering tot die “gefossileerde stront” was dieselfde as sy houding teenoor die frontlinie: Hy het nie probeer om deur dit te gaan nie, maar om dit. Hoe hy dit reggekry het, het die stof waaruit mites bestaan geword.

Die hoofkwartier van die Britte in die Midde-Ooste was in ’n groot opgekommandeerde blok woonstelle in Kaïro se Garden City. Nog steeds op krukke, het Stirling al sukkelende na die ingang toe geloop, net om daar twee wagte te vind wat hom voorgekeer het en gevra het om sy pas te sien, wat hy nie gehad het nie. So wag hy toe ’n rukkie, totdat die wagte met iets anders besig was, en klim toe deur ’n gat in die heining. Net na sy binnegaan van die gebou, het die wagte sy agtergelate krukke opgemerk en hom agternagesit. So vinnig as wat sy stywe bene hom kon dra, het hy boontoe laat vat en by ’n kamer gemerk “Adjudantoffisier” ingebars. Daar het hy homself voor ’n rooigesig majoor bevind, wat ongelukkig een van sy vorige instrukteurs by Pirbright was. Die senior offisier het Stirling onthou as een van sy onoplettendste studente, en hy het gou van hom ontslae geraak: “Watter simpel idee jy ookal mag hê, Stirling, vergeet daarvan … Nou kry jou ry.”

Terug in die gang toe hy die wagte in aller yl boontoe hoor kom, het hy die volgende kamer binnegegaan – dit het behoort aan generaal Sir Neil Ritchie, die Anjunkstafhoof. Stirling het sy verkorte voorstel oorhandig. Ritchie het deur die voorstel geblaai, volgens Stirling, met groeiende belangstelling. Toe het hy opgekyk. “Dit mag net die soort van plan wees waarna ons op die uitkyk is.” Die majoor van die adjudantgeneraal se kantoor van langsaan is ingeroep en opdrag gegee, tot dié se verbasing en skaars onderdrukte woede, om die jong offisier al die bystand wat hy nodig sou hê, te gee. “Ek hou nie van jou nie, en ek hou ook nie van dié besigheid nie,” het die majoor deur sy tande gesis na Ritchie vertrek het. “Van my gaan jy geen gunste kry nie.” Drie dae later is Stirling teruggeroep om generaal Auchinleck te gaan spreek.

Dit is die amper perfekte Stirling-storie, wat die karakteristieke vermenging van persoonlike afkraking, bluf en vermetelheid bevat, en ’n waaghalsige daad, met onwaarskynlike sukses bekroon, terwyl hy klappe aan die militêre burokrasie wat hy verag het, uitdeel. Dit het die patina van ’n opgepoetste verhaal wat ná aandete vertel en oorvertel is. Dit mag selfs waar, of gedeeltelik waar, wees.

Maar daar is ’n ander meer prosaïse verduideliking van Stirling se suksesvolle pogings om toegang tot die opperhoofde te verkry. Auchinleck was ’n ou familievriend van die Stirlings. Ritchie het al voorheen op Keir, Skotse grouse gejag en geskiet. Hulle was altwee van Skotse afkoms, en albei het langs generaal Archibald Stirling, David se pa, in die Eerste Wêreldoorlog geveg.

Dit was die leeftyd toe familie- en klassekonneksies baie getel het: As daar ’n junioroffisier was wat ’n generaal, deur net eenvoudig daarvoor te vra, kon sien, was dit David Stirling. “Ek het geweet ek kon met ’n generaal argumenteer,” het hy later gesê.

Generaals Auchinleck en Ritchie was beide teenwoordig by Stirling se volgende onderhoud, asook majoor-generaal Eric Dorman-Smith – ’n man wat deur een kollega beskou was as byna van lotjie getik, maar wat een van die min senioroffisiere was wat ’n besef gehad het van hoe gou die oorlog met nuwe tegnologie en motorisering ontwikkel het.

Dié drie offisiere het Stirling deeglik ondervra oor sy verkorte voorstel, en met aandag geluister terwyl hy sy idees uiteengesit het.

Auchinleck, algemeen bekend as “die Auk”, het destyds maar slegs kort tevore oorgeneem as opperbevelhebber, en was toe alreeds onder ernstige druk van Winston Churchill af om teen Rommel terug te slaan, en die gety in die noorde van Afrika om te keer. ’n Grootskaalse teenoffensief sou vroeër plaasgevind het (as Churchill sy sin kon kry) of later (as Auchinleck syne kon kry), en Stirling se span aanvallers kon moontlik ’n belangrike rol speel om die vyand se lugslaankrag op ’n kritiese oomblik te belemmer. Die besluit om Layforce te ontbind was klaar geneem, en dit het beteken dat ’n parate poel van moontlike rekrute beskikbaar was. Anders as vroeëre kommando-maneuvers, sou die plan nie die gebruik van duur skepe en die gekompliseerdheid van marinesamewerking vereis nie. Stirling se plan was goedkoop in terme van mannekrag, toerusting en wapens, en dit kon uiters lonend wees, sou dit werk. Sou dit nie werk nie, al wat verlore sou wees was net ’n handjievol avonturiers. Daar mag ’n ander rede vir die generaals se gewilligheid om te luister gewees het. Al drie van hulle was gedurende die laaste oorlog betrokke in die afgryslikste van die stryd: Aan Dorman-Smith is die Militêre Kruis by Ypres toegeken; Ritchie het dieselfde medalje gewen vir sy “kalmte, waagmoed en algehele verontagsaming van gevaar” onder vyandelike vuur; Auchinleck is in amptelike verslae gedurende die hewige gevegte in Mesopotamië, vermeld. Dié trio van generaals kon in hierdie vyf en twintigjarige soldaat se verduideliking gehoor het hoe hy van plan was om van hulp te wees om die oorlog teen die Duitsers te wen deur handgemeen met hulle te raak, en hulle kon dalk in hom ’n bietjie van hulle self gesien het.

Aan die einde van die vergadering is aan Stirling gesê dat hy tot kaptein bevorder sou word, en dat hy volmag verleen sou word om ’n aanvangsmag van ses offisiere en sestig manskappe, van wat oorgebly het van Layforce, op die been te bring.

Die nuwe eenheid het ’n naam nodig gehad. Dit is deur ’n redelik onbekende militêre genie met ’n unieke talent om te mislei en te verkul, bewerkstellig, en wat ’n voorliefde vir die teatrale gehad het. Kolonel Dudley Wrangel Clarke was verantwoordelik vir strategiese om-die-bosleiery in die Midde-Ooste. Die vreemde, maar noodsaaklik uitspruitsel van militêre maneuvers het ten doel gehad om die waarheid van die vyand weg te steek, en leuens in die plek daarvan te plant. Clarke het as een van die groot om-die-bosleiers in die Tweede Wêreldoorlog verrys. Hy het vanuit ’n omskepte badkamer en toe vanuit die kelderverdieping van ’n bordeel in Kaïro gewerk. Hy het gebruik gemaak van denkbeeldige slagorders, visuele misleiding, dubbelagente, en vals informasie om die vyand te verwar en te mislei. Hy was flambojant, sjarmant, en heel komieklik. Hy was ook ’n bietjie koddig. In Oktober 1941 is hy in Madrid gearresteer toe hy, nogal elegant, as ’n vrou aangetrek was. Hierdie insident, wat nooit ten volle verduidelik was nie, het heelwat van ’n gegiggel ten gevolge gehad het – die Spaanse polisiefoto’s is aan Churchill gestuur – maar dit het sy loopbaan geheel en al ongeskonde gelaat.

Een van Clarke se oëverblindery-aksies in die Midde Ooste in 1941 was die skepping van ’n vals valskermbrigade om te probeer om die Italianers te laat vrees dat die Britte lugtransporttroepe mag laat land om die volgende aanval by te staan. Die doel was om Italiaanse magte saam te laat drom om hulle bolwerke te beskerm teen niebestaande bedreigings, en om oor die algemeen die vyand se beplanning in die wiele te ry, om die klaarblyklike grootte van die Britse magte kunsmatig te vergroot, en om oor die algemeen die vyand se beplanning in die wiele te ry. Die kodenaam van die operasie was Abeam, en die sogenaamde eenheid is die versinne naam van “First Special Air Service Brigade” gegee. Clarke het vervalste foto’s in die Egiptiese koerante laat plant wat valskermtroepe naby krygsgevangenekampe vertoon het, en twee manne in Egipte in vals uniforms laat rondloop het en wat voorgegee het dat hulle SAS-valskermtroepe was, wat besig was om te herstel ná beserings wat hulle opgedoen het met ’n valskermsprong. Vals dokumente, wat die eerste SAS-brigade identifiseer, is ook op bekende vyandelike spioene geplant, wat ’n Japanese konsulamptenaar ingesluit het. Aan die gebuite vyandelike dokumente het dit gelyk asof Operasie Abeam gewerk het, maar toe Clarke daarvan te hore gekom het dat ’n opregte valskermeenheid in wording was, het hy aangevoel dat daar ’n geleentheid was om die oëverblindery verder te onderskraag. As Stirling se aanvalspan dieselfde naam aanneem, het Clarke geredeneer, sou dit in die gemoed van die opposisie verseker die idee versterk dat ’n volsterkte brigade valskermsoldate vir aksie voorberei het.

Stirling het geredelik saamgestem om sy mag “L Detachment, Special Air Service Brigade” te noem. Daar was op die letter L besluit om te kenne te gee dat afsonderlike eenhede van A tot K alreeds bestaan het. Stirling het later op grappender wyse opgemerk dat dit vir “Leerder” gestaan het. Clarke was “verheug om vlees en bloed valskermsoldate te hê in plaas van algehele valsses”. In ruil daarvoor het hy belowe om sy uitgebreide netwerk van kontakte te gebruik om die woord te versprei dat Stirling op soek was na rekrute.

Die SAS is as deel van ’n groter kontingent gevorm wat egter in der waarheid nie bestaan het nie – ’n vreemde maar tog ’n geskikte begin van ’n eenheid wat tot stand gekom het deur ’n hoogs onwaarskynlike kombinasie van voorspoed en teenspoed, fout, ongeluk en beplanning.


Next

Previous