Uit “The Traitor’s Wife”
In Unto Dust
deur Herman Charles Bosman
Terwyl ons stadig op ’n veldpaadjie gegalop het – ’n paadjie wat ons die afgelope jaar wanneer daar Engelse magte in die omgewing was, baie gebruik het – het ons nie van die geluid van die wind gehou nie.
Klein polletjies geel gras is in vinnige vlae oor die veld aangejaag, en die rook van ’n vuur voor ’n ry hutte het laag in die lug gehang. Dit het ons laat weet dat die derde winter van die Anglo-Boereoorlog aan die kom was. Ons het aan die kant van ’n klomp kameeldorings afgeklim om ons perde te laat rus.
~
Ons het dadelik aan Leendert Roux gedink. Hy was vir ’n lang ruk saam met ons op kommando, en daar was al na hom verwys as ’n moontlike veldkornet in die toekoms. Maar hy het een aand uitgegaan om verkenningswerk te gaan doen, en nooit weer teruggekeer nie.
Daar was natuurlik ander Boere wat ook by die Engelse aangesluit het. Maar daar was nie een vir wie ons soveel respek gehad het soos vir Leendert Roux nie.
Ons klompie burgers was gou weer aan die beweeg.
By die uitgang, ná ons laatmiddag deur Krokodilpoort beweeg het, was Leendert Roux se plaasopstal sigbaar. Langs die dam was daar ’n akkertjie mielies wat Leendert se vrou die werkers gevra het om te verbou.
“Ons sal op Leendert Roux se plaas kampeer, en vanaand eet ons geroosterde mielies,” het Apie Theron, ons veldkornet, opgemerk.
~
Die pad waarop ons gery het, het verby Leendert Roux se plaashuis geloop. Die geluid van ons perdepote het Leendert se vrou, Serfina, na die deur toe laat kom. Sy het in die deuropening gestaan en kyk terwyl ons verbygery het. Serfina was mooi, langer as die meeste vrouens, en slank. Jy kon sien hoe uitdrukkingloos haar oë was, en haar gesig was baie wit.
Dit was snaaks, het ek gedink terwyl ons verby die plaasopstal gery het, dat dit, om Serfina te sien, ons nie bitter teenoor haar gemaak het nie.
Jurie Bekker het gesê dat iets aan Serfina Roux hom aan Transvaal laat dink het. Hy het gesê dat hy nie geweet het wat dit was nie, maar die wind van die vroeë winter het haar rok om haar enkels laat wapper, en dit het hom daaraan laat dink.
Kobus Ferreira het toe gesê dat hy iets vir haar wou skree toe ons verby die deur gery het, om haar te laat weet hoe ons, wat besig was om tot die bitter einde te veg, in flenterklere, gevoel het oor die vrou van ’n verraaier. “Maar sy het so stil daar gestaan,” het Kobus Ferreira gesê. “Ek kon niks sê nie.”
Toe het ’n opmerking van Jan Vermeulen ons daaraan herinner dat daar ’n oorlog aan die gang was. Hy het die meelsak wat hy aangehad het, uitgetrek en met ’n stuk baaldraad het hy die plekke waar die gate was, toegeryg. Hy het die meelsak herstel om dit te gebruik vir die doel waarvoor dit bestem was, en ek neem aan dat, as gevolg daarvan, sy mening ook verstandiger geword het.
“Net omdat Serfina pragtig is,” het Jan Vermeulen gesê terwyl hy mieliekoppe in die sak gegooi het, “moet ons nie vergeet wie sy is nie. Miskien is dit nie veilig vir ons om op hierdie plaas te kampeer nie. Sy is verseker in kontak met die Engelse. Sy mag hulle vertel waar ons is, veral nou dat ons haar mielies gevat het.”
Maar ons veldkornet het gesê dat dit nie belangrik was as die Engelse geweet het waar ons was nie. Enigiemand in die omgewing kon gaan en ons posisie aan die Engelse rapporteer. Wat van belang was, was dat ons moet weet waar die Engelse was. En hy het ons daaraan herinner dat, wat dit betref, hy in twee jaar nog nooit ’n ernstige fout begaan het nie.
“Maar wat van die affêre in die spruit?” het Jan Vermeulen hom gevra. “My pyp en tonteldoos was ook nog in die baadjie wat ek daar moes agterlaat.”
Teen sononder het die wind gaan lê, maar daar was ’n ysigheid in die lug. Ons het in die tamboekiegras aan die vêr kant van Leendert Roux se plaas, kamp opgeslaan. En ek was bly, daar waar ek tussen komberse gelê het, om te dink dat dit die veldkornet en Jurie Bekker se beurt was om wag te staan.
In die verte het ’n jakkals gehuil. Toe was daar stilte. ’n Rukkie later is die stilte van die nag versteur deur harder veldgeluide. Hulle het ook nie van baie ver af gekom nie. Dit was geluide wat Jurie Bekker gemaak het toe hy in die eerste plek oor ’n baken geval het, en daarna, toe hy sy opinie gegee het van Leendert Roux wat ’n baken in die middel van ’n klomp dubbeltjies gaan plaas het. My komberse het lekker warm gevoel, so oor my skouers getrek, toe ek aan daardie dubbeltjiedorings gedink het.
Toe Jurie Bekker Leendert Roux se naam genoem het, het ek, omdat ek jonk was, gedink aan die beeld van Serfina soos sy daar voor haar deur gestaan het.
Die droom wat ek daardie nag van Serfina Roux gehad het, was dat sy na my toe gekom het, lank en bekoorlik, langs ’n wit baken op haar man se plaas. Dit was daardie soort van droom wat jou bygebly het, waarin jy so half geweet het dat jy besig was om te droom. En sy was besonder mooi in my droom. En dit was asof haar hare so half los in die droom was en los in die wind gewaai het toe sy nader aan my gekom het. En ek het geweet wat sy my wou vertel. Maar ek was nie gretig om dit te hoor nie. Ek het geweet as Serfina dit gaan vertel, sou ek uit my droom wakker skrik. En op daardie oomblik, soos dit altyd in ’n droom gebeur, het Serfina gepraat.
“Opskud Kêrels!” het ek gehoor.
Maar dit was nie Serfina wat die opdrag gegee het nie. Dit was Apie Theron, ons veldkornet. Hy het by die kamp aangehardloop gekom met sy geweer in die hand. Serfina was weg, en binne ’n paar minute het ons ons perde opgesaal en was ons gereed om weg te galoppeer. Telkemale gedurende die afgelope paar jaar, het ons brandwagte ons só wakker gemaak – wanneer ’n Engelse kolonne aan die kom was.
Ons was alreeds in die saal toe Apie Theron ons laat weet het wat aan die gang was. Hy het inligting gekry, het hy gesê, dat Leendert Roux daardie selfde nag nog, dit terug na sy huis toe gewaag het. As ons gou maak, mag ons hom in sy eie huis betrap. Die veldkornet het ons gewaarsku om geen kanse te vat nie, en hy het ons daaraan herinner dat Leendert Roux, toe hy nog aan ons kant was, ’n vreeslose en vernuftige vegter was.
So het ons dus gedurende die nag op dieselde pad waarop ons daardie middag gekom het, teruggery. Ons het ons perde in ’n klomp bome naby die mielieland vasgemaak en begin om die huis te omsingel. Toe ons ’n figuur na die stal langs die huis sien hardloop, het ons besef dat Leendert Roux amper te vinnig vir ons was.
In die koue, ysige briesie wat net voor sonop begin waai het, het ons vir Leendert Roux by die staldeur verras. Maar toe hy geen weerstand gebied het nie, was dit amper asof Leendert Roux óns verras het. Leendert Roux se kalm aanvaarding van sy lot, was amper asof hy nie ’n verraaier geword het nie, maar dat hy sy lewe gegee het vir Transvaal.
Leendert Roux het die veldkornet se vraag beantwoord deur te sê dat hy bly sal wees as ons Psalm 110 oor sy graf sou lees. Hy het ook gesê dat hy nie geblinddoek moes word nie. En hy het gevra om toegelaat te word om sy vrou te groet.
Serfina is laat haal. Langs die stal in die vroeë oggendbries, het Leendert en Serfina Roux, eggenoot en sy vrou, mekaar vaarwel toegeroep.
Toe Serfina weer omgedraai en teruggestap het op die voetpaadjie met die dubbeltjies, na haar plaashuis toe, het sy selfs skimagtiger gelyk as in my droom. Die son was net besig om op te kom. En ek het presies verstaan hoe reg Jurie Bekker was toe hy gesê het dat sy net soos Transvaal was, met die dagbreekbries wat haar rok om haar enkels laat fladder het en wat oor die gras gegolf het. En ek het onthou dat dit die Boervrouens was wat deurgedruk het toe hulle mans teruggedeins en gepraat het van omdraai, daar voor die kranse en steiltes van die Drakensberge.
Ek het ook daaraan gedink hoe vreemd dit was dat Serfina in die middel van die nag oorgeloop het na ons kamp toe, net soos sy in my droom gedoen het. Maar waar my droom anders was, was dat sy kom vertel het, nie aan my nie, maar aan ons veldkornet, waar Leendert Roux hom bevind het.
Next →
← Previous