Met die aanbreek van die daeraad, het ek afgeklim en my perd as ’n geskenk aan Samuel aangebied. Dit sou nie vir my moontlik wees om hom langer te hou nie, want ek moes nog oor die eerste bog van die see kom wat toe omtrent vier myl daarvandaan was. Samuel het egter geweier om die dier te aanvaar, want, het hy gesê, as sy bure so ’n pragtige perd in sy besit sien, sou hulle dadelik vermoed dat hy dit van een of ander rebel wat hy gehelp het om te ontsnap, ontvang het. Hulle kon hom dan dadelik gaan verklap en hy sou vervolg word. Die perd kon as getuienis teen hom gebruik word, en uiteindelik sou hy, vir seker, gevonnis en opgehang word.
Ek het die saal en toom verwyder en in ’n waterput gegooi. Daarna het ons die perd ’n entjie van die pad af die veld ingejaag. Enigeen wat hom raaksien, sou dink dat dit sommer ’n losloperperd was. Ons het egter groot moeite gehad om van die dier ontslae te raak, want hy het vir ’n hele ruk net soos ’n hond agter ons aangeloop.
Dit was nie langer as ’n kwartier nadat ons die perd vrygelaat het dat ons ’n ou vriend van Samuel raakgeloop het. Dié wou in detail weet waarheen hy oppad was, wat hy besig was om te doen, en wie ek was. Samuel het sonder om te aarsel sy vrae beantwoord. Ná die avontuur met die hond by Forfar, was dit vir my ’n aangename verrassing: “Ek gaan,” het hy gesê, “om ’n kalf huis toe te bring wat ek verlede herfs in die Laaglande gelaat het om daar te oorwinter. Uit groothartigheid neem ek hierdie jong kêrel saam met my, want hy was honger en sonder ’n heenkome, en nou werk hy vir my vir sy kos. My plan is om hom met die kalf terug te stuur terwyl ek Dundee toe gaan om ’n koei te gaan koop waarmee ek my familie gedurende die somer kan onderhou.”
Dit het so gebeur dat daar ’n taphuis naby was, en die twee vriende het besluit om saam ’n bier te gaan drink. Ek was genoodsaak om saam te gaan. Ek het my nuutgevonde meester soveel respek betoon dat ek dit nie gewaag het om saam met hulle te gaan sit nie totdat hy my uitgenooi het. Samuel se vriend het daarop aangedring dat ek ’n biertjie – wat waarlik soos medisyne gelyk het – saam met hulle moes geniet. Samuel het darem verskoning vir my gemaak en my deugde van soberheid en my goeie karakter so besing dat sy vriend my die hele tyd baie aandag gegee het en my besonder vriendelik behandel het. Hy het elke nou en dan die wens uitgespreek om iemand soos ek vir homself te probeer kry. Ek het gedink dat ek kon sien dat hy heimlik begeer het om my uit Samuel se diens weg te lok.
Nadat hulle ’n hele paar biere weggeslaan het, het hulle die plek verlaat, en tot my groot blydskap het hulle toe van mekaar afskeid geneem. Want nie net was ek herhaaldelik in verleentheid gebring deurdat ek die rol moes speel wat Samuel my toegewys het nie, maar ek was ook siek en sat vir hulle banale geselskap. Dié man was skaars weg toe Samuel in my oor gefluister het dat hy een van die grootste skobbejakke en verneukers in hierdie deel van die land was. Hy was ’n berugte skurk en sou hy uitgevind het wie ek was, sou hy sonder twyfel my verraai het. Slegs die verwagting om my horlosie en beursie in die hande te kon kry, sou vir hom voldoende beweegrede wees om my teenwoordigheid aan die owerhede te rapporteer, en so sou die galgtou my voorland gewees het.
Wat Samuel my toe vertel het, het my totaal verstom, want uit hulle geselskap, wat vol gerusstellings van wedersydse respek was, het ek afgelei dat daar ongetwyfeld tussen dié twee opregte vriendskap was. Met dié nuwe insig, het ek my nuwe meester geprys vir sy waaksaamheid en skerpsinnigheid.
Listigheid, skynheiligheid en die kuns om te mislei – wat dilwels heel verkeerdelik na verwys is as beleid – is volgens algemene veronderstelling gewoonlik net in die howe van prinse te vinde – die enigste skole waar bedrog en huigelary geleer kan word. Maar ek het soveel verdoeseling en geveinsdheid tussen dié twee kleinboere gesien terwyl hulle bier gedrink het en mekaar gekomplimenteer en verseker het van wedersydse vriendskap, dat ek heeltemal geflous was.
Later het so iets ook gebeur in ’n gesprek tussen twee vooraanstaande edelmanne waarby ek teenwoordig was. Een van hulle was ’n goeie vriend van my en die ander een ’n ambassadeur by ’n hof. Hy het die outoriteit gehad en het belowe om van waardevolle diens vir my vriend te wees – wat toe as ’n misdadiger in sy eie land, en dus ’n banneling, beskou was. Hierdie twee mense het mekaar hartlik omhels en ’n duisend vleiende dinge aan mekaar gesê, en herhaaldelik aan mekaar die mooiste versekering van vriendskap belowe. Die oomblik egter toe die ambassadeur totsiens gesê en vertrek het, het my vriend my vertel dat hulle mekaar eintlik waarlik verfoei het. Toe ek hom beskuldig het dat hy, wat ’n eerbare man en ’n heer is, onwaardig opgetree het, het hy geantwoord dat hy die ambassadeur slegs in sy eie munt wou terugbetaal.
Nietemin, die pantomime van die twee lords – lord Ogilvie, later die graaf van Airly, en die hertog De Mirepoix, toe die ambassadeur aan die Londonse hof – sou my minder geflous het, weens die algemene mening oor die dubbelhartigheid van howelinge, as wat deur dié twee kleinboere uitgebeeld is.
Next →
← Previous