Klik op die beeld om na die podgooi te luister
Uit Met die Boere in die veld
deur Sarah Raal
“Sorg dat jy môre om nege-uur hier is,” was die laaste woorde van die kommandant.
Toe ek wegstap en die gedagte by my opkom dat ek die klere van die vuil Tommies moet was, was ek woedend. Ek moet egter begin om oor iets van meer belang te dink, naamlik hoe om van hieraf weg te kom. Ja, ek moet uit die kamp uit wegloop, maar hoe? Al was daar nog nie ’n oop kans nie, het ek vas besluit om daardie vrouekommandant ’n goeie les te leer.
Ek het by die tent aangekom en twee van my vriendinne daar gekry. Ek moes my uiterste bes doen om niks van my gevoelens te laat merk nie. Ek het gedink dit sou onwys wees om hulle al die besonderhede te vertel as ek hulle hulp wou gebruik. Hulle twee sou bang gewees het vir die straf as hulle my help om weg te loop. Gevolglik het ek begin praat oor die onmoontlike lewe in die kamp en die treurige behandeling en kos waarmee ons tevrede moes wees, en algaande die voorstel gemaak dat ons drie moes wegloop.
Ek het voorgestel dat een van hulle ’n pas moes gaan vra, vir haar en haar twee susters, om hout te gaan haal in die berg, en dan sal ek probeer om my so te vermom dat ek kan deurgaan as een van die susters – want ek mag mos nie buite die heining van die kamp gaan nie.
Wel, so gesê, so gedaan.
Onderwyl hulle die pas gaan vra, het ek rond en bont geruil en geleen om ’n kappie, bril, sak en ’n byl in die hande te kry. Ons het probeer om alles darem stil te hou. Niks moes rugbaar word nie, want die gevaar was te groot. Ek dink nou nog dat as hulle geweet het my straf wag die volgende oggend om nege-uur op my, hulle nooit sou gewaag het om my te help nie. Voor ons vertrek moes ons skelmpies ’n paar stukkies brood en wat daar te kry was, vat en versigtig wegsteek.
Ek kan nooit beskrywe watter angstige oomblikke ek deurgemaak het toe ons deur die kamp begin stap het en nader en nader aan die eerste wag kom nie. Dit was ’n gewoonte dat die meisies en vrouens gaan hout haal. Maar dié keer was die anders. My hart het in my keel geklop, want dit voel mos nou asof die wagte weet wat ons van plan is om te doen. Selfs die manier waarop hulle na ons kyk, waarvan ons ander dae nie eens notisie sou geneem het nie, lyk nou agterdogtig.
Die eerste wag het die pas gelees en ons so ’n paar maal op en af bekyk. Wat ’n verligting toe ek die woorde hoor: “Goed, gaan maar deur.”
Nou volg die tweede wag om verby te kom. Hy het minder agterdogtig gelyk, want sodra hy ons pas gesien het, het hy ons laat deurgaan met die waarskuwing om nie naby die rantjie te gaan nie, want daar is Boere. Arme skepsel, net wat ons graag wou gehoor het. Ons was toe al so gretig om weg te kom dat dit ’n moeilike taak was om bedaard aan te stap en so nou en dan te maak of ons hout optel en asof ons in niks anders belangstel nie.
Skaars was ons agter die eerste bult of ons gooi sakke en byle weg en begin na die rantjie toe hardloop waar die Boere veronderstel was om te wees. Toe ons so halfpad was, wou my twee maats met geweld tou opgooi, want ons het gehardloop so hard as wat ons kan. Maar ek bly hulle moed inpraat so al wat ek kon. As die gedagte by my opkom dat ek die volgende ogggend om nege-uur my verskyning voor die kommandant moet maak, dan praat ek weer ’n slag met hulle. So het dit aangehou totdat ons eindelik aan die voet van die rant gekom het.
Ons was toe ook so uitgeput dat ons soos drie flou perde daar neergeval en probeer het om ons asem terug te kry. Terwyl ons so rustig gelê en rus het, hoor ons ’n stem uit die rant êrens sê: “Julle moet vlug, die Engelse kom.”
Ons het ons lam geskrik, maar ons het gou besef dat dit Boere is, hoewel hulle kakie gedra het. Hulle het ons toe die rant uitgehelp, en die ander klomp het op die Engelse teruggeskiet. Ons het vir al wat ons werd was oor rante en deur slote gevlug tot ons dié aand by die plaas Ribboksfontein aangekom het. Mnr. en mev. Van Heerden het ons met alle liefde ontvang en kon nie genoeg praat van die waagstuk van ons drie meisies nie. Daar het mej. Van Schalkwyk toe ook agtergebly, want haar ouers was nog nie gevang nie, en sy sou vandaaraf na hulle toe teruggaan.
Ek sal seker nooit weer so moeg kan word as ek daardie aand was toe ons uit die kamp weggeloop het nie. As ’n bed ooit welkom was en slaap oorweldigend, dan was dit toe. Toe ek die volgende oggend wakkerskrik, het ek ’n ander mens gevoel.
Mej. Jacobs, een van my vriendinne wat saam weggeloop het, en ek is toe na ons broers op Touwfontein weggebring. Die verrassing om ons te sien onder sulke omstandighede, was vir hulle byna ondraaglik. Hulle was net besig om te skeer toe ons daar aankom, en met gesigte vol seep het hulle ons bestorm en gesoen, hoede in die lug gegooi en geskreeu: “Welkom!”
Toe ons onder kruisverhoor gekom het, kon hulle maar net nie genoeg uitvra nie. Maar toe moes daar beraadslaag word om te besluit wat met ons gedoen kan word, want dinge lyk maar nie alte rooskleurig nie. Die huise is byna almal afgebrand; die kos is skaars, en dit sal seker nie te vlot verloop nie. Ons besluit toe dat ons twee meisies maar sal gaan bly waar daar nog ’n huis staan, maar die end van die saak was dat ons twee toe maar by die kommando aangesluit het, daar dit baie onveiliger was om alleen op die plaas te bly, want al die mense in die buurt is al gevang en na die konsentrasiekampe geneem.
Ek en mej. Jacobs het nog so ’n tyd bymekaar gebly, en toe is ons ook uitmekaar – want elkeen van ons wou by ons broers bly.
Dus sluit ek by kommandant Nieuwoudt aan, onder wie se afdeling my broers is. Generaal Hertzog kom toe vir ’n tyd lank na ons kommando toe, waar ek meer as een keer sy heldemoed, sy vasberadenheid en sy opofferende liefde vir land en volk bewonder het.
Next →
← Previous