Uit The Tipping Point
deur Malcolm Gladwell
Click Here to Play Podcast
Gedurende die middag van 18 April 1775 het ’n jong seun wat by ’n perdestal in Boston gewerk het, toevallig gehoor hoe een Britse weermagsoffisier aan ’n ander iets gesê het oor “môre is die hel los”. Die stalkneg het met dié nuus na Boston se North End, na die huis van die silwersmid genaamd Paul Revere, gehardloop. Revere het heel gewigtig geluister – dit was nie die eerste gerug wat hy daardie dag gehoor het nie. Vroeër is daar aan hom vertel dat ’n ongewone getal Britse offisiere by Boston se Long Wharf vergader het en op sagte toon met mekaar gepraat het. Daar is waargeneem hoe Britse bemanning gejaagd in die bote wat onderaan die HMS Somerset en die HMS Boyne in die Bostonse hawe vasgemaak was, rondbeweeg het. ’n Hele paar ander matrose is daardie oggend op die kus gesien, en dit het voorgekom asof hulle opdragte op die laaste oomblikke uitgevoer het. Later die middag het Revere en sy boesemvriend, Joseph Warren, meer en meer oortuig daarvan geraak dat die Britte op die punt gestaan het om oor te gaan tot die maneuver waarvan daar ’n hele ruk lankal gerugte oor rondgegaan het – om na die dorp Lexington, noordwes van Boston, toe te marsjeer om die koloniale leiers John Hancock en Samuel Adams te arresteer, en daarvandaan verder na die dorp Concord om daar beslag te lê op die gewere en ammunisie wat sommige van die burgerlike verdedigingsmag daar geberg het.
Wat volgende gebeur het, het deel van die geskiedkundige legendes geword – ’n verhaal wat aan elke Amerikaanse skoolkind vertel word. Tienuur daardie aand het Warren en Revere mekaar ontmoet. Hulle het besluit om die gemeenskappe om Boston te waarsku dat die Britte daarheen oppad is, sodat die plaaslike burgermag voorbereid en paraat kon wees om hulle te ontmoet. Dapper en onbevrees het Revere oor Boston Harbour na die veerbootlandingsplek gegaan. Daar het hy op ’n perd gespring en sy “middernagtelike rit” na Lexington aangepak. Binne twee uur het hy dertien myl afgelê. Op sy weg het hy by elke dorp waar hy verbygegaan het –Charlestown, Medford, North Cambridge, Menotomy – aan die deure geklop en woord gelos en die plaaslike koloniale leiers laat weet dat die Britte aan die kom was, en hulle versoek om die nuus rugbaar te maak. Kerkklokke het begin lui. Dromme het getrommel. Die nuus het soos ’n virus versprei en daardie mense wat deur Paul Revere ingelig is, het hulle eie ruiters uitgestuur, totdat alarmseine oor die hele gebied afgegaan het. Teen eenuur dié oggend het die woord versprei na Lincoln,
Toe die Britte uiteindelik hulle mars op die oggend van die negentiende na Lexington begin het, was hulle strooptog na die platteland teengestaan – tot hulle groot verbasing – deur goed georganiseerde en hewige weerstand. Daardie dag is die Britte in Concord gekonfronteer en deeglik toegetakel deur die koloniale burgerlike verdedigingsmag, en van daardie skermutseling het die oorlog, wat as die Amerikaanse Rewolusie bekend is, gekom.
Paul Revere se rit is miskien die beroemdste historiese voorbeeld van ’n mondelinge epidemie. ’n Brokkie buitengewone nuus het in ’n baie kort tydjie ’n lang afstand getrek en ’n hele omgewing gemobiliseer om die wapen op te neem. Natuurlik is nie alle mondelinge epidemies só sensasioneel nie. Maar dis veilig om te sê dat mondelinge mededeling steeds die belangrikste vorm van menslike kommunikasie is. Maar ten spyte daarvan bly mondelinge bekendmaking baie misterieus. Mense dra die hele tyd allerhande soorte inligting aan mekaar oor. Maar dis slegs in ’n buitengewone geval dat so ’n oorvertelling ’n mondelinge epidemie op tou sit.
~
In die geval van Paul Revere se rit, lyk die antwoord op die vraag – hoekom sommige idees en neigings en boodskappe versprei en ander nie – maklik. Revere het ’n sensasionele stukkie nuus saam met hom geneem: die Britte was aan die kom.
Maar as jy mooi na die gebeurtenisse van daardie aand kyk, dan verklaar dié verduideliking nie die raaisel nie. Die selfde tyd wat Revere sy rit noord en wes van Boston af begin het, het ’n mederevolusionêr – ’n looier met die naam van William Dawes – die pad gevat en met dieselfde dringende opdrag na Lexington toe gery via die dorpe wes van Boston. Hy het dieselfde boodskap gedra, deur net soveel dorpe en oor net soveel myle as Paul Revere. Maar Dawes se rit het nie die land aan die brand gesteek nie. Die plaaslike burgerlike verdedigingsleiers het nie gewaarsku gevoel nie. Feit is dat daar so min mense in een van die dorpe waardeur hy gery het – Waltham – die volgende dag geveg het dat sommige geskiedskrywers tot die gevolgtrekking gekom het dat dit ’n sterk pro-Britse gemeenskap moes gewees het. Dit was nie. Die mense van Waltham het eers die volgende dag uitgevind dat die Britte aan die kom was, en toe was dit te laat. As dit net die nuus self was wat van belang was in ’n mondelinge epidemie, sou Dawes vandag net so beroemd soos Paul Revere gewees het. Hy is nie. Waarom dan was Revere suksesvol terwyl Dawes gefaal het?
Die antwoord is dat die sukses van enige soort sosiale epidemie grootliks afhanklik is van mense wat ’n besondere en rare stel sosiale talente besit, wat betrokke is. Revere was daarmee toegerus en Dawes nie – as gevolg van die verskille tussen die twee mans. Dit is die Wet van die minderes – die mense wat krities belangrik is vir sosiale epidemies, en wat iemand soos Paul Revere anders as iemand soos William Dawes maak. Hierdie soort mense is oral om ons. Maar tog slaag ons dikwels nie daarin om hulle deeglik krediet te gee vir die rol wat hulle in ons lewens speel nie. Ek noem hulle Koppelaars, Deskundiges en Verkoopsagente.
Next →
← Previous