Teenoorgestelde Kante Van Die Wet

Posted on April 04, 2017 by Cape Rebel

Uit Man to Man
deur Herman Charles Bosman

 

Omdat jong Bothma, alles in ag genome, ’n berede polisieman in ’n kakie uniform was, met geelkoperletters op sy skouers, het ons ’n mate van gestremdheid in sy geselskap gevoel. Die feit dat ons nie juis so op ons gemak gevoel het nie, is gemanifesteer op die manier wat ons op ons riempiestoele gesit het – ’n bietjie meer gespanne en stywer as gewoonlik, met ons skouers wat nie eintlik aan die rugkant van die stoele geraak het nie. Dit kon ook gesien word op die ongewone manier wat Gysbert van Tonder as geskik beskou het – hy het uitgestrek op sy sitplek gesitlê. Dit was ’n geveinsery van geestelike tevredenheid wat enige polisieman met ’n bietjie ervaring, agterdogtig sou maak.

Dit was toe dat Chris Welman ’n opmerking gemaak het wat baie daartoe gehelp het om die spanning te verlig. Daarná, toe ons daaroor gepraat het, moes ons sê dat ons nie anders nie kon as om die manier wat Chris Welman die regte woorde gekies het, te bewonder. Natuurlik nie dat daar eintlik juis iets slims was op die manier wat Chris Welman gepraat het nie.

O nee, ons het almal gevoel dat die stelling wat Chris Welman toe gemaak het, iets was wat maklik binne die vermoë van enigeen van ons was. As ons net sou kon teruggesit, ’n bietjie gedink en ons gesonde verstand gebruik het – sou die opmerking van nature enigeen wat lank genoeg op ’n plaas gewoon het, te binne geskiet het.

“Die man oor wie jy regtig vrae moet vra,” het Chris Welman aan konstabel Bothma gesê, “is Gysbert van Tonder. Dis hy daardie, wat daar sit met sy bene oor die helfte van die vloer, met sy hande agter sy kop en sy elmboë uitgestrek. Deur net te kyk hoe hy daar sit, kan jy sien hy’s die grootste beessmokkelaar in die distrik.”

Wel, daaroor het ons almal lekker gelag. Want almal het geweet dat Gysbert van Tonder meer beeste oor die grens gesmokkel het as enige ander man in die Marico. Verder het ons geweet dat Gysbert van Tonder se pa gereeld beeste uit Ramoutsa, van anderkant die lyn af, ingebring het. Dit was selfs voor daar ’n behoorlike doringdraadheining was. En ons het ook geweet dat, in die jare wat nog sou kom, wanneer ons almal dood en vergete sou wees, Gysbert van Tonder se seuns nog steeds dieselfde ding sou doen.

Dit wat Chris Welman gesê het, het die gespanne stemming vir ons almal verlig – ook vir Gysbert van Tonder. Gevolglik kon Gysbert van Tonder, vereers, gemakliker en meer ontspanne in sy stoel wees, soos hy daar gesit het. Dit was nie vir hom nodig om langer so ’n ongeërgde houding in te neem nie. Daar moes nogal baie druk op sy nek- en beenspiere gewees het, om nie eers te praat van hoe swaar dit vir sy rugstring moes gewees het, om die liggaamshouding te handhaaf wat veronderstel was om sy traak-my-nie-agtigheid te toon te stel nie.

Ewenwel, Gysbert van Tonder het saam gelag oor dit wat Chris Welman gesê het.

En konstabel Bothma het ook gelag. Uit die manier wat hy gelag het, was dit duidelik dat die sersant by Bekkersdal vir hom gesê het om ’n ogie op Gysbert van Tonder te hou.

~

Daarna was dit oupa Bekker wat gepraat het. En hoewel sy storie verband gehou het met die gryse verlede, toe die werksverrigtinge van ’n polisiekonstabel nog deur die plaaslike veldkornet voorgeskryf was (klaarblyklik nogal suksesvol), het dit gelyk of die probleme wat konstabel Bothma ervaar het, nie juis anders was as die lotgevalle van die jong veldkornet in oupa Bekker se storie nie.

“Baie kêrels sou tevrede gewees het met die posisie van veldkornet,” het oupa Bekker gesê, “oor die eer wat in daardie dae daarmee saamgegaan het. Want een ding was seker: Selfs as jy nie ’n uniform gehad het nie, of nie ’n kantoor met ’n telefoon nie, of nie ’n beredepolisieperd met ’n wit ster op sy voorkop nie – ’n perd wat met die musiek by die Johannesburgse skou  kon tyd hou – en selfs as jy een van jou eie perde met ’n gelapte saal moes ry, of ook met ’n broek wat op die sitvlak gelap was, het jy steeds ’n gedrukte sertifikaat gehad wat deur die president geteken is wat gesê het dat jy ’n veldkornet was. En jy kon daardie sertifikaat in ’n goue raam aan die muur van jou voorkamer hang.”

Maar die glans van rang en die las en druk van amp was nie ’n probleem vir daardie jong veldkornet nie, het oupa Bekker gesê. Wat hom die meeste gepla het, was dat, omdat dit sy werk was om wet en orde te handhaaf, hy op sy medemens moes verklik, hoe netelig ook al. En die gedagte dat hy, as gevolg van sy werk, afgesny was van intieme kontak met die mense om hom, het hom treurig gestem. Hy het daarvan gehou om vriende te hê, maar hy het agtergekom dat hy nie vriende kon hê nie – wel, nie ware vriende nie – nie meer nie, nou dat hy veldkornet was.

“Aan die einde …” het oupa Bekker gesê.

Ons sou verkies het dat oupa Bekker nie aangegaan het tot die einde nie, want die enigste vriend wat die veldkornet gehad het, aan die einde, was Sass Koggel – ’n skobbejak wie se gelyke in die geskiedenis van die Groot Marico daar maar min van was.

Slegs saam met Sass Koggel kon die veldkornet homself wees. Hulle het mekaar aanvaar soos wat hulle was, en in hulle verhouding met mekaar was dit nie nodig vir een van die twee om enigsins te veins en voor te gee nie. Hulle was aan teenoorgestelde kante van die wet.

Ten opsigte van hulle beroepe was die veldkornet daaraan toegewy om Sass Koggel gevange te neem, en Sass Koggel was vasberade dat die veldkornet nooit iets teen hom sou kry nie. Behalwe vir hierdie tegniese punt, egter, sou dit moeilik wees om twee getrouer vriende in die hele Marico te kry.

Dit was ’n lang verhaal wat oupa Bekker vertel het, en ons het met wisselende vlakke van belangstelling en aandag daarna geluister. Maar konstabel Bothma en Gysbert van Tonder het glad nie na oupa Bekker geluister nie. Hulle was te verdiep in wat hulle vir mekaar te sê gehad het. En terwyl hy met Gysbert van Tonder, die beessmokkelaar, gepraat het, was dit nodig vir die jong Bothma, die polisieman, om sy polisienotaboekie net een keer oop te maak.

Konstabel Bothma het sy notaboekie oopgemaak om ’n foto daaruit te haal wat hy aan Gysbert van Tonder oorhandig het. Gysbert het die ooreenkoms vir ’n paar oomblikke goed beskou, en toe gevra: “Trek na jou, nè?”

En in sy stem was daar slegs opregtheid.

Posted in Afrikaans


Next

Previous