Uit A Life At Law
deur Isie Maisels
~
Voorwoord
deur Sydney Kentridge QC
“Herinneringe van advokate kan soms nie veel meer wees as ’n droë weergawe van lang vergete (en soms heel billike vergete) hofsake. Hierdie memoires van Isie Maisels is iets heeltemal anders. Eerstens is baie van Isie se sake, veral gedurende die lang jare van apartheid, nie slegs sake tussen twee opponente in die hof nie. Hulle was sake oor die soort land waarin ons toe gewoon het. Die berugte Bethal-plaasarbeidersake van die 1950’s en die groot verraadsaak, wat vanaf 1956 tot 1961 geduur het, is slegs twee voorbeelde. Tweedens het dit gelyk of Isie sake van buitengewone belang na sy praktyk aangelok het, selfs sake sonder enige politieke dimensie soos die De Melker-saak of die Bubbles Schroeder-moordsaak. En verder is die stories van hierdie sake in Isie se karakteristieke stem hoorbaar. Hy was ’n groot storieverteller, en hierdie talent is helder op die gedrukte bladsy teenwoordig.
“Dit is nie net eenvoudig ’n boek vir regsgeleerdes nie. Ek dink nie daar is ’n leser wat dit nie fassinerend sal vind nie en, inderdaad, dit eerder as gedwonge leeswerk sou beskou. Vir ’n regsgeleerde is dit boeiend. Oor die jare het vermaarde advokate in Suid-Afrika, wie se name in legendes van regsgeleerdes voortleef, na vore gekom – Beauclerk Upington en Graeme Duncan van Kaapstad, Graham Mackeurtan van Natal, en Harry Morris van Johannesburg. Isie Maisels is tussen hierdie beroemdes en, ek vermoed, as ’n totale afgeronde advokaat, is hy die mees uitstaande van almal. Ek sê afgerond, want Isie was gedurende sy jare by die balie aan die publiek bekend, allereers as ’n formidabele kruisondervrager. Dit was hy wel, maar hy was ook heelwat meer. Sy forensiese bekwaamhede was op deeglike kennis van die reg gebaseer. Sou ek ’n gunsteling saak in hierdie boek hê, is dit R v Manasawitz. Ek sal nie die storie, wat Isie so goed vertel, weggee nie. Die leser sal vind dat dit die kombinasie van regskundige vernuf en loutere forensiese panache perfek illustreer, en dat dít Isie die advokaat gemaak het wat hy was. En hy was nog nie 30 jaar oud toe hy in dié saak verskyn het nie.
“Isie se kragtige talent as ’n kruisondervrager verdien egter meer as om net in die verbygaan genoem te word. Om dit te beskryf is nie maklik nie, wat nog om dit te illustreer. Op ’n buitengewone wyse het Isie van die aanvang af oor die ongelukkige getuie gedomineer, wat hom in staat gestel het om presies die antwoorde wat hy verlang het, uit die getuie te kry. ’n Uistekende voorbeeld hiervan was sy kruisondervraging van professor Andrew Murray, die staat se deskundige getuie op die gebied van kommunisme in die verraadsaak. By daardie geleentheid het hy ’n wapen van kruisondervraging gebruik wat jong advokate nie aangeraai word om na te volg nie, maar wat in Isie se hande dodelik kon wees – goedaardige humor ten koste van die verleë getuie. Alles in ag genome het ek nog nooit Isie se gelyke as ’n kruisondervrager in enige jurisdiksie waarin ek gepraktiseer het, gesien nie.
“Isie was ’n regsgeleerde, nie ’n politikus nie, maar sy verbete verfoeiing van apartheid was onverborge. Hy het herhaaldelik in howe verskyn om die regte van die individu te verdedig teen die onderdrukking van die apartheidstaat. Die leser kan uit Isie se lewe in die reg leer wat dit is wat ’n ware groot advokaat maak – kennis van die reg, welsprekendheid gekombineerd met helderheid, wyse oordeel – maar bowenal, moed. Ons was gelukkig om hom tussen ons te gehad het.”
R v Manasawitz
Een dag het ’n ou vriend van my, Reuben Kahanowitz, my gevra of ek bereid sou wees om Bloemfontein toe te gaan om in ’n aansoek vir verlof om te appeleer teen ’n fooi van 35 ghienies te verskyn. Ek was toe 28, en omdat ek nog nooit in die appèlhof verskyn het nie, was ek bereid om dit teen geen betaling nie, te doen; en ’n fooi van 35 ghienies was in daardie dae beslis goeie vergoeding. Hy het my toe vertel waaroor die appèl gegaan het.
’n Man met die naam Manasewitz wat as ’n prokureur in Witbank gepraktiseer het, is aan bedrog skuldig bevind. In daardie dae – die vroeë dertigerjare – kon plaasboere lenings by die Landbank verkry ten bedrae van twee-derdes van die waarde van die beeste wat hulle besit het. Byvoorbeeld, as ’n plaasboer beeste ter waarde van £1 500 gehad het, kon hy ’n lening van £1 000 kry. Manasewitz en ’n plaaslike waardeerder het ’n plan bedink om groter lenings vir plaasboere te verkry en terselfdertyd hulself só te verryk. In plaas daarvan om die beeste teen £1 500 te waardeer, sou hulle teen £3 000 waardeer word, en kon die plaasboer dan ’n lening van £2 000 verkry. Die ekstra geld wat so ontvang sou word, sou dan verdeel word tussen Manasewitz, sy mede-samesweerder en die plaasboer. Daar kon net gesê word dat bedrog gepleeg was as daar nadeel of potensiële skade gely is deur die persoon teen wie die bedrog gepleeg is. Aangesien die boer in gedrang moontlik nie van plan was om ooit die lening terug te betaal nie, of dit nou ’n £1 000 of £2 000 was, was hy ’n gewillige medepligtige. Die bedrog was egter ontdek en Manasewitz is aangekla vir bedrog ten nadele van die Departement van Lande.
Hy is na behore skuldig bevind en het toe na die Transvaalse Provinsiale Afdeling teen die skuldigbevinding geappeleer. Hierdie appèl is deur regter NJ de Wet en appèlregter Grindley Ferris aangehoor. Regter De Wet was voorheen die minister van Justisie en was goed op hoogte oor die werkinge van die regering. Sy mening, waarmee sy mede-regter saamgestem het, was dat dit nie die Departement van Lande was wat nadeel gely het nie, maar wel die Unieregering. Die hof het dus die appèl toegestaan en die skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel.
Die prokureur-generaal van Transvaal het besluit om Manasewitz weer aan te kla en het aangevoer dat bedrog ten nadele van die Unieregering gepleeg is. Manasewitz het voor die landdros in Witbank verskyn, en sy regsadviseur het op die beginsel van autrefois acquit staatgemaak en aangevoer dat hy alreeds op daardie klag vrygespreek is, en dat hy nie weer op dieselfde aanklag aangekla kon word nie. Die landdros het hierdie verdediging verwerp en Manasewitz is skuldig bevind.
Daar was weereens ’n appèl. Hierdie keer het die hof uit twee van die mees befaamde regters voor wie ek al ooit verskyn het bestaan – regters Tindall en Greenberg. Die hof het homself beskou as gebonde aan die vorige besluit van regters De Wet en Grindley Ferris. Hulle het besluit dat, as daar bedrog sou wees, dit bedrog teen die Unieregering moes gewees het. Gevolglik het die hof die appèl verwerp.
Vir ’n junior soos ek om te dink dat regters Tindell en Greenberg ooit verkeerd kon wees, was seker kettery. Asof die feit dat dit ’n aansoek was om verlof om teen hulle uitspraak te appeleer, nie genoegsaam ontsagwekkend was nie, is daar tot my ontsteltenis ’n opinie in die handskrif van advokaat Philip Millin aan my gewys waarin hy gesê het dat dié aansoek vir verlof om te appeleer, sonder meriete was, dat dit stellig van die hand gewys sou word, en dat hy nie bereid was om dit te argumenteer nie. Nogtans het ek tog in die aansoek in Bloemfontein gaan verskyn. Die hoofregter was sir John Wessels, ’n befaamde regter, maar welbekend vir sy vyandige behandeling van advokate wanneer hy nie met hulle saamgestem het nie.
Aangesien hierdie my eerste verskyning in die appèlhof sou wees, het ek besluit om ’n tyd daar deur te bring en te luister na ’n appèl wat voor my aansoek gehoor sou word. Die appèlhof in Bloemfontein is een van die mooiste howe wat ek nog gesien het. Dit is ’n groot kamer met al die panele in stinkhout. Die storie is dat die hof gebou is gedurende die ampsbekleding van die vorige hoofregter, JA de Villiers, wat, siende dat hy ’n besondere kennis van hout gehad het, op hierdie paneelwerk aangedring het. Die lede op die bank was hoofregter Wessels en appèlregters Curlewis, Stratford, FW Beyers en sir Etienne de Villiers.
Ek erken dat ek nie aan ’n enkelle verdedigde saak, of appèl, of geopponeerde aansoek – en inderdaad ’n paar ongeopponeerde aansoeke – kan dink waar ek nie aan die begin van die saak senuweeagtig was nie. In hierdie geval het my kliënt nie juis enige meegevoel verdien nie; en heel moontlik het daar ’n ruwe verhoor op my gewag, veral vanaf hoofregter Wessels. Ek het begin: “Edelagbare, hierdie is ’n aansoek vir verlof om te appelleer.” Wessels het hardop gesê: “Verlof, verlof!” en, terwyl hy na my teenstander gedraai het – WG Hoal KC, prokureur-generaal van die Oranje-Vrystaat, wat die staat verteenwoordig het – toe gesê: “O, jy staan nie die verlof teen nie, nè?” Hoal wou, maar die manier waarop hierdie woorde oorgedra is, het vir my aangetoon, en ek was seker Hoal het ook so gevoel, dat Wessels sommer gou wou klaarspeel met hierdie aansoek.
En toe het ek voortgegaan met my argument. Hoofregter Justice Wessels het, soos ek verwag het, my baie rof behandel, soveel só dat, teen die tyd wat ek gaan sit het, dit gevoel het of ek die beskuldigde was. Terwyl ek gaan sit het, het regter Wessels in ’n fluisterstem aan regter Curlewis gesê – ek het dit gehoor, en dit kon seker agter in die hof ook gehoor word – “Jy wil nie vir Hoal hoor nie, wil jy?” Die betekenisinhoud van van daardie vraag, was natuurlik dat hy, Wessels, besluit het om die aansoekvan die hand te wys, en dat dit nie nodig was om die staat se betoog in antwoord te hoor nie. Curlewis het met Wessels saamgestem, so ook Stratford en Beyers.
Toe Wessels na sir Etienne gekyk het om uit te vind of hy ook saamgestem het, het sir Etienne aangedui dat hy nie saamgestem het nie. En toe het hy iets gedoen wat ek nooit daarna weer gesien het nie – en ek het by my kollegas verneem dat hulle ook nog nooit in ’n appèlhof so iets ervaar het nie. Sir Etienne het opgestaan en reg na die anderkant van die hof gestap na waar die hoofregter gesit het, en hy en die hoofregter het toe agter die stoel ’n gesprek gevoer. Die hoofregter se stoel is nogal hoog, en ek kon nie hoor wat hulle vir mekaar gesê het nie, maar wat ookal gesê is, die uitkoms was dat Hoal geroep is om na vore te kom met sy betoog. Dit het glad verloop. Ek het daarop geantwoord – ek kan nie onthou wat ek gesê het nie – maar die hof het uitspraak voorbehou.
Die uitslag was vir my ’n verrassing. Al die lede van die hof, behalwe Curlewis, wie se uitspraak verskil het, het besluit om die aansoek toe te staan. Die belangrikste uitspraak van dié wat besluit het om die aansoek toe te staan, was De Villiers s’n. Hy het daarop gewys dat, anders as die regters van die Transvaalse Provinsiale Afdeling (Tindall en Greenberg), die appèlhof nie gebonde was aan die vorige besluit van regters NJ de Wet en Grindley Ferris nie. Na sy mening was dit foutief. Die beskuldigde moes op daardie aanklag skuldig bevind geword het, maar omdat hy onskuldig bevind is, was hy geregtig op die voordeel van ’n pleit van autrefois acquit. Hy het die risiko geloop dat hy in die eerste hofsitting en die eerste appèl skuldig bevind kon word. De Villiers se uitspraak – soos al sy beslissings – was ’n toonbeeld van duidelikheid en logiese redenering.
Die verslag van die saak het gesê dat die appêl wel toegestaan is. Soos ek reeds aangedui het, was daar op daardie stadium geen appèl nie, maar slegs ’n aansoek om verlof om te appelleer. Hoofregter Wessels het gesê dat die hof nie finaal oor die saak kon besluit voordat die volle rekord van die verrigtinge voor die appèlhof was nie. Sir Etienne het nie so gedink nie; en na my mening heel korrek ook, want die punt was in wese een van geregtigheid en ’n voldoende gedeelte van die rekord was tydens die aansoek voor die hof.
Die appèl het die volgende jaar voorgekom, en die uitslag was ’n uitgemaakte saak. Dit was ’n formaliteit, en die appèl het geslaag.
Next →
← Previous