Te Veel Soos Die Ware Ding

Posted on March 23, 2018 by Cape Rebel

Uit ‘Toys in the Shop Window’
In Selected Stories 

deur Herman Charles Bosman

 

“Jy behoort David Policansky se winkel te sien,” het die lorriedrywer se assistent gesê. “Onse, maar dit lyk te pragtig. Alles versier vir Kersfees. Dis die moeite werd om die hele end na Bekkersdal toe te reis net om dit te gaan sien. En die speelgoed in die vensters – jy’t geen idee nie.”

Daarna het Gysbert van Tonder ernstig met hom gepraat, want dit was nie tyd vir ginnegaap nie. Gysbert van Tonder het vir die lorriedrywer se assistent gesê dat hy gehoop het dat hy nie by elke Bosveldplaashuis en poskantoor waar die lorrie op die pad noord van Bekkersdal af stilgehou het, oor die speelgoed gepraat het nie. Want as hy dit gedoen het, ai tog – die kinders sou hulle ouers se lewens tussen nou en Kersfees onmoontlik maak. Hyself het ’n hele klomp kinders van skoolgaande ouderdom, het Gysbert van Tonder gesê. Hy het dus geweet.

Die lorriedrywer se assistent het verleë gelyk.

“Wel, ek het so ’n bietjie gepraat,” het hy erken. “Maar ek het nie te veel gesê nie, ek dink nie so nie. Behalwe miskien by Possak-Laatgevonden. Ja, nou dat ek daaroor dink, het ek, miskien, een of twee goed by Possak-Laatgevonden gesê wat ek nie moes gesê het nie. Jy sien, die drywer het daar moeilikheid met die vonkprop gehad, en so, tussenin, terwyl ek hom ’n spanner of ’n vyl aangegee het, kon ek dalk iets meer gesê het as wat ek moes.”

~

Die lorriedrywer se assistent was net besig om ons te vertel van iets anders wat Policansky in die speelgoeddepartement van sy winkel gereël het om vir Kersfees te hê, toe die lorriedrywer by die deur sy stem laat hoor en gevra het of die assistent gedink het hulle kon die hele dag by ’n derdegraadse Dwarsberge-poskantoor mors, waar die koffie wat hulle gekry het amper alles net geroosterde kremetartwortel was?

Teen die tyd wat Jurie Steyn van agter die toonbank omgeloop het voordeur toe, was die lorrie reeds besig om weg te ry, sodat die meeste van die lang gepaste antwoord wat Jurie Steyn hom toegevoeg het, nie vir die drywer te hore was nie.

Maar net voor dit, met sy voet op die koppelaar, was dit moontlik vir die lorriedrywer om te verduidelik dat sy grootste beswaar nie die koffie was wat hy nie deur die wet verplig was om te drink nie. Hy moes Jurie Steyn se possak hanteer, het die lorriedrywer gesê, en hoewel hy reeds teen daardie tyd die versneller getrap het, kon ons nog hoor wat dit was met Jurie Steyn se possak waarteen die lorriedrywer beswaar aangeteken het.

~

Teen die tyd wat Jurie Steyn klaar met die drywer gepraat het, was die lorrie reeds halfweg deur die poort.

“Wat dink julle van sulke parmantigheid?” het Jurie Steyn ons gevra, terwyl hy terug na agter die toonbank toe geloop het. “Hy is maar net ’n werknemer van die regering, en hy praat met my asof ek ’n Mtosa is. Ek sê jou, hy’s niks beter as ek nie – nie daardie lorriedrywer nie. Wat ek wil sê is dit – ek is op die ou end die posmeester vir hierdie deel van die Dwarsberge. Ek word ook betaal om die publiek te dien. En daardie lorriedrywer praat met my net soos ek met enige ou Mtosa praat wat hierheen kom om seëls te koop.”

Ons het gevoel dat dit ’n jammerte was dat hierdie ongelukkige noot ingekruip het in wat, tot nou toe, nogal ’n aangename somersmiddag se geselsery was. Wat dit nog meer betreurenswaardig gemaak het, so het ons gevoel, was dat dit nog net ’n paar weke voor Kersfees was. Die manier wat Jurie Steyn en die lorriedrywer met mekaar gepraat het, het nie ingepas by die vriendelike Kersfeesatmosfeer nie, het ons gevoel. En dit het ook nie ingepas by die nog vriendeliker atmosfeer wat daar met Nuwejaar moet wees nie.

“En het julle gehoor wat hy te sê gehad het oor my possak?” het Jurie Steyn verontwaardig op aangedring. Ons het toegegee dat ons wel gehoor het. Ons sou inderdaad dower as Oupa Bekker moes gewees het om enigiets wat die drywer oor die possak te sê gehad het, nie te hore gekom het nie. Hoewel die lorrie se enjin toe aan die gang was, het die drywer so duidelik gepraat dat ons elke woord wat hy gesê het, kon hoor. En wat hy gesê het nog duideliker gemaak het, was daardie soort van gekrenkte toon in sy stem. Wanneer die lorriedrywer praat asof hy beseer is, kan mens hom van ’n afstand af hoor.

“Maar wat van my hoenders?” het Jurie Steyn ontplof. “Dit is waaroor ek nie kan kom nie. Toe hy gepraat het oor die possak wat my hoenders ... waarop my hoenders gesit het.”

Jurie Steyn het dit mooi beskryf, wel, beleefder as wat die lorriedrywer dit gedoen het, het ons gedink.

“En hy het gesê dat hy die possak moes hanteer,” het Jurie Steyn aangegaan.

’n Hele paar van ons het toe so bietjie geproes-lag toe ons onthou het hoe die lorriedrywer dit gesê het.

“En hy het uitgeroep dat my hoenders net ’n klomp bont, baster, mistrootige Hottentothoenders is,” het Jurie Steyn aan die einde gesê, “met sieklike hangende kamme. Wel, dit het my sommer baie kwaad gemaak. Daar is nie ’n hen of ’n haan op my plaas wat nie ’n opregte Buff Orpington is nie. Kyk net na daardie hen wat daar loop en pik, nou daar langs At Naudé se voet. Sou jy dit ’n bont ...”

Jurie Steyn het te kort geskiet aan woorde, en hy het opgehou met praat.

~

Dit was toe dat Chris Welman onthou het wat die lorriedrywer se assistent gesê het, net voordat die lorriedrywer op hom geskree het om homself te roer. En dit was asof die wolk, wat ons bedek het, skielik weggetrek het. Want David Policansky het gesê dat hy hierdie jaar weer ’n Kersvader vir sy winkel gaan kry. Hy het gesê dat hy net eenvoudig ’n Kersvader moes hê. Sonder ’n Kersvader met ’n rooi mus en ’n oorjas en wit wangbaarde, wat met al die kinders in die speelgoedafdeling hande skud, was die speelgoedmark nie goed nie. Ons het gelag en gesê dat ons gedink het dat die speelgoedmark nie goed was met ’n Kersvader nie. Ons het ook gesê dat ons vir sy onthalwe hoop dat Policansky nie weer hierdie jaar vir ou Doors Perske as Kersvader sou kry soos hy die vorige jaar gedoen het nie.

Ons het nogal vir ’n lang ruk verlede jaar se Kersvader in Policansky se winkel bespreek.

As mens kyk hoe hy gelyk het, behoort Doors Perske ’n baie goeie Santa Claus uitgemaak het. Hy was vet, en het ’n rooi gesig gehad. Die feit dat sy gesig op sekere geleenthede rooier was as op ander tye, het waarskynlik die onskuldige waarneming van die kinders ontwyk.

Maar waar Doors Perske ’n fout gemaak het, was dat hy wesentlik ’n man vir peuselwerkies was. Jare lank het hy dit reggekry om in die klein dorpie met die naam van Bekkersdal ’n bestaan te kon maak deur ’n kontrak te kon kry om ’n varkhok te bou, of om hout te kap, of om ’n put te grawe. En dit was hoe hy geleer het hoe om ’n voorskot te kry.

Terwyl hy dus ’n Santa Claus in Policansky se winkel was, het Doors Perske so elke nou en dan, ’n klein voorskotjie op sy betaling by die boekhouer gaan vra. Waar gesien kon word hoe Santa Claus die openbare kroeg binnegegaan het vir ’n vinnige snapsie, het na ’n ruk nie eers meer kommentaar gaande gemaak nie. Die kroegman het nie meer gedink dat dit snaaks was om te vra of hy by die skoorsteen afgeklim het nie. En daar was nie meer ’n spottende klant wat gevra het of hy Doors Perske se takbokke kon gaan vashou nie.

In Policasky se winkel was alles ook aanvanklik heeltemal reg. As ’n kind met Doors Perske hande geskud het en sy bierasem geruik het, sou die kind nie veel daarvan gedink het nie. Aangesien hy ’n pa – of, miskien, ’n stiefpa – van sy eie gehad het, sou die kind niks teenstrydig daarin gesien het dat Kersvader ’n dop of twee in gehad het nie. Eendag het Doors Perske se vrou by die speelgoedafdeling ingestorm gekom al skellende op Kersvader en hom hardop daarvan beskuldig het dat hy agteraf voorskotte op sy betaling gekry het. En Doors Perske het sy vrou ’n ou – genoem, en hy het haar heel onbeskoft ’n oorveeg gegee voordat hy haar uit die winkel geboender het. Maar selfs daardie insident het geen ontnugterende gevolge op die gemoedere van David Policansky se jeugdige klante gehad nie.

Want die onderonsie het by ’n toonbank waar daar kinderwaentjies en pophuise en klein breekgoedstelletjies was, plaasgevind, en die kinders wat om daardie deel van die winkel saamgedrom het, was gewoond aan huishoudelike tonele van dié soort wat hulle so pas aanskou het. Al wat hulle gedink het, was dat Kersvader so pas ’n bakleiery met Kersmoeder gehad het.

~

Dit was die dag voor Oukersdag dat Doors Perske in die pad gesteek is. Hy het net weer van die kroeg af teruggekeer. En die eerste ding wat hy gedoen het, was om oor die “shilling dips” te struikel. Toe, om sy ewewig te behou, het hy gegryp na ’n verskeidenheid glasware wat tot halfpad na die plafon toe opgestapel was. Dit was dom – soos hy die volgende oomblik besef het. Die glasware het hom absoluut geen vashouplek gebied nie. Al wat gebeur het, was dat die hele winkel geskud het van die slag toe dit geval het. Wat hierna gevolg het, was die toonbank met die speelgoedsoldaatjies. En daar was niks militêrs wat die loodsoldaatjies betref het nie – glad nie meer in hulle netjiese speelgoedrye nie. Hulle het in hope rondgelê, met stukke van hulle afgebreek. Dit het te veel soos die ware ding gelyk. Afgryslik, dis hoe dit gelyk het.

Toe Policansky ingehardloop gekom het, het hy Doors Perske in ’n wasbalie met ’n teddiebeer in sy arms sien sit. Sy rooi mus het afgeval, en sy Kersvaderbaard was halfpad om sy nek. En waar sy baard toe gesit het, het die kinders in die winkel laat weet dat hy nie Kersvader was nie, maar sommer net ’n aangetrekte ou dronklap.

“Ek kon nie ’n mooi vasvatplek aan daardie glase kry nie,” het Doors Perske verduidelik. “Dis hoekom ek geval het.”

Policansky het egter ’n goeie vasvatplek aan Santa Claus gekry, en hy het hom by die winkel uitgesmyt. Op die sypaadjie het hy vir Kersvader ’n skop gegee en hom vertel om nie weer terug te kom nie.

“Gaan maar aan, daar is nie ’n Kersvader nie,” het Doors Perske gekoggel toe hy op die hoek skielik weer tot verhaal gekom het. “Dis net ’n leuen waarmee jy die kinders mislei.”

David Policansky se gesig het so ’n verwronge halwe glimlag gekry.

“Ek wens ek kon jou glo,” het hy gesê, terwyl hy deur die deuropening die wrakstukke in sy winkel gadegeslaan het. “Ek wens ek kon glo dat daar nie ’n Kersvader was nie.”


Next

Previous