Straatvore

Posted on May 25, 2017 by Cape Rebel

 

Uit Rebuilding Europe’s Cities
deur Herman Charles Bosman
Click Here to Play Podcast

 

Nou dat daar vrede in Europa is – is daar? – is dit interessant om te spekuleer oor hoe die voorkoms van die stede van Europa vorentoe sal lyk. In sommige van hulle sal daar natuurlik groot veranderings wees; en dit is voor die hand liggend dat dit heel verrassend sal wees oor hoe hulle daar sal uitsien.

Om een aspek te noem: Vir die heropbou wat sal plaasvind, kan daar sommer gou die woord, ongeëwenaard, gevind word. Dit is van toepassing op ’n area van Europa wat geensins klein is nie. Vir die heropbouing van stede wat in ’n rommelhoop verander het, moet van nuuts af splinternuwe planne opgetrek word.

Daar moet aanvaar word dat die hoofbeamptes van openbare werke in die verskeie lande ’n mate van verbeeldingskrag in hulle amptelike pligte sal toepas – ’n moeilike taak vir arbeidskommissarisse wat lyk asof hulle verbeeldingsvermoë heelwat gekwyn het sedert die Egiptiese dinastie wat omgesien het na die oprigting van Thebes. In elk geval hoop ons dat die ingenieurs, in hulle heroprigtingstaak van die bouvalle, sal onderskei tussen die antieke en die hedendaagse. Ons hoop hulle gaan nie briewebusse oprig waar daar voorheen ’n Gotiese kasteel gestaan het nie, of die gebroke pilare van die Parthenon vervang met staal- en betonstrukture nie, of om die Appiese Weg te macadamiseer nie.

In elk geval is die taak om ’n verwoeste stad weer van nuuts af op te rig, nie speletjies nie – dit is as ’t ware om dit weer van die grond af op te bou. En ek is seker dat die nuwe klomp argitekte en dorpsbeplanners en boukontrakteurs presies dieselfde foute as hulle voorgangers sal begaan. Hulle sal dieselfde onooglike goed oprig en dieselfde chaos skep. Dit mag moeilik wees om dit alles reg te kry – maar hulle sal. Dit is ’n vertroosting.

Vir ons burgerlike outoriteite sal dit weer eens besonder harde dinkwerk kos om die verkeersweë te beplan en om só te verseker dat die lelikste bottelnekke en die vreeslikste beknoptheid geskep word. Hulle sal spoorwegstasies op die verkeerde plekke moet sit. Geregshowe sal weer opgerig moet word om soos museums te lyk, en stadsale om soos stadsale te lyk, en kunsgalerye soos gasfabrieke. Gevolglik sal die stede van die gebombardeerde Europa weer onmoontlike gekkeparadyse word – en daarom plekke waarin ’n mens sal kan leef.

In ’n stad wat in terme van Utopiese gedagtes beplan is, vergaan ’n mens se siel.

~

Die stede van Europa sal weer uit die puin herrys. Hulle strate sal langs die walle van die riviere waarlangs hulle geleë is, kronkel. Hulle sal by die strande en heuwels en valleie aanpas, en ook by die vereistes van gegoede en bevoorregte belange. En van ’n vreedsame onderneming sal ’n mens weer gekonfronteer word deur ’n skouspel so gewelddadig outré soos die Gewelf van Adelphi. Ten spyte van die beplanners, sal die lewe weer stadig begin terugvloei na die stede. In die geboue sal daar dramas afspeel wat die argitekte glad nie in gedagte gehad het nie.

Ek glo die oorlog sal die stede geensins verander het nie. ’n Stad kry sy individualiteit van die mense wat daarin woon. Die strate word uitmekaar geskeur en die geboue vernietig, maar die plek se siel leef voort.

Die stad waarin ’n genie gewoon het, word herskep na iets wat meer is as die lewelose agtergrond van sy oorsprong. Die strate waarop hy geloop het, die tonele te midde van die onverstaanbare patroon van sy lewe, het oopgevou – daardie plekke waar goddelike inspirasie hom gevind het. Dit maak nie saak wat daarna met so ’n plek gebeur nie. Daardie plekke op die oppervlakte van die aarde bly deurdrenk met die gees van skoonheid en prag, en sal vir ewig ryk en uniek wees. Gaan wandel deur die strate van Brussels en jy sal sien wat ek bedoel.

Die kunstige siel van ’n stad is die bydrae wat genialiteit daaraan maak. Sy ongerymdhede is die dinge wat die lewe oplewer: die argitekte en die stadsbeplanners en die grondeienaars en menslike natuur. En jy kan nie sonder die invloed van enige van die twee klaarkom nie.

Wanneer ’n stad genoeg irrasionele absurditeite het, voel ek dat ’n mens daarin kan lewe.

Bowenal moet ’n stad sterk en bisarre kontraste hê. Hermelynpels en flenters. Prag en gemors. Dit wat verhewe is en dit wat belaglik en aaklig is. ’n Goed bestuurde nagklub langs ’n lykshuis wat miskien nie juis so goed bedryf word nie.

~

Ek het aan ’n storie gedink wat ek graag eendag wanneer ek die tyd kry, wil skryf.

Dit gaan oor mense wat in Johannesburg woon en mense, sê maar, wat in die Marico-bosveld woon. Hierdie twee groepe mense, daardie wat in die woonstelle in die stad woon en dié wat op die plaas woon, ken mekaar nie. Hulle het nog nooit ontmoet nie. Maar die lewe doen presies dieselfde dinge aan beide van hulle. So is die lewe. En die storie eindig met die heldin van die groepie mense in die stad, verbrokkel en gebroke deur die dinge wat die lewe haar aangedoen het, wat bekend maak dat sy dit nie langer kan verduur nie: Sy moet net eenvoudig wegkom, êrens heen. En die meisie op die plaas, met wie presies dieselfde dinge gebeur het, sê dat dit te verskriklik is. Sy gaan Johannesburg toe. Wat sy bedoel is … lewe.

Lewe …

Die verskil tussen die stad en die plaas, helaas, is so oud soos die berge: die stad het straatvore.


Next

Previous