Hierdie is die storie van ’n tweegeveg.
Dit is ’n tweegeveg tussen twee baie ongelyke teenstanders: ’n uiters magtige, formidabele en meedoënlose staat, en ’n niksbeduidende, onbekende private individu. Die tweegeveg neem nie plaas in wat algemeen bekend is as die sfeer van die politiek nie. Die individu is hoegenaamd nie ’n politikus nie, nog minder ’n samesweerder, of ’n vyand van die staat. Hy bevind homself deurgaans op die verdediging. Sy wens is net om sy integriteit, sy private lewe en sy persoonlike eer te beskerm. Dié dinge word voortdurend aangeval deur die regering van die land waarin hy woon op die mees wreedaardige, maar partykeer ook onbeskaafde manier.
Met aaklige dreigemente dring die staat daarop aan dat die individu van sy vriende afsien, afstand doen van sy minnaars, sy geloof opgee, en nuwe voorgeskrewes aanneem. Hy moet groet, eet en drink op maniere waarvan hy nie hou nie, en in sy vrye tyd moet hy besig wees met dinge wat hy verafsku, homself beskikbaar maak vir aktiviteite wat hy verfoei, en sy verlede en sy individualiteit vergeet. Hy moet vir al dié dinge voortdurende entoesiasme en dankbaarheid betuig.
Die individu is gekant teen al daardie dinge, maar hy is swak voorberei vir die aanslag. Hy is nie as ’n held gebore nie, nog minder as ’n martelaar. Hy is maar net ’n gewone man met baie swakhede, wat in kwesbare tye grootgeword het. Nogtans is hy onversetlik antagonisties. Tog aanvaar hy die tweegeveg – sonder entoesiasme, skouerophalend, maar met ’n stille vasberadenheid om nie in te gee nie. Natuurlik is hy baie swakker as sy teenstander, maar nogtans ratser. Jy sal hom sien buk, swaai, wegswenk en terugspring, en verpletterende houe net-net ontduik. Jy sal moet toegee dat, vir iemand wat nóg ’n held nóg ’n martelaar is, hy daarin slaag om in die geveg goed te vertoon. Uiteindelik sal jy sien dat hy genoodsaak is om in die worsteling die aftog te blaas, of as jy dit verkies, dit na ’n ander speelveld te verplaas.
My private tweegeveg met die Derde Ryk is nie ’n geïsoleerde ontmoeting nie. Duisende, miskien honderdduisende sulke tweegevegte, waarin ’n individu probeer om sy integriteit en sy persoonlike eer teen ’n formidabele vyandige staat te beskerm, het in Duitsland gedurende die laaste ses jaar plaasgevind. Elke stryd is in totale isolasie, sonder dat die publiek daarvan bewus was, gevoer. Baie van die dualiste, groter helde of martelaars van nature, het die geveg verder as ek gevoer – so ver soos die konsentrasiekampe of die galg – hulle mag dalk in die toekoms met monumente vereer word. Ander persone is baie vroeër verslaan en is deesdae stille murmureerders in die geledere van SA reserviste [Sturm-Abteilung, Nazi-stormsoldate] of NSV Blockwarts (
My geval mag wel as tipies beskou word. Die geleenthede van die mense in Duitsland kan vandag daardeur beoordeel word.
Jy sal sien dat daar maar min hoop vir daardie geleenthede is. As die buitewêreld maar net ingegryp het, sou hulle nie so hopeloos gewees het nie. Dit is nog steeds in belang van die wêreld, so glo ek, dat hierdie geleenthede verbeter moet word. Dis te laat om ’n oorlog te verhoed, maar dit mag die oorlog met ’n jaar of twee verkort. Daardie goedgesinde Duitsers wat baklei om hulle private vrede en hulle private vryheid te verdedig, baklei sonder dat hulle daarvan bewus is, vir die vrede en vryheid van die hele wêreld.
Daarom lyk dit vir my steeds die moeite werd om die aandag van die wêreld op die onbekende gebeurtenisse in Duitsland te vestig.
Dié boek sal ’n storie vertel en nie ’n preek lewer nie. Maar dit het ’n sedeles wat, soos die “ander groot tema” in Elgar se Enigma Variations, “loop (stilweg) deur die hele geheel”. Dit sal my nie pla nie as jy, ná jy die boek gelees het, al die avonture en insidente wat ek vertel het, vergeet, maar dit sal my genot verskaf as jy nie die onderliggende moraal vergeet nie.
~
Selfs voor die totalitêre staat my genader het met dreigemente en uitdagings, en wat my geleer het wat dit beteken om die geskiedenis persoonlik te ervaar, het ek reeds ’n hele paar “historiese gebeurtenisse” beleef. Alle Europeërs van die teenwoordige geslag kan op dieselfde ervaring aanspraak maak, en niemand meer as die Duitsers nie.
Daardie gebeurtenisse het natuurlik hulle stempel op my afgedruk, net soos op al my landgenote. As mens dit nie waardeer nie, sal mens nie verstaan wat later gebeur het nie. Daar is egter ’n belangrike verskil tussen wat voor 1933 en wat daarna gebeur het. Ons het die vroeëre gebeurtenisse dopgehou soos dit ontvou het. Hulle het ons beset en ontstel, en daar was tye dat hulle selfs een van ons om die lewe gebring het of hom geruïneer het, maar hulle het ons nie met finale besluite van die gewete gekonfronteer nie. Ons innerlike wesens het onaangeraak gebly. Ons het ervaring opgedoen, skuldigbevindings is opgelê, maar basies het ons dieselfde mense gebly. Niemand wat gewilliglik of teensinnig in die masjien van die Derde Ryk vasgevang was, kan eerlik dit van homself sê nie.
Dis duidelik dat geskiedkundige gebeurtenisse wisselende grade van intensiteit het. Sommige mag amper nie daarin slaag om inbreuk te maak op die werklike realiteit nie, dit is, op die sentrale, mees persoonlike deel van ’n mens se lewe. Ander weer kan soveel verwoesting saai dat niks staande bly nie. Die gewone manier waarop geskiedenis geskryf word, slaag nie daarin om dit te openbaar nie. “1890: Wilhelm ll onthef Bismarck van sy amp”. Dit is verseker ’n deurslaggewende gebeurtenis in die Duitse geskiedenis, maar in die biografie van enige Duitser wat buite die klein sirkeltjie van pleitbesorgers staan, is dit kwalik ’n noemenswaardige gebeurtenis. Geen familie het ’n skeuring ondergaan nie, geen vriendskapsbande is verbreek, en niemand het die land uitgevlug nie. Selfs geen rendezvous is misgeloop of ’n opera-uitvoering gekanselleer nie. Verliefdes, of hulle gelukkig was of nie, het verlief gebly; die armes het arm gebly, en die rykes ryk. Vergelyk dit nou met: “1933: Hindenburg laat roep vir Hitler”. ’n Aardbewing verwoes ses en sestigmiljoen lewens.
Amptelike, akademiese geskiedenis het, soos ek gesê het, niks om ons te vertel oor die verskille in intensiteit van geskiedkundige voorvalle nie. Om daarvan te leer, moet jy lewensbeskrywings lees, nie dié van staatsmanne nie, maar liewer daardie heel rares van onbekende individue. Daar sal jy sien dat een historiese gebeurtenis oor die private, werklike lewe van mense soos ’n wolk oor ’n meer beweeg. Niks roer nie, daar is slegs ’n vlugtige skaduwee. ’n Ander gebeurtenis sal die water van die meer aan beweging bring soos in ’n donderstorm. ’n Derde sal miskien die meer heeltemal laat uitdroog.
Ek glo dat die geskiedenis misverstaan sal word as hierdie aspek vergete sou raak (en gewoonlik word dit vergeet). Voor ek dus my eintlike tema bereik, laat ek jou my weergawe van twintig jaar van Duitse geskiedenis vertel – die geskiedenis van Duitsland as deel van my private storie. Dit sal nie lank neem nie, en dit sal wat volg makliker maak om te verstaan. Dit mag eweneens ons help om mekaar bietjie beter te leer ken.
Next →
← Previous