Sneeu Op Ida-Berg En Die Geklingel Van Bokklokkies

Posted on September 07, 2017 by Cape Rebel

Uit Abducting A General 
deur Patrick Leigh Fermor

 Billy het gesê: “Kontrolepunt voor.” Twee manne het ’n rooi flits in die middel van die pad gewaai, en daar was ’n geroep van “Halt!” Billy het stadiger begin ry. Toe hulle die twee vlaggies sien, het die twee manne uit die pad gespring, op aandag gestaan, en gesalueer. Ek het dit beantwoord, en Billy het weer voet getrap en gemompel: “Dis wonderlik.”

Herr Major,” het die stem van agter gekom, “waarheen vat julle my?” “Na Kaїro toe.” “Nee, maar hoe?” “Herakleion toe.” Daar was ’n stilte; toe, ’n hele paar toonhoogtes hoër in algehele ongeloof: “HERAKLEION TOE?” “Ja. Jy moet verstaan dat jy nie gesien moet word nie. Ons sal jou later so gemaklik maak as wat ons kan.”

Teen daardie tyd was daar meer huise langs die pad. Daar was heelwat meer voetgangers en diere, en die gloed van stalletjies, tavernes en kafees te sien; en gou was daar nog ’n rooi lig, ’n pad wat vernou, en die geroep van “Halt!” Dan nog een. Ons het hulle op dieselfde manier verbygery, en so ook dié wat daarop gevolg het. By Fortetza was daar ook ’n onheilspellende houtsperpaal. Weereens het die vlaggies dit heel eerbiedig die lug laat inseil. Gou was ons aan die binnekant van die groot Venesiese stadsmuur, en die hoofstraat het ons ingesluk. Die Marlin-gewere, toe laer gehou, is agter die deure in gereedheid gehou.

Die generaal het, in ’n vasknellende greep, laer as die venster gesak. George se dolk was nog steeds dreigend gemik, en wanneer Duitse stemme harder langs die kar gehoor kon word, het hande sy mond toegeklamp. ’n Paar maneuvrerende en agteruit bewegende trokke het ons opgehou, en gou daarna is ons deur ’n vrolike swerm soldate wat by ’n garnisoenbioskoop uitgestroom het, verder vertraag. (Dit was Saterdagaand.) Billy het kalm en metodies sy pad deur die skare getoeter – ’n swenkende fietsryer het amper afgeval, soos hy ons ontwyk het. Al voortkruipende, terwyl ons salute ontvang het, soos die soldate uit ons pad beweeg het, het ons die draai by die Morosini-fontein bereik, en toe het ons links gedraai na die Canea-hek toe. Dit was die enigste pad die dorp uit.

As daar enigiets in die dorp verkeerd sou gaan, was die plan om vinnig op die Canea-hek af te jaag en, sou die sperpaal oor die pad wees, om deur te breek, en dan, as ons agternagesit sou word, aanhoudende skote deur beide van die agterste vensters te skiet en die Mills-granate met kort lonte te gooi. Ons het juis swaar aan hulle in ons sakke gedra. (Ons het heelwat reserwe magasyne vir ons sarsie- en outomatiese wapens gehad.) Anderkant die hek, het ons ’n beter kans gehad om weg te kom. Hierdie kragtige, splinternuwe Opel was seker die vinnigste kar op die eiland, en Billy was ’n behendige en vindingryke bestuurder. Met ’n goeie voorsprong, kon ons teen volle spoed berge toe mik en daar uitklim. Die troepe van Retimo af, gewaarsku per telefoon, kon ons dan nie van die westekant af voorkeer nie. Ons kon daarná die kar by ’n afgrond laat afstort, die spore verbloem, en daarna kon die pad opdraand aangepak word. Maar sou daar ’n massapoging wees om ons by die Canea-hek te stop, kon ons vinnig omdraai en in die lane verdwyn. Ek het ’n goeie idee gehad waarheen, te danke aan my wandelinge in die aande saam met Micky. Ons kon die generaal, vasgebind en geblinddoek, los – Onthou Generaal, ons het jou lewe gespaar! Geen weerwraak nie! – die pad met die kar blokkeer, en dan laat spat. Daar was ’n doolhof van stegies, mure om oor te spring, afvoerpype om op te klim, dakvensters, platdakke wat van een woning na ’n ander gelei het, kelders en dreine en slote – soos ek en Manoli gedurende ons strooptog op die hawe ontdek het; iets waarvan die Duitsers niks geweet het nie. As ons in ’n hoek gedryf sou word, het ons baie granate en ekstra ammunisie en voedsel gehad. As ons net kalm sou bly sit, kon ons met ’n bietjie geluk ’n kans geniet. Oral in die dorp het ons vriende met huise gehad en eintlik, met die uitsondering van ’n handjievol spioene en verraaiers, sou die hele dorp aan ons kant wees.

Met die hoofstraat af na die Canea-hek toe, was daar geen voorval nie. Maar toe ons nader aan die groot wagtoring gekom het, waar die Duitsers die pad met anti-tenk sementblokke in ’n bottelnek vernou het, was daar nie net die normale aantal wagte nie, maar ook ’n groot aantal soldate in die hekopening. Die soldaat wat die rooi flitslig heen en weer geswaai het, het nie uit die pad beweeg nie – dit het gelyk of hulle ons gaan stop. Die spanning in die kar het die hoogte ingeskiet. Billy het stadiger gery – ons het ons op so ’n gebeurlikheid goed voorberei – sy outomatiese pistool was oorgehaal en op sy skoot. Myne was alreeds byderhand, en agter het ons die geklik van die grendels van die drie Marlin-gewere gehoor soos hulle oorgehaal is. Toe ons amper op hulle was, en een van die wagte nadergestap het, het ek die venster afgerol en geskree: “General se Wagen!

Die woorde “General se Wagen” is gebiedend van een mond na die ander oorgedra, en die flitslig is net betyds laat sak. Billy het sy voet op die versneller gesit, die soldate het teruggestaan en gesalueer, en die wagte het op aandag gespring. Dit alles is met ’n growwe en stroewe goeienag erken, en ons het deurgery. Ons het deur die ander kontrolepunte geseil, en alles het glad verloop. (Die kar se insittendes het altesaam van die begin tot die einde twee en twintig getel.) Uiteindelik was die kontrolepunte en die lang onreëlmatig verspreide woonbuurtes agter die rug, en het ons al dreunende die pad na Retimo toe gevat met die hoofligte wat net rotse en olyfboorde verlig het. Berg-Ida het aan ons linkerkant die hoogte ingeskiet en die see wat net onderskei kon word, het rustig aan ons onderkant geglinster.

’n Oproerige gemoedstemming en ’n gejuig het agter in die kar losgebars. Ons kon weereens praat, lag en beduie, en uiteindelik kon ons sing, so hard as wat ons kon. Ons het mekaar sigarette aangebied en ook vir die generaal. Hulle het hom so gerieflik as moontlik gemaak. Ek het hom sy hoed teruggegee, en hom gevra om sy erewoord te gee dat hy nie sou probeer om te ontvlug nie. Tot my verligting het hy dit gegee. Ek het Billy toe heel plegtig aan hom voorgestel. Hy het geen Duits geken nie en die generaal geen Engels nie, en so was die hoflikhede in Frans uitgeruil, hoewel van beide kante af, nie juis te bedrewe nie.

’n Rukkie later het die generaal vorentoe geleun en gesê: “Sagen Sie einmal, Herr Major, was für ein Zweck hat dieses Husarenstück?” (Sê my, majoor, wat is die doelwit van hierdie hussar-toertjie?) ’n Netelige vraag. (Ons het verby die verlate khan van Yeni Gave, na aan ons eerste bestemming slegs twintig myl van Herakleion af, beweeg. Maar omdat die pad sleg was, was dit alreeds na elf in die nag.) Ek het aan die generaal gesê dat ek die volgende dag sou verduidelik.

Sedert Yanni van die toneel af verdwyn het, het ons geen plaaslike gids gehad nie, maar Strati het as jong polisieman in die omgewing diens gedoen, en ek en Manoli het darem so ’n bietjie kennis gehad. Ons het aan die einde van ’n bokpaadjie stilgehou. Ná ’n paar uur se klim, kon ’n mens daarmee by Anoyeia uitkom. Ons het almal uitgeklim en George het die boeie ontsluit. Die generaal was verontrus toe hy gesien het dat ek saam met George sou gaan. (“Gaan jy my hier alleen laat met hierdie … mense?”) Ek het hom vertel dat die Hauptmann in beheer sou wees, en dat Manoli baie spesiaal na hom sou omsien. Dit het dubbelsinnig geklink, maar daar was iets in Manoli se houding wat vertroue ingeboesem het. Die groep sou net buite Anoyeia op ons lê en wag. Manoli en Strati het geweet met wie om kontak te maak vir kos en boodskappers, en vir boodskappe na ons naaste draadloosstasies. Ek het gesalueer en die generaal het dieselfde gedoen. (Dit was vir my belangrik om hierdie enkele item van formaliteit in ons ietwat Boheemse eenheid daar te stel.) Billy en die generaal het die opdraande begin klim met Strati voor en Manoli wat die agterhoede gedek het – met sy geweer in die waai van sy arm.

Vanaf die berghang was daar ’n gelag hoorbaar toe, uiteindelik, nadat die kar ’n paar maal gaan staan en stol het, dit met die pad af na ondertoe gestamp en geskud-geloop het – ek het net daarin geslaag om die ding oor die twee myl, wat gelei het na die begin van die paadjie wat verby die dorpie van Helenia geloop het, te kry. Vandaar het dit verder aangehou, na die duikbootbaai en die klein eilandjie van Peristeri. Ons het die kar duidelik sigbaar in die pad gelos. Die vloer was doelbewus vol stompies van Player’s-sigarette gelos. Hierdie leidrade was verder ondersteun deur ’n baret van die Invalsmagte (“Wie waag, wen”), en ’n Agatha Christie slapbandboek. Ons het die paadjie losgewoel, en toe daarmee afgeloop en ’n ronde blikkie Player’s geplant, en nog verder die omhulsel van ’n Cadbury melksjokolade. (As ons maar net ’n matroospet ook kon gehad het!) Die brief aan die Duitse outoriteite (wat dit benadruk het dat dit die werk van die Engelse was, nie die Kretensers nie, met die doel om weerwraak op die gemeenskap te vermy) was heel prominent aan die voorste sitplek vasgesteek. Toe – ons kon dit nie weerstaan nie – het elkeen van ons een van die vlae, wat sulke goeie diens vir ons gedoen het, afgebreek. Ek het myne vir George gegee, wat altwee gewaai het terwyl hy gesê het: “Gebuite baniere!” en dit toe in sy sakouli, sy kleurvolle geweefde rugsak, ingeprop het met net die staalpenne wat uitgesteek het.

Daar was geen pad nie. Soos die kraai vlieg, was dit net vyf of ses myl Anoyeia toe, maar vir ons was dit drie keer so vêr: bergklowe, afgronde, bossies en dorings. Gelukkig was daar ’n nuwemaan. Die enigste mense wat ons gedurende die hele nag gesien het, was twee seuns met naaldefakkels wat jag gemaak het op palings in ’n stroompie. Ons het hulle van veraf gegroet en hulle kon ons die regte paadjie uitwys. Elke uur of so het ons gaan rus vir ’n rookbreek. Die nag was gevul met krieke, paddas en nagtegale. Die sneeu op die Ida-berg het in die lug geglinster, en nie een van ons twee kon dit heeltemal glo, dat, in hierdie rustige en leë omgewing, die gebeurtenisse van die nag werklik plaasgevind het nie.

Die aankoms van die daeraad is deur die geklingel van bokklokkies in die valleie van die voorheuwels wat aan die ontwaak was, aangekondig. Net bokant ons, kon ons die wit huise van Anoyeia sien, wat soos ’n fort boaan die hoë  trook rotshange uitgesprei was.


Next

Previous