Selfs Soos ’n Orang-Oetang

Posted on March 23, 2018 by Cape Rebel

Uit ‘Reminiscences’
In A Cask of Jerepigo

deur Herman Charles Bosman

 

Verlede week was ek vir ’n paar dae besig om koerante en tydskrifte in ou lêers deur te gaan, om ’n versameling van stories wat ek oor die afgelope vyftien jaar geskryf het, te maak.

Toe ek weer van sommige van die Marico-bosvelstories wat ek so lank gelede as in die vroeë 1930ger jare geskryf het, gelees het, was ek verras om te sien hoe intiem my kennis van die lewenswyse op Suid-Afrikaanse plase was. Ek was net so verbaas oor my vertroudheid met geskiedkundige gebeurtenisse – en die gees van die tye, en die betrokke persoonlikhede – wat in die ou Transvaal plaasgevind het.

~

Nietemin, met die noukeurige herdeurlesing van daardie stories, wat lank gelede geskryf is, het ek bewus geword van waar al die skilderagtigheid van die omgewing vandaan gekom het: dit het ek gekry deur na die geselsery van bejaarde boere in die Marico-distrik te luister. Hulle het oor ’n hele klomp inligting, wat hulle nie meer vir hulself nodig gehad het nie, beskik en wat hulle bereid was om met graagte aan ’n vreemdeling oor te dra. Dit was alles inligting wat, uit ’n wetenskaplike oogpunt, streng gesproke waardeloos was.

Dit is waar ek alles oor die Eerste en Tweede Boereoorloë geleer het. En oor die stamoorloë. En oor die moeilikhede in die ou dae tussen Transvaal en die Oranje-Vrystaat. En oor die Republiek van Ohrigstad. En oor die Stellalandse Republiek. As enige hedendaagse Suid-Afrikaanse geskiedkundige daarvan sou hou om sommige vergete inligting oor gebeurtenisse in die vroeë dae van die Suid-Afrikaanse Republieke te kry, kan ek hom met al die feite wat hy nodig het, voorsien. En nog belangriker, met heelwat surplus inligting benewens blote feite.

Ek het die ou Boere, wat twintig jaar terug in die Marico-distrik geboer het, as wonderlike storievertellers beskou. Die meeste van hulle het in 1917 na daardie deel van Transvaal, langs die Betsjoeanalandse protektoraat, getrek. Dit was daardie deel van Transvaal wat so te sê, sedert die Anglo-Boereoorlog, onbewoond gebly het. Ek kan steeds van die Boere wat gedurende daardie dae in die Marico gewoon het, duidelik onthou. Ek was vir ’n rukkie daar as ’n skoolonderwyser. Ek kan maar net hoop dat die inligting wat ek aan die kinders oorgedra het, by wyse van lees, spel en rekenkunde, in ’n geringe mate, net so betekenisvol was as die feite wat deur hulle ouers, vir wie ek oor naweke gaan kuier het, aan my meegedeel is.

Ek onthou van ’n ou oom, oom Geel, wat ’n Kaapse rebel was, en wat toe nog steeds brokstukke van ’n rooi-gestreepte trui vertoon het, wat hy as ’n krygsgevangene in Bermuda gedra het.

Oom Geel het gesê dat die Engelse hom nie beskou het as ’n gewone krygsgevangene nie, maar as ’n prisonier, en daarom is hy na Bermuda toe gestuur, in plaas van na St Helena toe. En hy het gesê dat, toe hy ná die Boereoorlog na Suid-Afrika toe teruggekeer het, die eertydse Vrystaat en Transvaalse burgers, wat fatsoenlike, respektabele krygsgevangenes op St Helena was, gewoonlik met agterdog na hom gekyk het, asof hy ’n sakkeroller was wat hulle sou gaan besteel, ensovoorts, want hy het ’n gestreepte gevangenetrui in Bermuda gedra. Ek onthou nog die gelaggery, wat altyd op hierdie ernstige mededeling van oom Geel, gevolg het.

Ou oom Geel het ’n baie lang seun, At, gehad, en ’n korter seun, Jan, en ’n groot aantal kleinkinders. En daar was ’n familie met die naam Bekker wat op ’n plaas, Drogedal, gewoon het. Dit het gelyk of die plaas die grootte van ’n hele distrik was.

Ek weet nie hoe groot die plaas presies was nie, maar in latere jare, toe ek vir ’n opvoedkundige onderneming in Londen gewerk het, moes ek onderhoude voer met die skoolhoofde in die Engelse suidelike graafskappe. Ek onthou toe ons nader aan Tunbridge Wells of Sevenoaks gekom het, en die bestuurder van die kar my gevra het: “Wat dink jy, is ons nou in Sussex of in Surrey, of miskien in Kent?” Toe het ek by myself gedink: “Ai tog, al hierdie graafskappe bymekaar, is kleiner as die grootte van die Bekkers se plaas in die Marico.”

Daar was ’n Afrikanerfamilie met die naam Flaherty, by wie ek geloseer het. En die ou meneer Flaherty het my gereeld met ontbyt welkom geheet met die groetnis: “Die beste van die môre”, en dit het my ’n hele ruk geneem om te besef dat hierdie woorde ’n tradisionele familiegroet is, wat ’n letterlike vertaling moes wees van wat die familie se oorspronklike Ierse voorvader, die eerste Suid-Afrikaanse Flaherty, uit gewoonte met ontbyttyd moes gesê het: “Top of the morning to you”.

Ek moes seker die meeste van die families wat in daardie besondere tyd in die Marico gewoon het, geken het, en party van daardie boere het die interessantste stories gehad om te vertel – allerhande ongewone gebeurtenisse is op ’n nugter en droë wyse oorgedra. Dit wat hulle ook al gehad het om te vertel, het my bewussyn, my gees, ingedrink, mits dit van ’n genoegsame nuttelose orde was.

Daar was die legende van ’n spookgedaante, in die vorm van ’n wit donkie, wat in die poort op die pad na Ramoutsa gespook het. As jy, so teen middernag, deur die donkerste deel van die poort beweeg het, daar naby waar die pad om ’n klomp maroelas geloop het, kon jy verseker ’n verskynsel in die vorm van ’n wit donkie teenkom. Sy voorbene was deeglik in die middel van die pad geplant, maar niemand was heel seker waar die agterbene geplant was nie – want die reisiger, so op sy eie, sou presies omtrent daardie tyd, besluit het om terug te draai.

(Ek het omtrent twee jaar gelede daardie deel van die Marico weer besoek. Die klomp maroelas aan die kant van die regeringspad, is sedert daardie dae afgekap. Maar die donkie is nog daar.)

~

Tussen die honderde ander stories wat ek in die Marico gehoor het, was ’n eerstehandse vertelling deur ’n ou man, wat ’n burger in daardie besondere kommando was, oor die eksentrieke klerebewustheid van ’n sekere Boerekommandant. Hierdie kommandant was baie puntenerig oor sy voorkoms, en het altyd gestyfde hemde en mouboordjies  gedra. Dit het nie saak gemaak hoe ongunstig die toestande was waaronder die kommando sy bewegings uitgevoer het nie – om gedurig van die vyand af weg te gejaag het, of om deur riviere in vloed onder vyandelike vuur deur te waad, of om oorgang tussen blokhuise te bewerkstellig – elke Maandagoggend was wasdag, met die burgers wat moes laertrek langs ’n spruit of ’n dam (of ’n jakkalsgat met modderige water op die bodem) terwyl die kommandant toesig gehou het oor die gewassery, gestyselry en gestrykery van sy linne deur die agterryers. Dit was nie dat hy persoonlik oormatig puntenerig oor sulke dinge was nie, het die kommandant verduidelik, maar dit was nodig vir die aansien van die Boere op die slagveld dat ’n kommandant nie soos ’n Bapedi moes lyk nie.

My informant, ’n burger in hierdie kommando, het gesê dat hy nooit kon voel dat die kommandant se argumente enige gewig gedra het nie. Wat homself betref het, kon hy nie omgee of hy soos ’n Bapedi gelyk het nie, of soos ’n Msjangaan, of selfs soos ’n orang-oetang nie, het hy gesê, so lank as wat hy nie geskiet word nie. Maar die kommandant was ’n bekwame offisier, het hy gesê, en die burgers het hom vertrou en na hom opgekyk, hoewel hulle in hulle toiings bewus was van ’n soort gevoel van minderwaardigheid, langs die kommandant se gestyfde luisterrykheid. Daar is opgemerk dat, wanneer die kommandant ’n veldkornet direk aangespreek het, en hom opdragte gegee het, die veldkornet dan sou sê: “Ja, Kommandant,” maar tussenin sou hy daar ongemaklik gestaan, en rondskuifel het.

Daar was iets moois, het ek gedink, aan die manier wat die kommandant sy magte ingelei het in die Noord-Kaapse dorpie, waaruit die Engelse so pas teruggetrek het. Hy het dit baie stylvol gedoen. Hy het sy beste gestyfde hemp vir die geleentheid gedra. En hy het baie regop op sy perd gesit, daar waar hy voor sy kommando gery het, terwyl daar af en toe nog ’n verdwaalde koeël by die pad afgefluit het.

Dit was eers toe hulle by die kerkplein, in die middel van die dorp,  aangekom het, dat die burgers besef het, deur sy gestyfde hemp wat pap gehang het, en nie meer wit was nie, dat hulle kommandant nie meer aan hulle voorpunt sou ry nie.


Next

Previous