Rats, Vinnig En Fyn Afgerond

Posted on September 07, 2017 by Cape Rebel

Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor

Die plan was besig om vorm aan te neem. Ek en Billy sou soos korporaals van die Feldpolizei aangetrek wees, en die kar so stop. Soms, maar baie selde, was daar ’n motorfietseskort; en soms het ander karre hom begelei. Sulke gebeurtenisse, gegewe dat die hinderlaag ’n sukses sou wees, sou ’n klomp moeilik hanteerbare gevangenes in ons hande laat beland, tensy die aanval van stapel gestuur of afgelas kon word op die basis van onmiddelike inligting. En daar was altyd die gevaar dat die verkeerde kar gestop sou word.

~

Die risiko van verbygaande verkeer – moontlik trokke vol troepe – het onopgelos gebly. Hier sou ons dan moes terugval op improvisasie, geluk, spoed en donkerte, en sou die ergste gebeur, skynaksie deur ’n groep van ons guerrillas – nie-noodlottige skote wat afgevuur kon word, orals ligfakkels, ’n geskreeuery, muilkarre, en stompe wat skielik die pad kon blokkeer en verwarring veroorsaak, sodat ons wegkomplan met ons prys ongesteurd uitgevoer kon word. Met weerwraakmaatreëls steeds in gedagte, sou ons slegs as ’n laaste uitweg skiet. Dit was noodsaaklik vir ons om in die berge tussen vriende weg te kom, weg van die vlaktes waar dit gewemel het van die vyand, en in die regte rigting om teen ’n hoë spoed seewaarts te ontsnap.

~

Ons planne was nog vol leemtes en probleme. Ek het die volgende paar dae in Herakleion saam met Micky en Elias en van ons ander ou helpers geblyen ek het briewe aan ons basis  teruggestuur om Billy en die res van die span op te beur. Ek het van die een vriend se huis na die ander verskuif terwyl ek tussen skemer en die aandklokreëling  die strate, ingange en uitgange van die reuse ommuurde dorp verken het. Vaagweg het ’n onortodokse manier van wegkom vorm begin aanneem. Elke af en toe was daar geheime vergaderings, nie direk in verband met die operasie nie, maar met die groep in beheer van die weerstand en die netwerk van inligting in die stad – dokters, tandartse, regsgeleerdes, onderwysers, skoolhoofde, reserwe-offisiere, vakmanne, amptenare en studente van beide geslagte, winkeliers en geestelikes, wat ook die Metropolitaanse Eugenie homself ingesluit het – en besoeke aan ander kelders, wat deur weggesteekte deure en geheime ingange bereik kon word, waar ’n toegewyde span die BBC-nuus herdupliseer het vir hand-tot-hand verspreiding. (Eienaars van gewone draadloosstelle is ter dood veroordeel.)

Ná maande in die berge, was daar iets verfrissend aan dié afdaling na die leeu se lêplek: die vlae met die swastika wat oral gewapper het, Duitse geselsery in ’n mens se ore, en die onophoudelike skouergeskuurdery in die strate met die soldate van die vyand. Die buitekant van die Gestapo-hoofkwartier in besonder, wat die ondergang van baie vriende beteken het, het ’n onheilspellende fassinering ingehou.

Terug by Knossos was ek en Micky besig om met sy vriende in ’n “veilige” huis te gesels toe drie Duitse sersante ingeslinger gekom het, ietwat onder die invloed met die viering van Pase. Wyn is uitgehaal; en Micky het die Engelse sigarette (wat Billy ingebring het) wat hy hulle per abuis aangebied het, probeer wegpraat as swartmark-buit, afkomstig van die slag in die Dodekanesos. ’n Vloed van wyn het hierdie contretemps laat verdamp, wat opgevolg is deur pogings om hulle ’n Kretense pentozali te leer dans, lomp en beeragtig deur ons gaste nageboots, waaraan ons almal deelgeneem het.

Voor ons weer by die ander in die berge aangesluit het, het ons by ’n veewagter en sy trop ’n laaste keer na Punt A gaan kyk, toe ’n groot kar stadig om die hoek aangery gekom het. Daar was driehoekige vlae op al twee die modderskerms, een uit blik gemaak met rooi, wit en swart strepe, die ander vaalgrys, met ’n vernikkelde raam en geborduur met die Wehrmacht se arend in goue draad. Binne in, langs die chauffeur, onmiskenbaar van die goud in sy hoed, die rooi skouerlussies met die goue eikeblare, die baie dekorasies en die Ridderkruis van die Ysterkruis met ’n lint om sy nek – het die generaal homself gesit: ’n breë bleek gesig met ’n uitstaande ken en blou oë. Ek het gewaai. Terwyl hy ietwat verras gelyk het om so ’n ongewone gebaar van ’n veewagter langs die pad te sien, het die generaal plegtig in herkenning sy gehandskoende hand opgelig, en ons het mekaar in die oë gekyk. Dit was ’n rare, koddige oomblik en, het ons gedink terwyl ons die kar sien verdwyn het, ’n goeie voorteken.

~

Uiteindelik het ek op 16 April teruggekeer na die skuilplek toe. Dit was die Ortodokse Paassondag, die grootste feesdag van die Griekse jaar. Almal was opgeruimd en uitgelate. Daar was ’n hele paaslam besig om te braai, en ’n karba wyn, vir ons om ons reünie en die Ortodokse Paassondag te vier met ’n fees en sang en dans. Talle rooigeverfde hardgekookte eiers was teen mekaar gestamp soos wildekastaiings met uitroepe van “Christus het opgestaan” en “Hy het inderdaad opgestaan”. Die eiers wat oorgebly het, is in ’n ry staangemaak en afgeskiet vir pistooloefening. Ná hulle almal flenters was, ná elke heildronk, is die magasyne van die pistole vrolik die lug in leeggeskiet ter ere van die Opstanding. Hoewel al die canyons die eggo’s in die verte laat weergalm het, was die lawaai in hierdie duiselingwekkende wildernis heeltemal veilig. Die Kretensers het in elk geval altyd maar skote afgetrek.

Ek was jammer dat niemand ’n lier gehad het nie – die ligte Kretense viool, of liewer Rebeck, met drie snare, uit beukehout gekerf en wat op die knie met ’n halfsirkelboog gespeel word – omdat George ’n uithaler speler was. Siphoyannis het egter ’n hele klomp naburige veewagters saamgebring, en die gedans op die wysie van ons liedere, beklemtoon deur die klap van hande, was rats, vinnig en fyn afgerond.


Next

Previous