Ordeloos en verward in die donker

Posted on March 23, 2018 by Cape Rebel

Uit “Mafeking Road”
In Mafeking Road

deur Herman Charles Bosman

 

Na ’n paar dae het ons by Mafeking aangekom. Ons het ’n lang ruk daar gebly, totdat die Engelse troepe opgedaag het en die plek ontset het. Toe is ons daar weg. Ons het die plek gou verlaat. Die Engelse troepe het ’n hele klomp artillerie saamgebring. En as ons probleme gehad het om die pad na Mafeking te vind, het ons geen probleme gehad het om die pad weg van Mafeking af te kry nie. En hierdie keer het ons veldkornet ook nie ’n Mshangaan nodig gehad om met sy vinger te wys waarheen ons moes gaan nie. Selfs al het ons baie gedurende die nag gery.

Lank daarna het ek met ’n Engelsman hieroor gepraat. Hy het gesê dat dit hom snaaks laat voel het om die anderkant van die storie van Mafeking te hoor. Hy het gesê dat daar ’n groot gejuig van vreugde in Engeland opgegaan het met die ontsetting van Mafeking, en dit was vreemd om aan die ander aspek daarvan te dink – van ’n verslane land en van verwarde kommando’s wat ordeloos in die donker mistas en verknoei.

Ek onthou baie dinge wat op die pad terug van Mafeking af, gebeur het. Daar was nie ’n maan nie. En die sterre het onrustig neergeskyn op die pad wat vol gewere was, en verskrikte perde, en wanhopige manne. Die veld het gedreun met die hoefslae van verbysterde kommando’s. Die sterre het swaarmoedig neergekyk op tonele wat van ’n nasie se vernietiging vertel het; hulle het op die lope van Mausers, wat vir die eerste keer Transvaal in die steek gelaat het, geskyn.

As ’n burger van Transvaal het ek natuurlik geweet wat my plig was. Dit was om so ver as moontlik weg te kom van die plek af waar, met sononder, ek laas die Engelse artillerie gesien het. Die ander burgers het ook hulle plig geken. Dit was nie nodig vir ons kommandante en veldkornette om veel opdragte te gee nie. Hoewel ek vinnig gery het, was daar nietemin ’n jong man wat vinniger as ek gery het. Hy het die hele tyd voor my gebly. Hy het gery soos ’n burger moes ry wanneer daar verdwaalde koeëls om jou kon vlieg – met sy kop behoorlik laag gehou, en met sy arms amper om die perd se nek.

Hy was Stephanus, die jong seun van Floris van Barnevelt.

’n Ruk daarna was daar groot gemor en ontevredenheid, toe ons leiers ’n poging begin aanwend het om weer orde te bewerkstellig. Uiteindelik het hulle daarin geslaag om ons tot stilstand te bring. Maar die meeste van ons het gevoel dat dit ’n dom ding was om te doen. Veral omdat daar op ’n onverskillige manier nog ’n klomp geskietery oral om ons aan die gang was, en ons kon nie sê hoe ver die Engelse ons in die donker agtervolg het nie. Verder het die kommando’s in soveel verskillende rigtings gespaander dat daar geen manier was om hulle weer bymekaar te kon kry nie – tot ná die oorlog. Ek en Stephanus het afgeklim en by ons perde gestaan. Gou was daar ’n hele klomp stryders om ons. Hulle gedaantes het vreemd en skaduweeagtig in die sterlig gelyk. Sommige van die manne het langs hulle perde gestaan. Ander weer het op die gras langs die pad gesit. “Vas staan, burgers, vas staan,” kon die opdragte van die offisiere gehoor word. En die hele tyd deur kon ons dit, wat soos ’n groot klomp plofstof geklink het, hoor.

“Die volgende wat hulle sal wil hê,” het Stephanus van Barnevelt gesê, “is vir ons om terug te gaan Mafeking toe. Miskien het ons kommandant sy twaksak daar laat lê.”

Party van ons het oor dié opmerking gelag, maar Floris, wat nog op sy perd gesit het, het gesê dat Stephanus homself moes skaam om so te praat. Van wat ons van Floris in die donkerte kon sien, het hy nogal heel indrukwekkend gelyk, daar waar hy regop in die saal gesit het, met die sterlig wat op sy baard en geweer geskyn het.

“As die veldkornet vir my sê om terug te gaan Mafeking toe,” het Floris gesê, “sal ek teruggaan.”

“Dis hoe ’n burger moet praat,” het die veldkornet met ’n gevoel van gevleidheid gesê. Want hy het maar min gesag gehad sedert ons uitgevind het waarom hy met die Mshangaans op pad Mafeking toe gepraat het.

“Ek sal vir niemand weer teruggaan Mafeking toe nie,” het Stephanus geantwoord, “behalwe miskien om myself te gaan oorgee aan die Engelse.”

“As jy dit doen kan ons jou skiet,” het die veldkornet gesê. “Dis teen die krygsreg.”

“Ek wens ek het iets van die krygsreg af geweet,” het Stephanus geantwoord. “Dan sou ek ’n vredesverdrag tussen Stephanus van Barnevelt en Engeland optrek.”

’n Paar van die manne het weer gelag. Maar Floris het sy kop net droefgeestig geskud. Hy het gesê dat die Van Barnevelts dapper teen Spanje geveg het – in ’n oorlog wat tagtig jaar aangehou het.

~

Skielik het daar uit die donkerte die skerp geknal van geweerskote opgeklink, en ons manskappe het weer onrustig begin voel. Maar die klank van die geskietery het Stephanus laat besluit.

“Ek gaan terug,” het hy gesê. “Ek gaan hensop teen die Engelse.”

“Nee, moenie gaan nie,” het die veldkornet ietwat halfhartig gesê, “of wag ten minste tot môreoggend. Hulle mag jou per ongeluk in die nag doodskiet.”

Soos ek gesê het, die veldkornet het maar min gesag gehad.

~

Twee dae het verbygegaan voordat ons Floris van Jaarsvelt weer gesien het. Hy was vermoeid en het onrustig gelyk. Hy het gesê dat dit baie moeilik was om ons weer op te spoor.

“Jy moes ’n Mshangaan gevra het,” het een van ons kêrels al laggende gesê. “Al die Mshangaans ken ons veldkornet.”

Maar Floris het niks gesê oor wat daardie nag gebeur het toe hy in die sterlig agter sy seun aangejaag het nie. Hy het op hom geskree om ’n man te wees en vir sy land te veg. En Floris het nooit weer Stephanus se naam daarna genoem nie – sy seun was dit nie werd om ’n Van Barnevelt te wees nie.

~

Daarna het ons uitmekaar gegaan. Ons veldkornet was die eerste een om gevange geneem te word. En ek het dikwels gedink dat hy seker baie alleen in St Helena moes gevoel het – want daar was geen Mshangaan daar vir wie hy kon vra waar die pad uit die kamp met die doringdraadheining was nie.

Toe het ons leiers uiteindelik by Vereeniging vergader, en is daar vrede gesluit. En ons het na ons plase toe teruggekeer, verlig dat die oorlog verby was. Maar ons harte was swaar toe ons daaraan gedink het dat dit alles tevergeefs was, en dat die Vierkleur nooit weer oor Transvaal sou wapper nie.

En Floris van Barnevelt het die afdruk van sy familieboom, wat hy regdeur die oorlog saam met hom in sy knapsak gedra het, teruggesit op sy plek teen die muur van sy voorkamer. Toe het die nuwe skoolonderwyser na hierdie deel van die Marico gekom, en ná hy en Floris lank met mekaar gepraat het, het die skoolonderwyser agter Stephanus se naam, tussen twee geboë lyne, die woorde wat jy nog steeds daar kan lees, geskryf: “Obiit Mafeking”.

As jy derhalwe enige persoon in daardie wêreld vra wat “obiit” beteken, sal hy jou dadelik kan vertel dat dit ’n uitlandse woord is, en dat dit beteken dat jy aanry Engelse toe, met jou Mauser in die lug en ’n wit vlag daaraan vasgemaak – naby die loop.

Dit was lank daarna dat Floris van Barnevelt sy storie begin vertel het.

Maar toe het niemand na hom geluister nie. En hulle wou nie toelaat dat hy vir die Drogevleise Skoolkomitee genomineer word nie – op gronde daarvan dat ’n mens bietjie mal in jou kop moet wees om op so ’n onverantwoordelike manier te praat.

Maar ek het geweet dat Floris ’n goeie storie gehad het, en dat die enigste fout was dat hy dit sleg vertel het. Hy het die Drogevleise Skoolkomitee te vroeg genoem. En hy het die as uit sy pyp op die verkeerde plek in die storie, uitgeklop. En hy het altyd daarby volhard dat hy daardie deel van die storie wat hy moes uitlaat, vertel het.


Next

Previous