Uit Spain In Our Hearts
deur Adam Hochschild
Click Here to Play Podcast
Dit was maklik vir die eerste golf Amerikaners om Spanje te bereik. ’n Groot struikelblok het egter opgeduik toe Frankryk in Maart 1937, onder die druk van ’n Britse regering met ’n klomp Franco-simpatiseerders, sy grens gesluit het vir alle militêre ondersteuning vir Spanje. Oorgangspunte is toegerus met masjiengewere en soekligte. Gewapende wagte met honde het die landsgrense begin patrolleer. Van toe af het dit beteken dat dit nodig was vir alle internasionale brigades van vrywilligers wat Spanje wou bereik, om ’n lang, veeleisende klimtog in die geheim te onderneem – gelei deur Baskiese smokkelaars, oor ’n ewig veranderende netwerk van sneeubedekte voetpaadjies wat die Pireneë deurkruis het.
Hierdie berge, wat vir meer as 11,000 voet die hoogte inskiet, is, afgesien van die Alpe, die formidabelste natuurlike muur in Wes-Europa. Hulle kruine vorm die grens tussen Frankryk en Spanje. Vir amper die hele lengte van die bergreeks, laat slegs ’n paar passe die reisiger toe om van een land na die ander op ’n hoogte van minder as 6,500 voet, die berge oor te steek – en die passe het almal grensbeheerposte gehad. Dié verbode terrein, deur gletsers uitgekerf – en vandag ’n skouspel van ski-oorde – het verseker dat sommige Amerikaanse vrywilligers sou omkom selfs voordat hulle die oorlogsone bereik het.
Toe Sandor Voros, ’n Hongaarse Amerikaner afkomstig uit Ohio, daardie lenteseisoen die berge oorgesteek het, het sy groep die aand ver bokant die plantasielyn met ’n kronkelende roete begin stap. By ’n sekere plek “het die gids skielik gestop en sy wandelstok omhoog gehou. Ons het almal stil gaan staan. Honderde voete laer as ons het daar bewegende ligte rondgedobber – die grenspatrollie! … Ons het by die gids gepleit om stadiger te loop, maar hy het net sy kop geskud en genadeloos aangehou met klim. In my bors het ’n vurige ysterband my longe vasgeklem, en die druk het met elke asemtog stywer gespan. My oë het begin opswel, en ’n aar agter my oor het begin om soos ’n moltrein op sy spore te klop.”
Toe die groep vir ’n rukkie gaan staan het om te rus, was Voros te uitgeput om uit die stroompie van gesmelte sneeu, waarin hy skynbaar gaan lê het, te beweeg. “Ons het regdeur die nag verder geklim, en teen dagbreek was ons in die sneeulyn. … Ons was in ’n land waar min mense al ooit geloop het, ’n land van rotse en steiltes en sneeubedekte pieke waar daar geen teken van enige plantegroei, voëls of diere was nie. … Skielik het die gids taamlik ontsteld opgespring. Hy het ons gevra om op te staan en ons is toe gou getel. Daar was net sestien. Een van ons kamerade, ’n Duitser, was nie daar nie.”
Vir meer as ’n uur lank het die gids op die groep se spore teruggestap, en toe teruggekeer. Die Duitser was skoonveld. Ten spyte van die beswaarmakery, het hy daarop aangedring dat hulle aanbeweeg. Die vrywilligers het sneeu geëet om hulle dors te les, en daar was nie kos nie. Die meeste van hulle het net gewone skoene gedra, en hulle sopnat voete was rou en vol blase. Toe hulle die tweede nag om ’n vuur gesit het, het ’n veewagter daar opgedaag met die nuus dat ’n Franse patrollie op hulle hakke was. Met moeite het die manne hulle geswelde voete in hulle skoene gekry. Toe hulle in die donker op ’n paadjie oor ’n nou rotslys geloop het, het Voros ’n geskreeu gehoor – ’n Poolse vrywilliger het oor die kant van die rotse afgeval.
Hulle het tot dagbreek gewag. Hierdie keer was die gids vir twee ure weg, maar weer eens kon hy nie die man of sy liggaam opspoor nie. Teen die einde van die dag kon hulle darem brood en kaas by ’n klein nedersettinkie koop, en toe het hulle vir die derde nag aanbeweeg.
Terwyl hulle oor ’n stuk smeltende en verbrokkelende sneeu onderkant ’n bergkruin geloop het, het Voros op die paadjie gestruikel en teen die skuinste afgegly. Hy kon net sy val stop deur aan ’n bos wat by die sneeu uitgesteek het, vas te gryp. Tot sy ontsteltenis het hy die res van die groep sien aanbeweeg, en het hy te ver van hulle af geval om te kon hoor wat hulle geskree het. Uiteindelik, ná hy alle hoop laat vaar het, het hy twee Amerikaners op pad na hom toe opgemerk. Weer terug op die voetpad, het hulle alles uitgehaal om die res van die vrywilligers in te haal. Die drie moes verskeie kere tot by hulle middel deur bergstrome waad met hulle skoene se veters aanmekaar vasgemaak en om hulle nekke gehang. Net voor aandskemer aan die einde van die derde dag, het ’n pad en hutte sigbaar geword: Spanje.
In die maande wat voorgelê het, het hierdie reis oor die berge die lewens van, na raming, 200 vrywilligers geëis.
Next →
← Previous