Uit Koljander, koljander, so deur die Bosch
deur Annatjie Melck
In 1981 het Gerhard Froneman na ons toe gekom en gesê onder in Dorpstraat was daar ’n winkel wat na ’n eienaar soek. Die winkel was bekend as “XL Store”. Volgens ons vriend, wat vir doktor Anton Rupert se Historiese Huise gewerk het, was dit een van die ou winkels op Stellenbosch, ’n regte ou algemene handelaar soos die ou dorpswinkel van jare gelede.
Ek stel belang in enigiets wat oud is en wat ’n storie kan vertel. Ek het ’n paar vriendinne genader en saam het ons die winkel gehuur; en twee jaar later die perseel met winkel en al gekoop. Dit was een van die onverantwoordelikste dinge wat ek ooit in my lewe gedoen het.
Professor Frans Smuts het my gevra of ek weet wie se winkel ons gekoop het. Ek het nie geweet nie. Hy het vir my vertel dat dit oom Samie se winkel was.
Wie was oom Samie? Ek het nie ’n benul gehad nie en het die winkel se geskiedenis laat navors, en so het ek dan vir oom Samie ontmoet, postuum! Hy het my so beïndruk dat ek dadelik die naam van die winkel verander het na Oom Samie se Winkel.
Oom Samie was ’n filantroop. Hy was kreupel en kon nie harde werk doen nie. Sy ouers het die winkel in 1904 vir hom gekoop. Die winkel staan vandag nog op dieselfde perseel en die gebou is net soos oom Samie dit bewoon en bedryf het as CJ Volsteedt Algemene Handelaar.
Oom Samie was bekend vir sy goedhartigheid en dat hy vir die klante wat swaargekry het altyd iets ekstra by hulle inkopies ingepak het. Ek het besluit om met die samewerking van my vennote die winkel se styl en emosie te laat herleef. Die winkel het ’n emosie, dit ruik na tabak en suiker en soutvis en kruie en speserye. Die winkel bring ’n glimlag op die gesig van die besoeker aan Stellenbosch, dit bring ’n nostalgie terug van dae en lewe lank verby.
Oom Samie se Winkel het vir my ’n lewensboei geword. Ek is verantwoordelik vir die mense wat vir my werk; ek kan nie bly lê nie, ek moet elke dag opstaan, aanmoedig en dankie sê. Ons probeer die tradisionele kosse soos bokkoms, suurvyekonfyt, heuning, borssuiker, afval, skaapkoppe, rooibostee, en nog meer aanbied. Oom Samie is vandag die oudste winkel in Stellenbosch wat nog steeds op dieselfde perseel en in dieselfde gebou handel dryf. In 2015 was Oom Samie se Winkel 110 jaar oud.
’n TV-span het daarvan te hore gekom en gevra of hulle ’n storie oor die winkel en sy mense kon doen. Die program was min of meer twee maande later op die lug. Terwyl die TV-span in die winkel was, het die aanbieder my gevra om ’n interessante storie te vertel van goed wat in die winkel gebeur het. Een storie wat onmiddelik in my geheue opgekom het, was die een van die veldskoene.
Daar hang ’n paar ou veldskoene in my winkel, en die storie gaan so: ’n Man wat met ’n klomp maters op ’n rooiwyntoer was, het met sy ou veldskoene ingestap, vir hom ’n paar skoon skoene van die rak gehaal, dit aangetrek, sy ou skoene opgehang en vertrek, sonder om te betaal.
Sowat ’n maand nadat ek die storie op TV vertel het, kry ek ’n briefie in my kantoor: “Toe ek in 1988 as ’n jong man op ’n rooiwyntoer in Stellenbosch was saam met ’n paar vrinne en Oom Samie besoek het, het ek gesien daar is nuwe vellies – ek het my ou vellies uitgetrek, ’n nuwe paar aangetrek en my oues op dieselfde plek opgehang.”
Dié perd se vriende het die program oor Oom Samie op TV gesien en hom gebel en gesê hy moet sy skoene loop betaal. Met die gevolg dat ek in my kantoor kom en die briefie en kredietkaartstrokie van R600 daar aantref – hy het ná 26 jaar sy skoene kom betaal. Die man het sy selnommer gelos, en ek het gebel om dankie te sê. Hy woon op Bothaville.
Ek weet nie wat hy daardie naweek in Stellenbosch gedoen het nie, maar hy het vir my groot plesier en ’n glimlag in my hart gegee toe hy daardie skoene kom betaal het.
Next →
← Previous